Beweeg van mislukking na sukses (1)
2024-05-061 Samuel 17:46 NLV
Elkeen wat al ooit iets betekenisvol gedoen het, moes die kans waag. Vir meeste van ons is die probleem nie of die kanse goed lyk of nie, maar dat ons te min van onsself verwag. Soos R. H. Headlee opgemerk het: ‘Die meeste mense dink te klein, mik te laag en gee te gou tou op.’ Die kanse het nie goed gelyk dat Dawid vir Goliat sou oorwin nie, behalwe wanneer jy God in die berekening bring, wat Dawid gedoen het. Luister na sy woorde: ‘…Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap…’ (vers 46 NLV). Duidelik het Dawid hoog gemik.
Wanneer dit kom by die ding waarvoor God jou geroep het, moet jy ook hoog mik. Die kanse maak nie saak nie. Of jy langs die pad struikel maak nie saak nie. Jy het geval toe jy leer loop het, nie waar nie? Dr Maxwell Maltz sê: ‘Jy is ‘n kampioen in die kuns van die lewe as jy maar net 65 persent van jou doelwitte bereik.’
As die kanse goed lyk dat jy baie foute op die pad na sukses gaan maak, dan moet dit maar so lyk. Wat saakmaak is dat jy op die ou einde sukses behaal. Solank as wat jy op God vertrou en aanhou probeer, sal Hy jou help. Jakobus skryf: ‘Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang…’ (Jakobus 1:12 NLV). Paulus skryf: ‘Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes’ (Galasiërs 6:9 NLV).
Wanneer jy glo dat God wil hê dat jy sukses moet behaal en jy volhard, sal jy van mislukking na sukses beweeg.
Sielskos: Deut 8-10; Mark 6:30-44; Ps 37:8-15; Spr 11:27-29