2025-06-28
Lukas 8:18 NLV
Dit lyk asof sommige mense deur die lewe met ‘n ‘gesluit’ teken op hul voorkoppe gaan. Hulle is as gevolg van vrees, selfsug, gevoelloosheid of omdat hulle besig is, nie oop vir die gedagtes van ander nie. Dit kan jou duur te staan kom. Neem ‘n oomblik en oordink hierdie Skrifgedeeltes: ‘Wie goedbedoelde raad ignoreer, doen skade aan homself. Iemand wat hom laat reghelp, ontwikkel sy insig’ (Spreuke 15:32 NLV). ‘Ek het nagedink oor iets wat ek gesien het. Ek het iets daaruit geleer’ (Spreuke 24:32 NLV). ‘Gee jou raad vir ‘n wyse mens, en hy sal groter wysheid kry. Onderrig ‘n regverdige, en sy kennis sal vermeerder’ (Spreuke 9:9 NLV). Mense wat ontvanklik en toeganklik is, vertoon oor die algemeen drie eienskappe:
(1) Hulle is sensitief vir mense se gevoelens. Alhoewel hulle self emosioneel bestendig is, beteken dit nie dat hulle van ander verwag om altyd so te wees nie. Hulle besef dat goeie mense soms slegte dae het, daarom pas hulle hul benadering volgens ander se gevoelens aan.
(2) Hulle verstaan ander mense se swakhede omdat hulle bewus van hul eie is. Edgar Howe het gesê: ‘Lewer af en toe ‘n gemene opinie oor jouself. Dit sal jou vriende wys dat jy weet hoe om die waarheid te vertel.’ Oop en ontvanklike mense is eerlik oor hul vermoëns – en oor hulle tekortkominge.
(3) Hulle het die vermoë om ander te vergewe en om vergifnis te vra. Dit verg nederigheid. David Augsburger het geskryf: ‘Aangesien niks wat ons beoog ooit foutloos is nie, niks wat ons ooit probeer sonder fout is nie en niks wat ons bereik sonder ‘n mate van feilbaarheid, wat ons menslikheid noem, is nie; word ons deur vergifnis gered.’
Die woord vir jou vandag is dus: Bly oop en toeganklik.
Sielskos: Jer 33:1-36:26; Matt 5:1-20; Ps 102:1-11; Spr 15:1-2
2025-06-27
Psalm 142:4 NLV
Jy gaan dalk eendag na ‘n siek of verouderende geliefde moet omsien. Om hulle behoorlik te versorg, moet jy leer om vir jouself te sorg. Na haar ouers se dood vyf weke uitmekaar in ‘n ouetehuis twaalfhonderd myl weg, is Beth Witrogen McLeod met kliniese depressie gediagnoseer. ‘Deur my fisiese en geestelike gesondheid te ignoreer, het ek myself vir ‘n ineenstorting wat twee jaar sou neem om van te herstel, oopgestel. Ten spyte van die belonings, kan versorging oorweldigend wees.’ Dawid het gesê: ‘Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad…’ As jy dus ‘n versorger is, volg hierdie riglyne:
(1) Stel grense. Leer om nee te sê wanneer jy gewoonlik ja sou sê. Daar is niks selfsugtig daaraan om na jouself om te sien, sodat jy die beste moontlik sorg aan iemand anders kan gee nie.
(2) Pasop vir skadelike hanteringspatrone. Misbruik van medikasie, ooreet, drink om te ontspan. Jy is menslik en dit kan gebeur!
(3) Moenie jouself isoleer nie. Nooi vriende oor wat aangebied het om te help. Een kan kos maak en na jou geliefde omsien, terwyl jy en die ander vriend ‘n bietjie gaan stap.
(4) Vra vir hulp. As familielede nie hulle deel doen nie, reël ‘n vergadering en delegeer die verantwoordelikhede. Moenie ander die seën ontsê wat daaruit voortspruit om die swakkes te ondersteun nie (sien 1 Tessalonisense 5:14).
