Bewaar God se Woord (2)

2018-06-20
Johannes 8:31 NLV

Johannes skryf, ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes vers 2 NLV). Om God se Woord te lees moet een van jou eerste prioriteite wees, sodat dit ‘in alle opsigte goed mag gaan’ met jou. Jesus het gesê, ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers.’ Om in noue verbintenis met God se Woord saam te leef, beteken dat jy vreugde, aanvaarding, aanmoediging, ondersteuning, beskerming, doelwitte, identiteit en rus daarin vind. Om God se Woord te ‘bewaar’ beteken dat jy dit as jou hoogste outoriteit, jou kompas vir rigting, jou berader wanneer jy besluite maak en jou maatstaf wanneer jy elke verhouding en aksie evalueer, aanvaar. Met ander woorde, die eerste en laaste woord in jou lewe. Baie van ons moeilikhede ontstaan omdat ons ons keuses op onbetroubare outoriteite baseer, soos: Kultuur – ‘Almal doen dit.’ Tradisie – ‘Ons het dit nog altyd so gedoen.’ Rede – ‘Dit lyk logies.’ Emosie – ‘Dit voel net reg.’ Al hierdie outoriteite is foutief omdat hulle vanuit onsself kom, nie van God af nie. Wat ons nodig het is ‘n perfekte standaard wat ons nooit in die verkeerde rigting sal lei nie, en net God se Woord voldoen aan daardie kriteria. Salomo het geskryf, ‘Elke woord van God is getoets…’ (Spreuke 30:5 NLV). Dit beteken dat wanneer sy Woord vir jou sê om iets te doen, moet jy dit doen, of dit nou vir jou sin maak of nie en of jy lus is om dit te doen of nie. Jy moet soos Paulus sê, ‘…Ek handhaaf alles… wat geskryf staan’ (Handelinge 24:14 NLV).

Sielskos: Eseg 43-45; Luk 1:39-56; Ps 139:1-6; Spr 15:25-27