2024-10-28
2 Korintiërs 5:7 NLV
Impalas is een van die kragtigste diere in Afrika. Hulle kan hoër as drie meter spring en ‘n afstand van meer as nege meter in een sprong aflê. Tog kan die impala in ‘n kamp met ‘n heining wat nie meer as drie meter hoog is nie, aangehou word. Hoekom? Omdat die impala nie sal spring as hy nie kan sien waar sy voete gaan land nie. In ‘n sin wandel impalas deur sig, nie geloof nie.
Wat beteken dit om te ‘wandel’? Om een voet voor die ander te sit en deur een tree op ‘n slag aan te hou om vorentoe te beweeg. Wat beteken dit om ‘geloof’ te hê? Om die Here te vertrou en sy Woord te gehoorsaam, maak nie saak hoe dinge vir jou lyk of voel nie. Geloof doen nie met intelligente denke en rede weg nie. Daar is egter ‘n verskil.
Wanneer intelligente denke en rede jou nie nog ‘n tree verder kan neem nie, hou geloof reguit aan vorentoe beweeg. Hoekom? Omdat intelligente denke en rede die hand van die mensdom wat uiteindelik in ‘n doodloopstraat beland, vashou, terwyl geloof die hand van God vashou, die God wat ‘n pad maak waar dit lyk asof daar geen pad is nie.
Dit was Abraham se verhaal: ‘Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ‘n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland’ (Hebreërs 11:8 NLV). Is jy angstig oor die toekoms? Moenie wees nie; neem net die volgende tree in geloof, en jy sal een tree nader aan die seëninge en belonings wat God vir jou in gedagte het, wees.
Sielskos: Jes 17-21; Joh 6:35-51; Ps 98; Spr 27:23-24
2024-10-27
Johannes 2:5 NLV
‘n Christelike leier sê: “‘n Bruilof was vir die Jode die heel grootste sosiale geleentheid. Dit het gewoonlik met ‘n seremonie teen sononder in die sinagoge begin. Dan het die hele trougeselskap met ‘n lang kersligoptog deur die middel van die dorp geloop. Die paartjie sou verby so veel as moontlik huise begelei word sodat almal kon uitkom en hulle gelukwens. Dan het hulle huis toe gegaan na ‘n partytjie wat verskeie dae aangehou het. Daar sou geskenke gegee word, toesprake sou gemaak word en hulle sou eet en drink. Gasvryheid by ‘n troue was gesien as so ‘n heilige plig dat die seremoniemeester vir ‘gasvryheidsbreuk’ gedagvaar kon word. Sou die kos en wyn opraak sou dit as ‘n enorme belediging gesien word.”
Dis opmerklik dat Jesus se eerste wonderwerk was om ‘n huishoudelike krisis op te los en die pasgetroudes van verleentheid te red. Dis ‘n fout om te dink dat God net vir groot dinge soos egskeiding, bankrotskap of die dood omgee. Hy gee ook vir klein dingetjies soos gebreekte borde, tandpyn, kwaai base, verlore honde, pap wiele en verpaste vlugte om. Die Bybel sê: ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV). Wat vir jou saakmaak, maak vir Jesus saak.
Toe hierdie pasgetroudes uitnodigings na hulle troue toe uitgestuur het, het hulle ook een aan Jesus gestuur. Hy het opgedaag en aan hulle behoeftes voldoen. Let ook op hoe dit gebeur het. Maria, Jesus se moeder, het vir hulle gesê: ‘…Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle noukeurig gaan doen.’ Wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, het nie rasioneel geklink nie, maar toe hulle Hom gehoorsaam het, het hulle ‘n wonderwerk ontvang. As jy bid, God vertrou en Hom gehoorsaam, sal Hy ook ‘n wonderwerk vir jou doen.
