2025-05-29
Psalm 126:6 NLV
As jy maklik huil, kan dit wees dat God vir jou ‘n bediening van trane gegee het. Wat is dit? Die skrywer Liz Curtis Higgs verduidelik: ‘Ek huil maklik en dikwels. Gelukkige trane, hartseer trane, trane oor ‘n advertensie – enige plek en enige tyd. Ek huil by die kerk. Wanneer ek ‘n wonderlike waarheid of ‘n heerlike lied wat in lofprysing opgehef word hoor, wanneer ek ‘n nuwe gelowige na vore sien kom of ‘n ou gelowige die Skrif sien lees, word ek so deur God se teenwoordigheid oorweldig dat trane oor my wange stroom. Ek het al daarmee vrede gemaak, maar baie vroue skaam hulle oor hul huilerigheid.
‘n Dierbare vrou in Missouri het gedink dat haar trane ‘n struikelblok is om God te dien. Sy het verduidelik: ‘Ek wil mense wat seer het help, maar sodra ek hulle stories hoor, begin ek huil.’ Ek het haar ‘n groot drukkie gegee en gesê: ‘Jy het ‘n bediening van trane! Die Bybel sê: ‘…As hulle hartseer is, deel dit met hulle’ (Romeine 12:15 NLV), en ‘…om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het’ (2 Korintiërs 1:4 NLV). Jou trane maak nie seer nie, dit help!’ God kan enigiets wat ons aan Hom oorgee, gebruik. Lag en trane. Vreugde en hartseer. Oorwinnings en foute. Sterkpunte en swakpunte. Ons dien ander die beste wanneer ons ons ware self aanbied. Wanneer ons nie wag totdat ons op die regte plek is of ons trane opgedroog het nie, maar in die oomblik, trane en al.’
Eendag gaan God ‘…elke traan van [ons] oë afvee…’ (Openbaring 21:4 NLV). Tot dan, is ons trane egter so kosbaar vir Hom dat Hy dit, soos duur wyn en kosbare parfuum, in ‘n bottel bewaar (sien Psalm 56:9).
Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10
2025-05-28
Filippense 3:14 NLV
Sielkundiges sê dat die grootste invloed op ons toekoms dikwels ons verlede is. Paulus sê egter vir ons om die verlede te vergeet en te fokus op: ‘…dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys…’ (verse 13-14 NLV).
Een berader skryf: ‘Ek weet jy is moeg, oorweldig en voel of hierdie moeilike tyd vir ewig gaan duur. Dit sal nie. Jy is amper daar. Jy is getoets en weer getoets oor wat jy geleer het. Jou geloof is deur vuur gelouter. Meer probleme het voorgekom as wat jy verwag het. Jy het dit nie beplan nie, maar dit was goed vir jou. ‘n Deel van jou het dit aangevoel selfs toe jou kop vir jou gesê het dat dinge uitmekaar val, dat jy nie ‘n plan daarvoor het nie, dat God jou vergeet het. Elke voorval – die pynlikste, kommerwekkendste, verrassendste – hou verband met mekaar.’ ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe’ (Romeine 8:28 NLV).
Die berader gaan voort: ‘Dinge was bedoel om op hierdie manier te gebeur. Jy het nie geglo dit sou so lank neem nie, maar dit het. Jy het geduld aangeleer. Nou val dinge in plek. Jy is amper aan die einde van hierdie moeilike deel van die reis. Jy het al ‘n berg geklim. Nou is jy naby die bopunt van die berg. Net nog ‘n oomblik en die oorwinning sal joune wees. Ruk jou skouers reg. Haal diep asem. Beweeg in vertroue vorentoe. Die tyd kom om alles waarvoor jy geveg het, te geniet. Jou stryd was nie verniet nie. Daar sal nog berge wees, maar nou weet jy hoe om hulle te klim.’