(5) Beskerm jou tyd. Dit is maklik om elke minuut te skeduleer totdat daar niks vir jouself oor is nie. Moenie dit doen nie. Vind iets wat jou voed: lees, bid, oefen of alleentyd. Maak egter seker dat jy dit ook skeduleer, anders sal dit nie gebeur nie!
Sielskos: Jer 31-32; Matt 4:12-25; Ps 98; Spr 14:34-35
2025-06-26
Hebreërs 12:14 NLV
Om konflik op te los, moet jy die volgende doen:
(1) Fokus op die persoon se gedrag en bly weg van opmerkings oor hul karakter. Deur te sê: ‘Dit was onaanvaarbaar van jou om my pos oop te maak,’ is beter as om te sê: ‘Ek kan nie glo jy was so nuuskierig nie!’
(2) Probeer om die ander persoon se gedrag te verstaan, eerder as om jou eie gedrag te probeer regverdig. Dit sal aktiewe luister vereis. Aktiewe luister bevestig die ander persoon se gevoelens en verskaf hulle die motivering om na jou te luister. ‘Die oppermagtige Here het my geleer sodat ek dié wat moeg is moed kan inpraat. Elke môre maak Hy my wakker en leer my luister soos dit ‘n leerling betaam’ (Jesaja 50:4 NLV).
(3) Los een probleem op ‘n slag op. Moenie die gesprek tussen julle met onverwante sake vertroebel nie. Bespreek dit later.
(4) Kom oor toekomstige gedrag ooreen, ingeval die situasie weer voorkom.
Konflik is stresvol en dit is tot jou voordeel om dit te beperk. Jy kan nie konfliksituasies heeltemal uit die weg ruim nie, want almal is uniek, met verskillende agtergronde, maniere van kommunikasie en begeertes. Jy kan egter die probleme in die gesig staar, dit oplos en as gevolg daarvan meer volwasse word.
‘Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saamwoon! Dit is soos kosbare olie op die kop wat afloop op die baard, op die baard van Aäron, tot op die soom van sy kleed. Dit is soos die dou van Hermonberg wat val op die berge van Sion. Want daar gee die Here sy seën: ‘n baie lang lewe’ (Psalm 133:1-3 NLV). As jy vrede wil hê en in God se seën wil wandel, moet jy aan versoening werk.
Sielskos: Jer 28-30; Matt 3:11-4:11; Ps 95; Spr 14:29-33
2025-06-25
Matteus 18:15 NLV
Min dinge in die lewe veroorsaak soveel stres soos onopgeloste konflik. Dit sal jou bloeddruk opstoot en jou gedagtes verteer totdat jy dit oplos. As jy dus wys is, sal jy dit onmiddellik hanteer. Nie almal voel dieselfde nie. Al het Jesus ons beveel om dit te hanteer, weerhou baie Christene hulle ter wille van vrede daarvan om enigiets te sê. Onopgeloste konflik sal jou gemoedsrus, jou produktiwiteit en jou houding teenoor ander beïnvloed, dus moet dit hanteer word. Daarbenewens, wanneer jy weier om ‘n probleem in die gesig te staar, sal dit heel waarskynlik weer voorkom. Volgens ‘n interpersoonlike kommunikasiekundinge, moet mens hierdie drie dinge doen:
‘(1) Vra God om vir jou sy woorde te gee om te sê, sodat sy doel bereik sal word. ‘Net so is dit met die woord wat uit my mond kom… dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV).
(2) Maak jou emosies voor God leeg voordat jy die oortreder nader. Emosies is geneig om in die pad van feite te staan en kan objektiewe denke belemmer. Sodra jy besluit het dat jy alles gaan inspan om die kwessie op ‘n harmonieuse manier op te los, is dit nie so moeilik soos dit mag klink nie. ‘Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense’ (Romeine 12:18 NLV).
(3) Wees duidelik oor hoe jy die probleem sien. Vermy vae argumente wat ruimte vir waninterpretasie laat. Byvoorbeeld: ‘Jy moet beter doen,’ verduidelik nie regtig wat die probleem is nie.’ As jou doel is om die verhouding te herstel, sal God saam met jou werk.
