Dink aan jou hemelse woning

2025-12-17
Johannes 14:2 NLV

Die Bybel praat meer as vyfhonderd keer oor die hemel en verskaf detail van ons ewige tuiste. Kort voordat Hy na die hemel vertrek het, het Jesus sy dissipels bemoedig deur te sê: ‘In die huis van my Vader is daar sommer baie kamers… Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is’ (verse 2-3 NLV).

Die Griekse woord wat in vers 2 as ‘plek’ vertaal word, is ‘topos,’ wat na ‘n spesifieke plek verwys. Die Hemel is ‘n werklike, fisiese plek, waar ons eendag saam met Jesus en ons verloste geliefdes sal woon. God het in elkeen van ons se harte ‘n honger na die hemel geplaas (sien Prediker 3:11).

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Franklin Roosevelt dit moeilik gevind om weens sy fisiese gestremdheid tussen die troepe te reis, dus het sy vrou, Eleanor, sy plek ingeneem. Die soldate was mal oor haar. Sy het as die president se oë en ore gedien. Op een reis het sy ‘n aand saam met ‘n groep soldate deurgebring en daarna vir haar man gesê dat hulle net op een gedagte fokus – die verlange om die geveg te voltooi sodat hulle huis toe kon gaan. Dit is hoe God se verloste kinders oor die hemel voel.

Ons is op planeet Aarde ontplooi, maar ons opdrag is slegs tydelik. Die Psalmdigter het gesê: ‘U goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe; en ek sal bly in die huis van die Here so lank as wat ek lewe’ (Psalm 23:6 NLV). Dis ons verwagting – om vir ewig in die huis van die Here te woon.

Sielskos: Sag 9-11; Joh 21:1-14; Ps 12; Spr 31:1-5

Bid vir God om jou te genees

2025-12-16
Matteus 14:14 NLV

As jy wonder: ‘Hoe kan ek seker wees dat God gewillig is om my gesond te maak?’ lees dan die volgende: “‘n Melaatse man het na Hom toe gekom, voor Hom gekniel en Hom gesmeek met die woorde: ‘As U wil, kan U my gesond maak.’ Jesus het hom innig jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak met die woorde: ‘Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!’ Net daar het die melaatsheid verdwyn – die man was gesond… Gevolglik het soveel mense Jesus begin omring…” (Markus 1:40-42, 45 NLV).

Nie net is God gewillig om ons te genees nie, Hy reageer met deernis op ons siekte en lyding. ‘Toe Jesus dit hoor, het Hy in ‘n skuit daarvandaan weggegaan na ‘n afgeleë plek om alleen te wees. Maar die skare het dit uitgevind en vanuit hulle dorpe oorland agter Hom aan gekom. Toe Jesus uit die skuit klim, sien Hy dat daar reeds ‘n massa mense bymekaar was. Hy het ‘n diepe deernis vir hulle gevoel en hulle siekes gesond gemaak’ (Matteus 14:13-14 NLV).

‘Twee blindes wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus daarlangs verbygaan. Hulle roep toe aanhoudend: ‘Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!’… Jesus het gaan staan en hulle laat roep. ‘Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?’ vra Hy vir hulle. Hulle het gesê: ‘Here, ons wil sien!’ Daarop het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien, en hulle het agter Hom aan gegaan’ (Matteus 20:30, 32-34 NLV).

Het Christus se krag afgeneem? Nee. Het Hy vandag minder medelye teenoor sy verloste kinders as wat Hy destyds vir die menigte gehad het? Nee. Kom dus met vertroue na Hom toe, bid en glo Hom vir jou genesing.

Sielskos: Sag 5-8; Joh 20:19-31; Ps 67; Spr 30:29-33

Benut jou swakpunte

2025-12-15
Hebreërs 11:34 NLV

‘n Pastoor skryf: ‘Aan die einde van die twintigste eeu het ‘n baanbrekersielkundige genaamd Alfred Adler die teenintuïtiewe teorie van kompensasie voorgestel. Adler het geglo dat wat as swakpunte gesien word, dikwels eintlik sterkpunte is, omdat dit ons dwing om benaderings en vermoëns wat andersins onontdek sou bly, te ontwikkel. Dit is slegs wanneer ons daardie swakpunte probeer oorkom dat ons grootste gawes onthul word.

Sewentig persent van die kunsstudente wat deur Adler bestudeer is, het optiese afwykings gehad. Hy het opgemerk dat sommige van die geskiedenis se grootste komponiste, insluitend Mozart en Beethoven, gehoorprobleme gehad het. Hy het ‘n wye verskeidenheid beroepe van mense wat hul swakpunte gebruik het om nuwe sterkpunte te ontdek, aangehaal. Adler het tot die gevolgtrekking gekom dat swakpunte, soos geboortedefekte, fisiese kwale en armoede, trappe na sukses kan wees. Hierdie sukses word nie ten spyte van daardie sogenaamde swakpunte behaal nie, maar as gevolg van hulle.

In een studie van kleinsake-eienaars het 35 persent aangedui dat hulle disleksies is. Daardie sogenaamde swakpunt het hierdie groep entrepreneurs gedwing om verskillende vaardighede te kweek. Sommige van hulle het vaardiger in mondelinge kommunikasie geword omdat lees vir hulle so moeilik was. Ander het geleer om sosiale vaardighede te ontwikkel om die uitdagings wat hulle in die klaskamer teëgekom het, te oorkom. By almal van hulle is ‘n werksetiek gekweek wat dalk dormant sou gebly het as hulle maklik kon lees. Ons grootste sterkpunte kan in ons grootste swakpunte versteek wees, dus moet ons leer om ons swakpunte te benut.’