Sielskos: Op 5-9; Mark 10:23-34; Ps 121; Spr 12:23-24
2025-05-27
Spreuke 16:24 NLV
Lees die volgende: ‘Ek onthou toe ek jou nuwe kar bestuur en dit afgeskryf het. Ek het gedink jy sou woedend wees en my nooit vergewe nie, maar jy het nie. Ek onthou toe ek strand toe wou gaan en jy nie wou nie, want jy het gesê dit gaan reën. Ons het gegaan, en dit het gereën. Ek was seker jy sou dit invryf en sê: ‘Ek het jou mos so gesê!’ Maar jy het nie. Dan was daar die tyd toe ek bloubessiesap op jou nuwe wit tuxedo gemors het. Ek het geweet jy sou ontsteld wees en my blameer. Maar jy het nie. Onthou jy daardie formele aand? Ek het my misgis en vir jou gesê dit is informeel. Jy het blou jeans gedra en soos ‘n vis uit die water gevoel. Ek was seker jy sou in woede uitstorm en my daar agterlaat. Maar jy het nie. Ek wou jou vertel hoe lief ek vir jou is en hoe baie ek jou vir al daardie dinge waardeer wanneer jy van Afghanistan terugkeer. Maar jy het nie.’
Moenie in die toekoms oor onuitgesproke woorde wat iemand moes hoor, spyt wees nie. ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe.’ Min dinge is so effektief soos die regte woord op die regte tyd. Aan die ander kant is woorde van vriendelikheid wat weerhou word, ‘n swaar las om mee saam te leef. Dis hoekom die Bybel sê: ‘Bekommernis rem ‘n mens af; bemoedigende woorde maak hom bly’ (Spreuke 12:25 NLV). Moenie toelaat dat skaamheid of ‘n vrees vir verwerping jou daarvan weerhou om te sê wat gesê moet word nie. Sê dit vir hulle terwyl jy nog kan.
Sielskos: Op 1-4; Mark 10:13-22; Ps 117; Spr 12:20-22
2025-05-26
Johannes 5:39 NLV
Om deur God gebruik te kan word, moet jy twee dinge weet:
1) Wie God is. ‘n Sondagskoolonderwyser het vir ‘n klein dogtertjie gevra wat sy teken. Sy het geantwoord: “‘n Prentjie van God!” Die onderwyser het gesê: ‘Maar niemand het Hom al ooit gesien nie.’ Vol selfvertroue het sy geantwoord: ‘Hulle sal wanneer my prentjie klaar is!’ Die enigste God wat sommige mense ooit sal sien, is die God wat hulle elke dag in jou sien. Om God te ken, moet jy tyd saam met Hom deurbring.
2) Wie jy is. Toe God vir Moses geroep het om Israel uit Egipte te red, het hy twee dinge vir God gevra:
a) “…’As ek by die volk van Israel kom en vir hulle sê: ‘Die God van julle voorouers het my na julle toe gestuur,’ sal hulle my nie glo nie. Hulle sal vra: ‘En wie is Hy?’ Wat moet ek dan vir hulle sê?’ God het hom geantwoord: ‘…Sê maar net vir hulle: ‘Ek Is het my na julle toe gestuur'” (Eksodus 3:13-14 NLV). Om te weet wie jy is, moet jy eers weet wie God is – dan sal jy geloofwaardigheid hê.
b) “…’Hulle sal my nooit glo nie! Hulle sal nie doen wat ek vir hulle sê nie…’ Toe vra die Here vir hom: ‘Wat het jy daar in jou hand?’ “‘n Herderstok,” antwoord Moses. ‘Gooi dit op die grond neer,’ het die Here vir hom gesê. Hy gooi dit toe op die grond en dit het ‘n slang geword… ‘Hulle sal hierdie teken glo,’ het die Here vir hom gesê. ‘Dit sal hulle oortuig dat jy die Here… ontmoet het'” (Eksodus 4:1-3, 5 NLV).
Moses het reeds alles gehad wat hy nodig sou hê! Jy het ook. Om deur God gebruik te kan word, moet jy weet wie Hy is en wie jy is.
