2019-07-05
Filippense 3:13 NLV
Solank as wat jy aan jou verlede vashou, sal jy nooit die toekoms kan aangryp nie. Die verlede kan ‘n ondraaglike swaar las wees wanneer jy dit probeer dra. Die manier om dit te laat gaan, is om op te hou om daaraan te dink. Vee dit uit jou gedagtes en uit jou gesprekke uit. Satan sal jou aanhoudend aan jou verlede herinner, omdat hy wil hê dat jy daarin moet vasval. Jy hoef egter nie. Jy kan jou eie denke kies. Jy sê: ‘Ek kan nie help om daaraan te dink nie.’ Ja, jy kan! Voor hy vir Christus ontmoet het, het Paulus kerke vernietig en Christene doodgemaak. Nadat hy Christus ontmoet het, moes hy na daardie selfde dorpe toe teruggaan, en wie het daar vir hom gewag? Weduwees. Weeskinders. Mense wie se lewens hy verwoes het. As Paulus nie daarby verby kon beweeg het nie, sou hy nooit sy Godgegewe opdrag vervul het nie. Paulus het nie aan geheueverlies gely nie; hy kon die gebeure onthou. Hy het egter geweet dat God hom vergewe het en dat hy homself vergewe het. Hy het gekies om die verlede te vergeet. ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.’ Wanneer jy kies om te vergeet, sal God jou in staat stel om dit te doen en vir jou die genade en vrede gee om aan te beweeg. Hy sal jou inderwaarheid sterker en wyser as gevolg daarvan maak. As jy met skuld, veroordeling, skaamte, blaam of spyt oor jou verlede sukkel, laat God toe om jou te vergewe, jou vry te maak en jou in staat te stel om vorentoe te beweeg.
Sielskos: Jer 51-52; Matt 7:1-14; Ps 137; Spr 15:15-17
2019-04-18
Hebreërs 9:22 NLV
Derdens was Golgota noodsaaklik! Presies hoe noodsaaklik? So noodsaaklik soos lewe of dood, hoop of wanhoop, hemel of hel. Dis ons enigste manier om gered te word. ‘Daar is geen redding by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie’ (Handelinge 4:12 NLV). Sonder Christus se dood, sou ons sondes ons vir ewig van God geskei het. As dit nie vir Jesus se dood was nie, sou ons aan die volle straf van God se wet onderworpe gewees het, skuldig aan elke sonde wat ons nog ooit gepleeg het en as veroordeelde sondaars, vir ewig verlore. Paulus skryf: ‘Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God’ (Romeine 3:19 NLV). Geen uitsonderings nie – die hele wêreld, insluitend jy, staan skuldig voor God se aangesig. Omdat Jesus egter aan elke vereiste van God se wet namens ons voldoen het, is ons vergewe en geregtig verklaar. Dis noodsaaklike inligting. Jy het net twee opsies wanneer dit by Jesus kom: aanvaar of verwerp Hom! Hy het gesê: ‘Elkeen wat glo en gedoop word, sal gered word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word’ (Markus 16:16 NLV). ‘…wat moet ek dan met Jesus die ‘Messias’ doen?..’ (Matteus 27:22 NLV). Die antwoord is eenvoudig: Plaas jou vertroue in Hom en word gered.
Sielskos: Jak 3-5; Luk 23:13-25; Ps 7:10-17; Spr 10:17-18
2019-03-21
Efesiërs 4:26-27 NLV
Die Bybel sê: ‘…Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie.’ Woede gee vir die duiwel grond om op te beweeg. Bitterheid nooi hom in om spasie in jou hart te kom beset. Wanneer jy dit doen, sal hy sy intrek neem en die plek met dinge soos skinderstories, laster en humeurigheid laat stink – enige tyd wanneer jy een van hierdie dinge doen, het jy vir Satan ‘n vastrapplek gegee. Wat moet jy dan doen? Gooi hom uit. Moenie ‘n sekonde van jou dag aan hom afstaan nie. Sê vir hom om in die Naam van Jesus sy tasse te pak en die pad te vat. Begin die proses van vergifnis. Moenie boekhou van die kwaad wat mense aan jou gedoen het nie. Bid vir jou vyande, eerder as om planne teen hulle te smee. Haat die verkeerde dade, sonder om die oortreders te haat. Begin om te fokus op dit wat Jesus vir jou gedoen het, eerder as op dit wat die oortreders aan jou gedoen het. So verregaande soos wat dit dalk mag klink, het Jesus ook vir hulle gesterf. As Hý dink dat hulle vergifnis verdien, dan verdien hulle dit. Maak dit vergifnis maklik? Nee. Dit kom met stampe en stote en het goeie en slegte dae. Sommige dae wanneer jy dink dat jou wond genees het en dat jy heeltemal daar oor is, sal iemand die rofie afstamp en die pyn sal terugkeer. Moet jou nie daaroor bekommer nie. Wanneer dit by vergifnis kom, is ons almal beginners. So lank as wat jy probeer om te vergewe, vergewe jy. Dis wanneer jy nie meer probeer om te vergewe nie, wat jy die duiwel ‘n vastrapplek gee.