Dis rede genoeg om God vir jou sogenaamde swakpunte en uitdagings te prys.

Sielskos: Sag 1-4; Joh 20:10-18; Ps 57; Spr 30:24-28

Die rolle in die huwelik

2025-12-13
Prediker 9:9 DB

Hier is ‘n illustrasie van die verskillende rolle in die huwelik: ‘n Man se werk is soos die van ‘n termostaat, wat die temperatuur in die huis handhaaf. Die vrou se werk is soos dié van ‘n termometer, om ‘n temperatuurlesing te gee. Die lesing van die termometer moet die verstelling van die termostaat aandui. As ‘n man ‘n warm vrou wil hê, kan hy nie ysige weer huis toe bring nie.

Hier is nog ‘n illustrasie van die twee verskillende rolle in die huwelik: Vir wingerdstokke om vrugbaar te wees, moet hul takke opgelig word, daarom bind wingerdboere hulle aan ‘n paal vir ondersteuning vas. Indien dit nie gedoen word nie, word die wingerdstok te swaar soos die druiwe volwasse word en groei en begin dit op die grond sleep. Die paal hou die druiwe van die grond af en help hulle om die volle voordeel van die son te ontvang. Na ‘n rukkie begin die takke langs die paal waar hulle vasgemaak is, versprei. Omdat hulle deur die paal ondersteun word, is hulle vry om te klim en te versprei.

Wanneer ‘n man dus stabiliteit in die huis verskaf, laat dit die vrou veilig en versorg voel. Sy is dan vry om te floreer, te groei en vrugbaar te wees. Salomo sê: ‘Geniet die lewe met die vrou vir wie jy lief is. Geniet haar elke dag in die sinlose lewe wat jou gegun is. Sy sal jou troos wees…’ Die tyd, liefde en aandag wat jy in jou vrou belê, bring ‘n beloning van groot seën, tevredenheid en vervulling mee. Wanneer jy jou deel doen, kan jy op God staat maak om sy deel te doen.

Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23

‘n Gebed van verlossing van skuldgevoelens

2025-12-12
Psalm 86:5 NLV

‘Hemelse Vader, alhoewel ek berou getoon het en opreg spyt is oor my dade, pynig die skuld van my sonde my voortdurend. Die las daarvan is te swaar vir my om langer te dra, daarom wend ek my tot U vir verlossing. U Woord sê dat U gereed is om my te vergewe (sien Nehemia 9:17), en dat u oorvloedige genade het vir diegene wat na U roep (sien Jesaja 55:7).

Die probleem is dat ek dit moeilik vind om u vergifnis te aanvaar en myself van die berou oor my sondes te bevry. Help my om u belofte te verstaan en te ontvang: ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). U sê in u Woord: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat hulle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV).

Deur krag uit die mag van u Gees te put, kies ek om nie langer toe te laat dat gedagtes van skuld en veroordeling die vrede en vreugde wat U bied, van my steel nie. Ek staan op u Woord wat sê: ‘So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons van ons oortredings’ (Psalm 103:12 NLV).

U het gesê: ‘…Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie’ (Hebreërs 10:17 NLV). Aangesien U gekies het om dit nie te onthou nie, help my om daarvan te vergeet en op te hou om daaroor te tob. Van vandag af begin ek verklaar: ‘…die bloed van Jesus, sy Seun, maak ons skoon van alle sonde’ (1 Johannes 1:7 NLV).’

Sielskos: Miga 5-7; Joh 19:31-42; Ps 105:23-36; Spr 30:15-19

Help die armes

2025-12-11
Handelinge 20:35 NLV

Toe die Britse Eerste Minister, William Gladstone, een van die grootste krisisse van sy politieke lewe in die gesig gestaar het, het hy een oggend om twee-uur gaan sit om die toespraak te skryf wat hy gehoop het hom sou help om die volgende dag ‘n politieke oorwinning in die Parlement te behaal. Kort daarna het die moeder van ‘n sterwende kind die lig in sy huis sien brand en aan sy deur geklop. Sy het hom gevra om ‘n boodskap van hoop en bemoediging aan haar seun te bring. Sonder aarseling het Gladstone sy halfvoltooide toespraak op sy lessenaar gelos, die res van die nag saam met die kind deurgebring en hom na Christus gelei voordat hy gesterf het.

Toe die oggendlig begin breek, het hy teruggegaan na sy studeerkamer en sy eie dag met ‘n glimlag van vertroue, vrede en krag aangepak. Hy het later daardie oggend vir ‘n vriend gesê: ‘Ek is vandag die gelukkigste man in die wêreld.’ Toe hy gevra is hoekom, het hy geantwoord dat hy die vorige aand toegelaat is om ‘n kind in die naam van sy Meester te dien.

Later daardie dag het Gladstone die toespraak, wat baie as die grootste toespraak van sy lewe beskou het, gelewer. Gladstone se saak het geseëvier. Was die twee gebeure verwant? Gladstone was oortuig daarvan.

Voor Paulus die leiers van die kerk in Efese vir die laaste keer verlaat het, het hy vir hulle gesê: “In alles het ek vir julle ‘n voorbeeld gestel dat ons só hard moet werk dat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.'”

Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:17-30; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14