Sielskos: Rut 1:8-18; Rut 2:5-12; Rut 3:1-6; Rut 4:9-13
2024-10-26
Johannes 14:6 NLV
‘n Dominee skryf: ‘Tussen die mensdom en God is daar ‘n versperring, genaamd sonde. As ons met ‘n perfekte God versoen wil word, moet daardie versperring uit die weg geruim word. Ons kan nie rondom dit of oor dit gaan nie. Sonde vereis ‘n betaling. Jesus het spesifiek gekom om daardie betaling te maak. Hy het ‘n perfekte lewe geleef en ‘n opofferende dood gesterf om vir alles wat ons al ooit in die verlede, hede en toekoms gedoen het, te betaal. As jou huis aan die brand is, moet jy ‘n brandweerman roep, nie ‘n polisieman nie. As jy jou been breek, moet jy ‘n dokter roep, nie ‘n brandweerman nie. As daar by jou huis ingebreek word, moet jy ‘n polisieman roep, nie ‘n dokter nie. As jy besig is om te verdrink, moet jy ‘n lewensredder roep, nie ‘n loodgieter nie. As jy as sondige mens by ‘n regverdige God wil uitkom, beter jy met die Verlosser in aanraking kom, want Hy is die enigste een wat kan help.’
Jesus het nie gesê: ‘Kom na My toe, Ek sal vir jou die pad wys nie.’ Hy het gesê: ‘Ek is die pad.’ Hy is die pad na vergifnis toe. Hy is die pad na vrede en vreugde toe. Hy is die pad na lewensvervulling toe. Hy is vandag so naby aan jou soos ‘n gebed aan jou is. Bid die volgende: ‘Here Jesus, ek glo dat U vir my aan die kruis gesterf het en vir my sondes betaal het. Ek glo dat deur geloof in U word ek regverdig gemaak en met God versoen. Ek aanvaar U vandag as my Here en Redder en ontvang U gawe van ewige lewe. Amen.’
Sielskos: Jes 12-16; Joh 6:25-34; Ps 85; Spr 27:20-22
2024-10-25
Matteus 7:1 NLV
Die volgende het met Chuck Swindoll gebeur toe hy ‘n praatjie in Kalifornië gelewer het. “‘n Man het na hom toe gekom en gesê: ‘Ek het so lank vir hierdie week gewag, ek gaan alles wat jy sê indrink.’ Swindoll het hom bedank. Sondagaand het die man se kop begin knik en hy het aan die slaap geraak. Swindoll het gemeen dat hy seker ver gery het en heel waarskynlik moeg was. Dit het egter elke aand gebeur totdat die konferensie verby was. Swindoll was redelik ontsteld dat mense in die gehoor aan die slaap raak terwyl hy praat.
Die Vrydagoggend het die dame wat langs die slaperige man gesit het, na Swindoll toe gekom en gesê: ‘Ek wil jou vir jou bediening hierdie week bedank. O en terloops, ek is jammer dat my man die heeltyd aan die slaap geraak het. Hy het terminale kanker en die dokters het hom net ‘n paar weke gegee om te leef. Toe ons gepraat het oor wat hy wil doen voor hy sterf, het hy gesê: ‘Ek wil na Chuck Swindoll gaan luister.’ Die dokters het vir hom pynmedikasie gegee wat hom vaak maak. Ek wil verskoning vra dat hy geslaap het, maar dankie dat jy hierdie die beste week van die laaste gedeelte van sy lewe gemaak het.’ Swindoll het later gesê dat hy onder ‘n klip wou gaan wegkruip, want hy het iemand veroordeel sonder om al die feite te ken.”
Hoekom het Jesus gesê: ‘Hou op om ‘n oordeel oor ander uit te spreek. Dan sal God ook nie ‘n oordeel oor julle uitspreek nie’? Omdat daar dalk omstandighede en faktore in ‘n persoon se lewe mag wees wat jy nie verstaan nie. In plaas daarvan om hulle dus te oordeel, bewys aan hulle dieselfde genade wat God aan jou bewys het.
