Leer om te delegeer

2025-06-10
Handelinge 6:2 DB

Die Nuwe Testamentiese kerk het so vinnig gegroei dat die apostels oorweldig geraak het met die uitdaging om dit te bestuur. Wat het hulle dus gedoen? “Toe die twaalf apostels daarvan te hore kom, het hulle ‘n gemeentevergadering belê. ‘Dit is nie reg dat ons ons opdrag om die Woord van God uit te dra afskeep om vir die armes kos te gee nie,’ het hulle vir die gelowiges gesê. ‘Ons het nou die volgende plan: kies sewe mans uit julle geledere om hierdie werk by ons oor te neem… Hulle moet ook verstandig wees en vol van die krag van die Heilige Gees. Dan kan ons voortgaan met ons taak om te bid en om die Woord van God bekend te maak'” (verse 2-4 DB). Wat was die resultaat? ‘Die woord van God het verder versprei, en die aantal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem…’ (vers 7 NLV).

Jy kan jou lewenskwaliteit verbeter deur te leer hoe om te delegeer. Hier is hoe jy dit doen:
(1) Begin met ‘n taak wat jy tans verrig wat aan iemand anders oorgedra kan word.
(2) Identifiseer ‘n persoon met die vermoë (nie net die gewilligheid nie) om dit te doen.
(3) Neem tyd om die stappe neer te skryf en dit saam met die persoon deur te gaan.
(4) Verduidelik waarom die taak noodsaaklik is en hoe dit in die groter prentjie inpas.
(5) As die taak tydsensitief is, stel duidelike sperdatums vas.
(6) Stel jou verwagtinge duidelik.
(7) Evalueer die persoon se vordering op ‘n deurlopende basis totdat jy seker is dat hulle die werk sonder jou betrokkenheid kan hanteer. Help hulle vir ‘n rukkie en volg gereeld by hulle op om seker te maak hulle doen die werk reg. Dis hoe jy leer om te delegeer.

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Mark 13:24-37; Ps 80:12-19; Spr 13:13-16

Stel gebedslokvalle

2025-06-09
2 Korintiërs 10:5 NLV

Wanneer ons die vers: ‘…Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak’ lees, is ons geneig om te dink dat ons sondige gedagtes gevange moet neem en hulle uit ons gedagtes moet kry. Dit ís wat ons moet doen. Ons moet egter ook kreatiewe gedagtes gevange neem en hulle in ons gedagtes hou. Hierdie vers beteken ook om elke woord, elke gedagte, elke indruk en elke openbaring wat deur God se Gees geïnspireer is, gevange te neem.

Een pastoor skryf: ‘Die Aramese woord vir ‘gebed’ beteken ‘om ‘n lokval te stel.’ Ons dink dikwels aan gebed as slegs woorde wat tot God gespreek word, maar miskien is dit meer as dit. Gebed is ook wanneer God met ons deur drome, begeertes, aansporings, indrukke en idees, praat. Gebed is die meganisme waardeur God se idees bedink en vasgelê word. Dit is ons kapasiteit vir gebed wat uiteindelik ons kreatiewe potensiaal sal bepaal. Een manier om gebedslokvalle te stel, is deur ‘n gebedsjoernaal te hou.’

Jou joernaal vang jou reis vas. Dit wys jou hoe ver jy gekom het en hoe ver jy nog moet gaan. Dit herinner jou aan God se genade toe jy gestruikel het en sy getrouheid wat jou na die regte pad teruggebring het. Wanneer jy ‘n gebedslokval stel, vang jy elke ervaring vas en wring die wysheid daaruit om beter en sterker te word. Jy moet ‘…my antwoord, die visioen, in groot duidelike letters…’ (Habakuk 2:2 NLV), neerskryf. Sommige van ons doen dit digitaal, ander weer met pen en papier. Wat egter saak maak, is dat jy opteken wat God in jou kop, in jou hart en in jou lewe doen.

Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Mark 13:12-23; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12

Jou lewe is ‘n brief (3)

2025-06-08
2 Korintiërs 5:17 NLV

Mense is veronderstel om die volgende boodskap te kry wanneer hulle na jou kyk: ‘…Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk…’ (2 Korintiërs 3:18 NLV). ‘Maar ons het afstand gedoen van die geheime dinge wat ‘n mens skaam maak…’ (2 Korintiërs 4:2 NLV). ‘Daarom – iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Met ander woorde, jou brief moet dit duidelik maak dat jy nie die persoon is wat jy eers was nie, want:

1) God het jou geestelik verander. Vroeër het jy nie God se Woord geniet of sy opdragte gehoorsaam nie. Nou hoor, ontvang en gehoorsaam jy sy Woord en verlustig jouself daarin (sien Psalm 119:97-106).

2) Christus het jou moreel verander. Paulus verskaf in 1 Korintiërs 6 ‘n lys van die baie sondes wat eens op ‘n tyd ons lewens gekenmerk het. Hy noem diegene wat onsedelik is, diewe, hebsugtiges, dronkaards, lasteraars, swendelaars, ensovoorts, op. Dan volg hierdie wonderlike vers: ‘Daar was ‘n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense…’ (vers 11 NLV).

3) Christus het jou denkpatrone verander. ‘…laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe…’ (Romeine 12:2 NLV). Jy kan nou na jouself, ander mense, jou uitdagings, jou opsies en geleenthede in die lig van God se gedagtes kyk. Jy sien nou moontlikhede waar jy voorheen net probleme gesien het. Jou gedagtes, wat eens deur bekommernis oorheers was, word nou met vertroue en vrede gevul. In wese moet jou brief hierdie boodskap aan die mense wat jy ontmoet, oordra: ‘Christus het my lewe ten goede verander en as jy Hom toelaat, sal Hy joune ook verander!’

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Jou lewe is ‘n brief (2)

2025-06-07
2 Korintiërs 3:18 NLV

‘n Brief moet maklik gelees en verstaan word. Onverstaanbare skryfwerk verdraai die boodskap en ontmoedig die leser. Die doel van ‘n brief is om die skrywer se gedagtes oor te dra. Wanneer dit nie gebeur nie, hou die leser op lees of kry nie die boodskap nie. Aangesien jy ‘…’n brief van Christus is…’ (vers 3 NLV), is hier ‘n paar algemene foute wat jy moet vermy:

(1) Oneerlikheid by die werk. Dit sluit dinge soos om jou uitgawes te versin, maatskappytyd te steel en items huis toe te neem wat jy dink nie gemis sal word nie, in.
(2) ‘n Slegte gesindheid. Om byvoorbeeld gegrief te wees wanneer ‘n vriend, medewerker of baas jou op ‘n ongeleë tyd vra om hulle te help en die ekstra myl te loop.
(3) Substandaard werk wat in swak produkte en dienste weerspieël word.
(4) Onbetroubaarheid en inkonsekwentheid. Kan daar op jou gereken word om te wees waar jy veronderstel is om te wees en om jou verpligtinge na te kom?
(5) Deur ‘n suurpruim te wees. Christene wat nie ‘n sin vir humor het nie en optree asof hulle vreugde haat, maak die saak van Christus seer in plaas daarvan om dit te bevorder.
(6) Gevoeligheid. Hoe sien mense jou? Dra jy jou gevoelens op jou mou? Raak jy maklik ontsteld? Oorreageer jy op onbedoelde oortredings?
(7) Woedebuie. Is jy krapperig, knorrig en kla wanneer dinge nie na jou sin verloop nie?
(8) Eiegeregtigheid. Dit kan jou met ‘n vermetele, godsdienstige stemtoon laat praat wat mense afskrik.

Onthou: ‘…bekend aan en gelees deur alle mense…’ (vers 2 NLV), maak dus seker dat jou gesindheid en optrede goed op jou geloof en jou Here reflekteer.

