Bewaar God se Woord (5)
2018-06-23Johannes 13:17 NLV
Om God se Woord te lees, te ontvang, te onthou en daaroor te reflekteer is belangrik, maar ons moet daarop reageer en ‘…mense word wat dóén wat die woord sê…’ (Jakobus 1:22 NLV). Jy kan so besig wees om na die volgende kerkvergadering te gaan, dat jy vergeet om dit wat jy by die laaste een geleer het, uit te oefen. Jesus het gesê, ‘Elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, is soos ‘n verstandige persoon wie se huis op soliede rots gebou is’ (Matteus 7:24 NLV). God sal jou nie seën omdat jy die waarheid weet nie, maar omdat jy dit gehoorsaam. ‘As julle hierdie dinge insien en julle eie maak, sal julle gelukkig wees as julle dit ook doen.’ Ons is geneig om persoonlike toepassing te vermy, omdat dit nie net moeilik is nie – in sommige gevalle is dit ronduit pynlik! Jesus het gesê, ‘…die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV), maar dit mag jou dalk aan die begin ongemaklik maak. God se Woord openbaar ons beweegredes, stel ons foute bloot, wys ons sondes tereg en eis verandering. Dis hoekom dit goed is om jou persoonlike insigte met ander mense te bespreek. Ons leer waarhede van ander mense wat ons nooit op ons eie sou leer nie. Hulle help ons om dit wat ons miskyk te sien en toe te pas. Hulle hou ons aanspreeklik. Een van die beste maniere om iemand wat die Woord dóén te word, is om ‘n aksieplan neer te skryf. Dit moet persoonlik wees (met betrekking op jou); prakties wees (iets wat jy kan doen) en bewysbaar wees (met ‘n maatstaf of sperpunt). In die woorde van D.L Moody: ‘Die Bybel is nie aan ons gegee om ons kennis te vermeerder nie, maar om ons lewens te verander.’
Sielskos: 2 Kor 5-8; Luk 2:1-7; Ps 144:1-8; Spr 16:1-3