Sielskos: Jes 4-7; Joh 5:31-47; Ps 5; Spr 27:13-16
1 Johannes 2:1 NLV
Daar is ‘n verhaal van ‘n man wat sy foto laat neem het. Toe hy dit sien, het hy vir die fotograaf gesê: ‘Hierdie foto laat nie reg aan my geskied nie!’ Die fotograaf het na hom gekyk, geglimlag en gesê: ‘Met ‘n gesig soos joune het jy nie geregtigheid nodig nie; jy het genade en medelye nodig!’ Dis die situasie waarin ons ons almal bevind. Die rede hoekom God genade en medelye aan ons bewys, is omdat Jesus namens ons aan al die eise van God se geregtigheid aan die kruis voldoen het.
Sommige mense dink dat God se genade (onverdiende guns) versoening doen vir al jou sondes, tot op die oomblik wat jy Christus jou Verlosser maak. Daarna moet jy dit verdien en deur jou optrede bewys dat jy dit waardig is. In plaas daarvan om dus alleenlik op Christus se optrede aan die kruis te vertrou, vertrou hulle ook op hul eie optrede. Hier is egter die probleem: As om hemel toe te gaan daarvan afhang dat jy elke liewe verkeerde gedagte en daad onthou en dit bely, wat gebeur dan as jy een van hulle vergeet?
Jy hoef dit egter nie met jou optrede te verdien nie. God het dit alles onder beheer! ‘As iemand egter sonde doen, ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige. Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes. Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom’ (verse 1-2 NLV). Net een persoon voldoen aan God se standaarde: Jesus! Wanneer jy jou vertroue in Hom plaas, word jy onvoorwaardelik deur God aanvaar en het Hy jou onvoorwaardelik lief.
Sielskos: Jes 8-11; Joh 6:1-24; Ps 126; Spr 27:17-19
2024-10-23
Prediker 3:7 NLV
Calvin Coolidge, die dertigste president van Amerika, was bekend daarvoor dat hy ‘n inkennige man was wat baie min gepraat het. Een dag toe ‘n verslaggewer probeer het om met hom ‘n onderhoud te voer, het die gesprek as volg verloop: Verslaggewer: ‘Wil jy iets oor die oorlogbedreiging in Europa sê?’ Coolidge: ‘Nee.’ Verslaggewer: ‘Het jy enigiets oor die staking in die klerefabrieke te sê?’ Coolidge: ‘Nee.’ Verslaggewer: ‘Het jy iets oor die Volkebond te sê?’ Coolidge: ‘Nee.’ Soos die verslaggewer die kamer verlaat het, het Coolidge hom onverwags teruggeroep en met ‘n glimlag gesê: ‘Maar moet my nie aanhaal nie!’
Die Bybel sê: ‘Daar is ‘n vaste tyd vir alles, elke ding onder die son het sy tyd… ‘n Tyd om stil te bly en ‘n tyd om te praat’ (verse 1, 7 NLV). Moet nooit toelaat dat jy onder druk geplaas word om iets te sê wat jy nie wil sê nie, of ingetrek word wanneer jy nie lus is om te praat nie. Stilte is nie ‘n gebrek aan kommunikasie nie; dis ‘n vorm van kommunikasie wat baie effektief kan wees!
Spreuke 29:11 sê: ‘Wanneer ‘n dwaas kwaad is, dan sê hy alles wat hy dink, ‘n wyse mens bly kalm’ (ABA). Een ding is vir seker: dit wat jy vandag nie sê nie, hoef jy nie môre te verduidelik of verskoning voor te vra nie. As jy geneig is om te praat voor jy dink, of wanneer jy niks opbouend het om by te dra nie, moet jy die situasie versigtig opweeg en God vir wysheid vra voor jy besluit of jy moet praat of eerder stil moet bly. Onthou: ‘Selfs ‘n dwaas tree reg op wanneer hy sy praatlus bedwing. As hy geheime kan hou, is hy slim’ (Spreuke 17:28 DB).
Sielskos: Jes 1-3; Joh 5:16-30; Ps 15; Spr 27:10-12