Jou kinders sien jou

2020-03-22
Efesiërs 4:32 NLV

Hier is ‘n verhaal wat elke ouer moet lees en onthou. “Een dag het ek en my man in ‘n argument betrokke geraak en op mekaar begin skree. Ek het huilend op die stoep met my kop in my hande gaan sit. Ons twee-jarige het die argument aangehoor. ‘Ek is lief vir jou, Mamma,’ het sy gesê toe sy langs my kom sit en haar arms om my slaan. ‘Ek is ook lief vir jou,’ het ek geantwoord. Sy het haar kop op my skouer gerus en my ‘n harde drukkie gegee. ‘Ek wens jy was ook vir my pappa lief,’ het sy gesê. My hart het uit my borskas geskeur! ‘Maar ek is lief vir jou pappa. Ons het net met mekaar gestry.’ My dogter het geglimlag, opgestaan en weggeloop. ‘Waarheen gaan jy?’ het ek haar gevra. Sy het geantwoord: ‘Ek gaan vir Pappa vertel dat jy lief is vir hom!'” As jy jou kinders aan jou woede blootstel, moet jy seker maak dat hulle teenwoordig is wanneer julle genade en vergifnis aan mekaar bewys. Leer hulle hoe om die probleem te hanteer, sonder om die ander persoon aan te val. Leer hulle dat ‘n verskil in opinie tot ‘n besluit kan lei wat dinge vir almal beter maak. En dat jy verkeerd kan wees oor ‘n saak en steeds gerespekteerd en geliefd kan wees. Dikwels beteken dit dat jy hulle moet leer wat jy nooit geleer is nie. As dit die geval is, leer uit die foute wat jou ouers gemaak het en dra daardie kennis aan jou kinders oor. Vergewe wanneer jy seergemaak is en moenie jou wrokke bed to neem nie (sien Efesiërs 4:26). Jesus het gesê dat jy moet vergewe sodat ‘…julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe’ (Markus 11:25 NLV). Onthou, jou kinders sien jou!

Sielskos: Matt 5:5; Num 12:1-15; Ps 37:1-11; Fil 2:5-11

Staan op God se Woord (5)

2020-01-25
Psalm 34:19 NLV

Wanneer iemand jou hart gebreek het. Wanneer iemand vir wie jy lief is jou hart breek en jou vertroue verraai, is jy op ‘n weerlose plek. Die Vyand sal die ervaring gebruik om jou sover te kry om vier dinge te doen wat jou seerder sal maak, jou geestelik sal ontspoor en God se seën van jou sal steel: 1) Jy isoleer jouself en vervreem en vermy ander mense. 2) Jy verloor jou sin van vertroue en verdink die beweegredes van almal wat jy ontmoet. 3) Jy laat bitterheid toe om ‘n impak op jou verhouding met jou familie en diegene in jou sirkel van invloed te hê (sien Hebreërs 12:15). 4) Jy slaan terug en vergeld kwaad met kwaad (sien 1 Tessalonisense 5:15). Moenie dit doen nie! Staan eerder op God se Woord: ‘Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is.’ ‘…Ek sal hulle gehuil in blydskap verander. Ek sal hulle troos. Ek sal hulle vreugde gee in die plek van hartseer’ (Jeremia 31:13 NLV). ‘Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig… dat gevangenes vrygelaat sal word, die blindes sal sien, die onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (Lukas 4:18 NLV). ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Het iemand verkeerd teen jou opgetree? Vergewe hulle – en hou aan om hulle te vergewe totdat jy vryheid in jou gedagtes ervaar. Dis ‘n daaglikse gewoonte wat soms soos drie treë vorentoe en twee treë terug voel. As jy egter jou oë op Jesus hou, sal jy daar kom.

Sielskos: Jes 4-7; Matt 10:1-10; Ps 100; Spr 3:7-8

Vergewe – en bevry jouself!

2019-11-07
Filippense 3:13 NLV

Die Bybel sê hoe groter die oortreding, hoe groter is die noodsaaklikheid om jou oortreder te vergewe om sodoende met jou lewe te kan aangaan. Onthou jy toe jy klein was en jou ouers vir jou gesê het om die deur toe te maak? Hulle het dit gesê omdat jy in die winter die koue en in die somer die hitte laat inkom het. Vergifnis maak die deur op jou verlede toe! Paulus, wat Christene gemartel het voor hy self een geword het, skryf: ‘…een ding is seker, ek vergeet dit wat agter my lê, en strek myself uit na dit wat voorlê.’ Eers wanneer jy jou greep op die verlede verslap, kan jy jou toekoms vasgryp. Om te vergeet is ‘n besluit, een wat jy daagliks of selfs uurliks moet maak. Die punt is: Jy moet elke keer wanneer die kwessie wat jou seermaak opduik, vergewe (sien Matteus 18:21-22). Volkome genesing kan maande of jare neem. Wanneer iemand jou diep seermaak, moet jy dit ‘n doelwit in jou hart maak om hulle aan te hou vergewe, totdat jy vry van hulle invloed is. Maak nie saak wat hulle deur mishandeling, verlating, verraad, manipulasie of bedrog van jou gesteel het nie, bitterheid sal meer van jou steel! Soos om ‘n lat vir jou eie rug te pluk, so stel onvergifnis die persoon wat jou seergemaak het in staat om dit aan te hou doen. Totdat die kwessie dus opgelos is, sal jy dalk elke dag op jou knieë moet gaan en bid: ‘Here, deur ‘n daad van my wil, vergewe ek _________ en vra U om hulle te seën. Ek gee hulle aan U oor en beweeg aan met my lewe.’ Daar is geen kortpad nie – dis die enigste pad na vryheid toe!