Sielskos: 1 Kon 21-22; Mark 10:1-12; Ps 82; Spr 12:18-19
2025-05-25
1 Korintiërs 13:7 NLV
‘n Onbekende skrywer het hierdie aangrypende woorde geskryf: ‘Hul troufoto het hulle van die rak af gespot, hierdie twee wie se gedagtes mekaar nie meer aangeraak het nie. Hulle het met so ‘n swaar versperring tussen hulle begin leef dat nie ‘n ensiklopedie van woorde of ‘n artillerie van aanraking dit kon afbreek nie. Iewers, tussen die oudste kind se eerste tand en die jongste dogter se gradeplegtigheid, het hulle mekaar verloor.
Deur die jare het elkeen stadig daardie deurmekaar bol tou genaamd, self, ontrafel, en terwyl hulle aan hardnekkige knope geruk het, het elkeen sy soektog vir die ander verberg. Soms het sy snags gehuil en die fluisterende donkerte gesmeek om vir haar te sê wie sy is. Hy het langs haar gelê en snork soos ‘n beer wat hiberneer, onbewus van haar winter. Sy het ‘n kursus oor moderne kuns geneem, probeer om haarself in kleure wat op ‘n doek gespat is te vind en by die ander vroue oor mans wat onsensitief is, gekla. Hy het in ‘n graf genaamd ‘Die Kantoor’ geklim, sy gedagtes in ‘n kleed van syfers op papiere toegedraai en homself in kliënte begrawe.
Stadig het die muur tussen hulle verrys, gebou deur die sement van onverskilligheid. Op ‘n dag, terwyl hulle na mekaar uitreik, het hulle ‘n versperring gevind wat hulle nie kon binnedring nie. Hulle het teruggedeins van die klip se koue en elkeen het van die vreemdeling aan die ander kant teruggetrek.
Wanneer liefde sterf, is dit nie in ‘n oomblik van woedende baklei of wanneer vurige lywe hul hitte verloor nie. Dit lê hygend, uitgeput, vasgeval aan die onderkant van ‘n muur waaroor dit nie kon kom nie.’ Die woord is dus vandag vir jou: moenie toelaat dat ‘n muur tussen julle gebou word nie.
Sielskos: Eks 20:15; Eks 22:1-4; Spr 6:30-31; Luk 19:1-10
2025-05-24
Openbaring 4:10 NLV
Wanneer ons mense wat ons belangrik ag probeer beïndruk, word ons trofeeversamelaars. Ons dink: ‘Ek is belangriker omdat ek hierdie bekende mens ken.’ Allerhande objekte kan trofeë word: ons universiteitsgrade, die huis waarin ons bly, ons voorkoms, ons klere, komplimente en bevorderings. Daar is selfs webtuistes waar jy vir jouself ‘n trofeëvrou kan gaan uitsoek – ‘n vrou wie se skoonheid ‘n huldeblyk aan haar man se rykdom en invloed is.
‘n Trofee is enigiets wat jy besit wat ander mense laat ‘Wow!’ sê. Om egter vir trofeë te leef laat jou leeg, ongelukkig en moeg voel. Trofeë bring ‘n oomblik van geluk mee wat verslawend kan wees, maar die gevoel van geluk verdwyn altyd. Dit is opmerklik dat in die hemel, wanneer beelde soos krone gebruik word, mense dit voor die Here se voete sit in plaas daarvan om dit te dra. Wanneer jy die triomf, bewondering en eer weggee, bring dit vir jou vreugde. Wanneer jy dit egter versamel, word hulle dof, vervaag en word ‘n las.
Dis hoekom die Bybel sê: “val die 24 ouderlinge in aanbidding voor Hom wat vir altyd op die troon sit, neer. Hulle aanbid Hom wat vir altyd lewe en sit hulle krone voor die troon neer en sê: ‘U is waardig, Here ons God, om die hemelse heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alle dinge geskape het; deur u wil is alles wat bestaan, geskape'” (verse 10-11 NLV).
Enigiets goeds wat jy het, enigiets goed wat jy is en enigiets goed wat jy in die toekoms sal ontvang, kom alles van God af. Maak dus seker om vir God al die heerlikheid te gee.
Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Mark 9:38-50; Ps 113; Spr 12:15-17