Sielskos: Job 32-34; Luk 19:11-19; Ps 55:12-23; Spr 8:19-21
2019-03-11
1 Johannes 3:5 NLV
Wanneer jy weier om jou sonde te konfronteer en dit te hanteer, word jy ‘n maklike teiken vir die vyand. ‘…as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie’ (1 Korintiërs 10:12 NLV). Jy het nooit gedink jy kan so kwaad word, of ‘n buite-egtelike verhouding hê, of vir jou baas jok, of iemand finansieel verkul nie. Omdat jy nooit gedink het dat jy dit kon doen nie, het jy niks gedoen om jou daarteen te beskerm nie. So seker as wat die visse swem en die voëls vlieg, sal jou sondige natuur jou mislei, tensy jy dit beslis en Skriftuurlik hanteer. Paulus het geskryf: ‘Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge’ (Romeine 1:28 NLV). Die ergste ding wat God kan doen is om jou aan jou eie vleeslike impulse oor te gee en te sê, ‘Doen wat jy wil!’ Dis wonderbaarlik hoe ons ons sonde met ander mense s’n vergelyk en tot die gevolgtrekking kom dat ons sonde nie so erg is nie. Die Bybel sê: ‘Ons het immers almal gesondig…’ (Romeine 3:23 NLV). As jy oor ‘n afgrond probeer spring, maak dit nie saak of jy die ander kant met ‘n sentimeter of ‘n kilometer mis nie, jy val ewe ver en land ewe hard. Daar is egter goeie nuus. ‘Julle weet tog dat Hy verskyn het om die sonde weg te neem…’ Vandag sal Jesus jou sonde vergewe en jou die krag gee om met ‘n berouvolle hart na Hom te kom en sy genade te ontvang.
Sielskos: Job 1-4; Luk 16:1-18; Ps 24; Spr 7:24-25
2019-02-22
Spreuke 10:12 NLV
Wanneer jy aan jou wrokkigheid vasklou, is daar ‘n oorlog binne-in jou aan die gang. Jy is in ‘n stryd met jouself, sowel as ander mense, gewikkel. Hoe meer jy veg, hoe meer grond verloor jy. Jy kan nie in hierdie situasie wen nie. Jy sukkel om uit te klaar wie reg en wie verkeerd is. Jy spandeer so baie tyd om wraak te neem, te skree en te baklei dat jy jou vrede en vreugde verloor. Beëindig dadelik die konflik! Weier om nog ‘n dag so te leef. Moenie toelaat dat iemand anders se aksies jou reaksie bepaal nie. ‘Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind’ (1 Petrus 5:8 NLV). Moenie Satan se volgende maaltyd word nie. Laat die liefde en vrede van God jou gedagtes so baie vul dat dit na ander mense toe oorvloei – insluitend diegene wat jou ontstel het. Stop en dink: Wil jy regtig soos die persoon wees wat jou seergemaak het? Wat sou Jesus gedoen het? Hy sou sy ander wang gedraai het (sien Matteus 5:39). ‘Maar wat van die mense wat my verkeerd behandel het?’ vra jy. Wat daarvan? Dis nie jou plig om oordeel oor hulle te fel nie. Daar is net een gekwalifiseerde regter; laat Hom toe om dit te hanteer (sien Jakobus 4:12). Vra God om jou te help om jou woede te laat gaan, om die ander wang te draai en die mense wat jou verkeerd behandel het, te vergewe. Bid hierdie eenvoudige gebed: ‘Here, ek is kwaad. Help my om dit te laat gaan. Dankie vir die genade wat U my gegee het om die persoon wat my seergemaak het te vergewe. In Jesus se Naam: Amen.’
Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:29-44; Ps 40:9-17; Spr 6:6-8