Sielskos: 2 Kon 13-15; Mark 13:1-11; Ps 143; Spr 13:9-10

Jou lewe is ‘n brief (1)

2025-06-06
2 Korintiërs 3:3 NLV

Paulus het vir die gelowiges in Korinte geskryf: ‘Julle is tog self ons brief… bekend aan en gelees deur alle mense. Julle toon duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens voorberei en geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God…’ (verse 2-3 NLV). Gewoonlik wanneer ons pos kry, sorteer ons dit in twee hopies: belangrike pos en gemorspos. Hoe bepaal ons wat is wat? Deur hierdie twee vrae te beantwoord:

1) Wie het die brief gestuur? Die bron bepaal die vlak van jou belangstelling. Jy is ‘n brief van Christus aan die wêreld, ‘n brief oor Christus, want: ‘Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here…’ (2 Korintiërs 4:5 NLV). Stel mense regtig belang? Ja, Jesus het beloof: ‘En wanneer Ek van die aarde af aan die kruis verhoog word, sal Ek almal na My toe trek’ (Johannes 12:32 NLV). Niks is vandag so nodig soos ‘n lewende portret van Jesus wat in die lewens van sy verloste mense weerspieël word nie. Lewer dus jou liefdesbrief aan wie ook al jou pad kruis, af.

2) Aan wie is die brief geadresseer? Die Bybel antwoord hierdie vraag: ‘…sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê’ (Johannes 3:16 NLV). Dr David Yonggi Cho het die wêreld se grootste kerk, wat amper ‘n miljoen mense kan huisves, in Seoul, Suid-Korea, gebou. Dit is groter as baie dorpe en stede. As jong Boeddhis is hy na Christus deur ‘n dame wat hy net een keer ontmoet het, gelei. Wat as sy besluit het om stil te bly?

Jou lewe is ‘n brief van Christus met die potensiaal om iemand anders se lewe te verander, maak dus seker jy lewer dit af.

Sielskos: 2 Kon 10-12; Mark 12:28-44; Ps 132:11-18; Spr 13:7-8

Moenie voor God uit beweeg nie

2025-06-05
Psalm 127:1 NLV

Een Bybelonderwyser skryf: ‘Satan gee nie om wanneer ons bou nie, solank as wat hy die hoofkontrakteur is. Hy sal seker maak dat ons God se naam aan ons drome heg en wanneer dit misluk, lyk dit asof Hy misluk het. Romeine 8:14 sê: ‘Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders’ (NLV).

Dis belangrik om God se plan te ken, sowel as die wanneer, waar en deur wie Hy dit wil bereik. Dis maklik om in die bediening besig te raak en voor Hom uit te beweeg. Die sleutel is om in konstante kommunikasie te bly en Hom toe te laat om jou stap vir stap te lei, sodat alles in plek vir ‘n suksesvolle uitkoms is.

Soos in die weermag, mag die troepe dalk oor die sending ingelig word, maar hulle moet vir hul bevelvoerder wag om hulle te beveel hoe en waar hulle hul opdrag moet uitvoer. ‘n Soldaat woon nie een inligtingsessie by en hardloop dan weg en voer die plan alleen uit nie. Hy bly in kontak met sy bevelvoerder, wat die sending koördineer en hom en sy medesoldate na oorwinning lei. Dit is noodsaaklik om in kontak met die hoofkwartier te bly sodat jy die meesterplan ken, op koers bly en oorwinning behaal.’

As jy geneig is om dinge alleen aan te pak, maak die volgende jou gebed: ‘God, dit is dwaas om voor U te probeer uitbeweeg, maar dit gebeur so maklik. Wys my hoe ek meer tyd saam met U kan bestee en meer sensitief vir U stem kan word. Ek wil nie verniet bou nie. Ek wil hê dat my bediening ‘n verlengstuk van U moet wees, sodat U die eer kry.’

Sielskos: 2 Kon 7-9; Mark 12:13-27; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6