Sielskos: Jer 25-27; Matt 2:16-3:10; Ps 64; Spr 14:25-28
2025-06-24
Psalm 40:2 NLV
Wanneer jy voor ‘n probleem te staan kom wat te groot vir jou voel of jou laat voel asof jy verdrink en nie weet wat om te doen of waarheen om te gaan nie, gebruik die wagstrategie. Dis die strategie wat Dawid gebruik het. Dit het vir hom gewerk: ‘Ek het met hunkering op die Here gewag. Hy het afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ‘n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied gegee, ‘n lofsang om ons God te prys… Geseënd is die mens wat op die Here vertrou… U het my in staat gestel om te luister…’ (verse 2-5, 7 NLV).
Dis moeilik om te wag as mens angstig is. Om geduldig te wag, is nog moeiliker. Stop egter en dink op wie jy wag: die Here. Hy is die Here oor elke situasie, insluitend joune. Miskien sal die volgende illustrasie jou help.
Arthur McKinsey skryf: ‘Dink aan ‘n probleem asof dit ‘n middeleeuse ommuurde stad is. Baie mense sal dit direk probeer aanval. Hulle sal die hekke bestorm en probeer om die mure met pure intellektuele krag en briljantheid af te breek. Ek slaan egter buite die stad kamp op. Ek wag. Ek dink. Tot eendag – miskien nadat ek al met ‘n heeltemal ander probleem begin worstel het – word die valbrug laat sak en die inwoners sê: ‘Ons gee op.’ Die antwoord tot die probleem kom alles op een slag.’
Om op God te wag werk op hierdie manier. Terwyl jy wag, is Hy namens jou aan die werk.
Sielskos: Jer 22-24; Matt 2:1-15; Ps 59:9-17; Spr 14:23-24
2025-06-23
Johannes 15:11 NLV
Om te voorkom dat jy uitbrand, moet jy die volgende doen:
1) Sluit by ‘n ondersteuningsgroep aan. Vra jouself af wie die rol van ‘n Paulus teenoor jou as ‘n Timoteus vervul? Wie leer jou om te bid soos Jesus en Johannes die Doper hulle dissipels geleer het? Met wie kan jy jou stryd deel? Die Bybel sê: ‘Yster slyp yster en so vorm vriende mekaar’ (Spreuke 27:17 NLV). Bedieningmaats verstaan jou fisiese, emosionele en geestelike behoeftes en kan nuwe, verfrissende geestelike praktyke voorstel.
(2) Gebruik twee letters van die alfabet – NEE – sonder om verskoning daarvoor te maak. Ken jou gawes en jou beperkings. Staar jou vrese in die gesig; moenie hulle vermy deur hulle te begrawe en voor te gee dat hulle nie bestaan nie. Bowenal moet jy probeer om te verhoed dat jy in ‘n toestand van hulpeloosheid verval. Neem tyd om voordelige hanteringstrategieë te ontwikkel. Moenie gewone gebeure as katastrofes sien nie. Moenie by ‘n standpunt hou net omdat jy dit nog altyd gehad het nie.
(3) Besef dat dit nie verkeerd is om pret te hê nie. Jou liggaam sal jou nie toelaat om te lag en terselfdertyd ‘n maagsweer te ontwikkel nie – en dis ‘n goeie ding! Jesus het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees.’ Hy het ook gesê: ‘…As julle nie… soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie’ (Matteus 18:3 NLV). Kinders probeer nie die wêreld eiehandig bestuur of raak obsessief oor die werk wat ophoop nie; hulle leef in die oomblik.
Die enigste voordeel om met stres te leef, is dat jy Jesus dalk vroeër kan ontmoet – maar as jy meer tyd gehad het, was jou beloning dalk selfs groter!
Sielskos: Jer 18-21; Matt 1; Ps 59:1-8; Spr 14:21-22