Beweeg van mislukking na sukses (2)
2024-05-07Job 8:7 NLV
Dis makliker om sukses te herken wanneer jy terugkyk as wanneer jy vorentoe kyk. Vir sommige van ons kan dit baie jare neem voor ons ons sukses herken, dit vier en standvastig daarin voel. Dis omdat ons die regte perspektief kortkom. Op sy breedste, is ‘n brug van twee myl lank nodig om die Mississippi rivier oor te steek; by sy oorsprong is die rivier so smal dat jy daaroor kan spring. Dis egter steeds dieselfde rivier. Die meeste dinge begin klein!
Het jy al van die Rusgebed gehoor? Dit gaan as volg: ‘God, gee my die rus om die dinge te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om die dinge wat ek kan, te verander, en die wysheid om die verskil te ken.’ Dit is die eerste keer in ‘n klein kerkie in Massachusetts deur die teoloog Reinhold Niebuhr tydens ‘n Sondagoggend diens gebid. Net ‘n klein groepie mense was daardie dag in die kerk, maar een persoon het so baie van die gebed gehou dat hy na die diens vir Niebuhr vir ‘n kopie daarvan gevra het. ‘Hier,’ het Niebuhr geantwoord en ‘n opgefrommelde stuk papier vir die gemeentelid gegee. ‘Ek glo nie ek sal meer nut daarvan hê nie.’
Raai wat? Na die Onse Vader, is dit die gebed wat die meeste in die wêreld gebid word. Is dit nie ironies dat Niebuhr se gebed so gewild geword het nadat hy gedink het hy sal geen nut meer daarvan hê nie? Met hierdie verhaal in gedagte, lees die volgende Skrifgedeelte en dink waarlik daaroor: ‘En al het jy met min begin, sal jy met baie eindig.’ Met God se hulp kan jy jou mislukking in sukses verander en aangaan om groter dinge te doen.
Sielskos: Deut 11-13; Mark 6:45-56; Ps 37:16-24; Spr 11:30-31