Sielskos: 1 Kro 16-18; Joh 9:13-23; Ps 105:1-15; Spr 25:23-25

Die genesende krag van vergifnis

2019-11-04
Lukas 6:28 NLV

Aand na aand is Marie deur haar pa aangerand wanneer hy in ‘n dronk woedeaanval van die kroeg af by die huis gekom het. Die eerste kans wat sy dus kon kry, het sy die huis verlaat. Na genoeg tyd, het haar fisiese letsels begin genees, maar emosionele letsels kan ‘n leeftyd hou. Hulle kan jou in die verlede vasgevang hou en jou waardevolle verhoudings kos. Selfs die mense wat vir jou lief is kan moeg raak en wanhopig voel dat jy nooit gaan beter word, ten spyte van hulle beste pogings om jou te help nie. Ken jy so iemand? Is jy daardie iemand? Wil jy vorentoe na genesing en vreugde beweeg? Jy kan. Marie het dit gevind toe sy besluit het om haar pa te vergewe en vir hom begin bid het. Dis toe dat sy begin het om geestelik en emosioneel heel te word. Sy het aangehou om hom te vergewe en vir hom te bid, totdat haar ou herinneringe haar nie meer gevange gehou het nie. Jesus het gesê: ‘…Bid vir hulle wat julle seermaak.’ Jy mag dalk niks gedoen het om dit te veroorsaak of te verdien nie, jou oortreder kon jou vir redes wat jy dalk nooit sal verstaan nie seergemaak het. Dis hoekom Jesus op die kruis gebid het: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!…’ (Lukas 23:34 NLV). Dit laat nie jou oortreder daarmee wegkom nie. Hulle sal met die skuld van wat hulle gedoen het lewe en tensy hulle vir vergifnis na God toe draai, sal hulle geen vrede ervaar nie. Jy sal egter vrede hê! Wanneer jy besluit om iemand te vergewe en vir hulle te bid, neem jy jou mag terug en eis weer jou lewe vir jouself op.

Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Joh 8:31-41; Ps 30; Spr 25:13-17

Hou op om dit uit te stel

2019-09-08
Psalm 90:12 NLV

In ‘n koerantartikel in 1985, skryf Anne Wells: “My swaer het my suster se kas oopgemaak en ‘n pakkie wat in sneespapier toegedraai was, uitgehaal. Dit was ‘n pragtige handgemaakte rok; die prys met ‘n astronomiese syfer was steeds daaraan geheg. ‘Jou suster het dit gekoop die eerste keer wat ons New York toe gegaan het… agt of nege jaar terug,’ het hy gesê. ‘Sy het dit nooit gedra nie; sy het dit gehou om na ‘n spesiale geleentheid te dra. Ek dink hierdie is seker maar die regte geleentheid.’ Hy het die rok op die bed saam met die ander klere gesit – wat ons op pad was om na die begrafnisondernemer te neem. Toe het hy na my toe gedraai en gesê: ‘Moet nooit iets vir ‘n spesiale geleentheid bêre nie. Elke dag wat jy lewe is ‘n spesiale geleentheid!'” Daardie woorde het Anne Wells se lewe verander. Sy gaan voort: ‘Ek bêre niks meer nie. Nou gebruik ons die goeie breekware vir elke spesiale geleentheid – soos om ‘n kilogram te verloor, wanneer ons die verstopte drein oopkry of wanneer die eerste bloeisel te voorskyn kom. ‘Eendag’ of ‘een van die dae’ kom nie meer in my woordeskat voor nie. As dit die moeite werd is om te sien, te doen of te hoor, wil ek dit nou sien, doen of hoor. Elke oggend wanneer ek my oë oopmaak, sê ek vir myself dat dit ‘n spesiale geleentheid is.’ Dit laat mens dink, nè? Dit spoor jou aan om elke druppel vreugde uit die dag te tap en op te hou uitstel! Vergewe daardie oortreding, sê vir daardie persoon dat jy lief is vir hom of haar, onderneem daardie reis, gaan terug skool toe. Besluit vandag om die dinge te doen wat jy uitgestel het.

Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55