Begin by sy voete

2024-07-02
Rut 3:4 NLV

Die wet het vereis dat Rut, as Moabiet, nie veronderstel was om met die Jode te meng nie. ‘Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie’ (Deuteronomium 23:3 NLV). Wanneer God egter ‘n plan vir jou lewe het, tree Hy in en sê: ‘…Ek het jou by jou naam geroep. Jy is Myne… Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet, gee Ek mense in jou plek en mense in ruil vir jou lewe’ (Jesaja 43:1, 4 NLV).

Toe Boas vir Rut met vriendelikheid begin oorlaai het, het sy voor hom gebuig en gevra: ‘…Hoekom is u so goed vir my dat u my uitsonder terwyl ek ‘n buitelander is?’ (Rut 2:10 NLV). Let op hoe Boas haar geantwoord het: ‘…Ek het gehoor van al die liefde en goedheid wat jy… aan jou skoonma betoon het…’ (vers 11 NLV).

Naomi het bewus geword van Boas se liefde vir Rut, daarom het sy aan Rut die volgende opdrag gegee: ‘…Vannag sal hy die gars op die dorsvloer uitwaai. Doen nou soos ek jou sê. Gaan bad, gebruik reukolie en trek mooi aan. Gaan dan na die dorsvloer toe, maar pas op dat Boas jou nie sien voor hy klaar geëet en gedrink het nie. Let mooi op waar jy gaan slaap. Gaan dan, en gaan lê by sy voete. Hy sal wel vir jou sê wat om te doen’ (Rut 3:2-4 NLV). Sy het by sy voete begin en aan sy sy opgeëindig.

Moenie God druk of Hom met jou optrede probeer beïndruk nie, bly net by sy voete en Hy sal jou tot by sy sy ophef. ‘Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:6 NLV).

Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 3:21-38; Ps 64; Spr 16:27-30