Wees gereed. Wees wys. Wees duidelik.

2019-02-09
Handelinge 8:35 NLV

In Handelinge 8, lees ons die verhaal van ‘n hoë-profiel leier wat vir Christus gewen is. Hierdie man het ‘n posisie soortgelyk aan die staatsekretaris van Amerika beklee. Hy is egter deur ‘n persoon met ‘n lae profiel, genaamd Filippus, ‘n ouderling, na Christus toe gelei (sien verse 26-40). Kom ons kyk hoe dit gebeur het en wat ons daaruit kan leer: 1) Filippus was gereed. Toe hierdie man iemand nodig gehad het om die evangelie aan hom te verduidelik, was Filippus gereed om dit te doen. Sou jy dit kon doen? Wanneer God ‘n taak het om gedoen te word, kan Hy jou roep? Sal jy voorbereid en gewillig wees? ‘…As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan’ (1 Petrus 3:15 DB). 2) Filippus was wys. Hy het nie sommer met die deur in die huis geval en begin preek nie. Let twee dinge van Filippus op: a) Hy is deur God se gees gelei (sien Handelinge 8:29) b) Hy het die regte oomblik herken (sien verse 34-35). Mense wat siele vir Christus wen, is sensitief en strategies. 3) Filippus was duidelik. Hy het nie ‘n vae gesprek oor godsdiens met die man gehad nie, hy het direk oor Jesus gepraat. Dis wat mense nodig het – ‘n verhouding met die Here Jesus Christus! Hulle moet weet dat Hy lewe en dat Hy lief is vir hulle. Dat Hy magtig genoeg is om oor die heelal te heers, maar steeds persoonlik genoeg is om hulle sondes te vergewe en hulle twyfel op te los. Jou werk is om die uitnodiging uit te reik. Het jy ‘n strategie nodig om siele te wen? Probeer hierdie een – dit werk!

Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17

Wanneer iemand jou irriteer

2019-01-16
Efesiërs 4:32 NLV

Sommige van ons blink uit in ons loopbane, maar tree soos ‘n bul in ‘n glashuis op wanneer dit by ons verhoudings kom. Dan rasionaliseer ons dit deur te sê: ‘Ek het nie bedoel om iemand seer te maak nie,’ of ‘Dis maar net hoe ek is.’ Jammer. God laat ons nie so maklik daarvan afkom nie. Wanneer iemand jou irriteer, verwag God van jou om twee dinge te doen: 1) Wees die eerste een om uit te reik. Jy mag dalk reg wees, maar as jy wrokkig voel, watse nut het dit dan? Dink daaroor: As jy net ‘n jaar oorgehad het om te lewe, sou jy nog een sekonde van jou tyd aan sulke dinge spandeer het? Nee! Die Bybel sê: ‘Vergewe mekaar soos God julle vergewe het…’ (Efesiërs 4:32 NLV). God het die eerste tree geneem om ons te vergewe, sodat ons weet hoe om dit vir ander mense te doen. 2) Jy moet begrip hê. Wanneer sommige van ons ons punt probeer bewys, stoomroller ons oor almal en alles in ons pad. Doelgerigte, tydsbewuste mense kan hieraan skuldig wees. Die Bybel sê: ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het.’ Die kans is goed dat die mense wat onder jou vel kom nie probeer om jou lewe moeilik te maak nie; hulle sukkel om hulle eie lewens te hanteer. Sodra jy begryp dat hulle nie kwaadwillig is nie, sal jy deernis vir hulle begin kry. Dis hoe dit met God is. ‘Hy sal ‘n geknakte riet nie verder afbreek nie. Mense wat dof brand soos ‘n lamppit sal hy nie uitdoof nie…’ (Jesaja 42:3 NLV). Vra Hom vandag om jou te wys hoe om sy liefde aan diegene wat jou irriteer, te bewys.

Sielskos: Jes 49-52; Luk 3:11-20; Ps 81; Spr 2:11-15

Jou sondepatroon (2)

2018-10-22
Efesiërs 4:32 NLV

As gevolg van die manier wat ons aanmekaar gesit is, vind ons onsself tot sekere sondes aangetrokke. Gevolglik is ons areas van swakheid dikwels konsekwent en voorspelbaar. Dis soos om ‘n ‘sondeprofiel’ te hê. In sy boek, Signature Sin: Taming Our Wayward Hearts, identifiseer dr Michael W. Mangis nege van hierdie patrone, deur ‘n antieke sisteem genaamd die Enneagram te gebruik. Dis ietwat kontroversieel omdat dit deur baie geestelike tradisies gebruik word. Daar word egter geglo dat dit uit die sewe dodelike sondes en die vrug van die Gees sy oorsprong het, dus kan dit ook binne ‘n Christelike raamwerk toegepas word. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na hierdie nege sondepatrone en die mense wat heel waarskynlik daarmee sal sukkel, om jou sodoende te help om meer bewustelik te word en ‘n skans teen jou spesifieke area van weerloosheid op te bou. 1) Hervormers. Hervormers word deur perfeksie aangetrek. Hulle het ‘n hoë standaard van uitnemendheid en hulle grootste vrees is om swakplekke te hê. (Hulle maak goeie chirurge – en uitstekende gholfspelers). Op hulle beste is hulle kruisvaarders, waghonde en profete. Omdat hulle egter met perfeksionisme en self-regverdiging sukkel, is hulle geneig om ander wie se standaarde nie heeltemal so hoog is nie, te oordeel. Die profeet Amos is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy praat van ‘n ‘skietlood’ wat wys hoe ver mense van God se standaarde te kort skiet (sien Amos 7:7-8). Paulus het die hervormers aangespreek deur te sê, ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ As ‘n hervormer, is jou grootste uitdaging om liefde, geduld en genade aan diegene met wie jy omgaan, te demonstreer. Met God se hulp kan jy dit doen.

Sielskos: Eks 39-40; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 27:7-9

Bid vir die regte woorde

2018-06-14
Kolossense 4:6 NLV

Bid: ‘Here, ek sluit by die psalmdigter Dawid aan en vra: ‘Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart vir U aanneemlik wees…’ (Psalm 19:15 NLV). Ek besef dat die woorde wat ek spreek geweldige krag het, in beide my eie lewe en in my verhoudings. U Woord sê, ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ (Spreuke 18:21 NLV). Leer my om woorde te spreek wat altyd getrou aan u Woord is en wat U verheerlik. Help my om versigtig te wees om woorde te spreek wat ander mense opbou in plaas van afbreek, wat komplimenteer eerder as kritiseer, wat in liefde en waarheid gespreek word en nie deur my eie verwagtings en begeertes verdraai word nie, en wat vertroue en nie mismoedigheid meebring nie. Waar ek woorde gespreek het wat negatief of skadelik vir iemand anders was, vergewe my. Weerhou my daarvan om dinge te sê wat ander mense op enige manier seermaak of afkraak. Ek wil vriendelik met my woorde wees en ‘n tong hê wat genesing en seën bevorder (sien Spreuke 12:18). Help my om geloof in u Heerskappy oor my lewe te hê dat ek ‘…alles sonder kla of teëpraat’ (Filippense 2:14 NLV) kan doen. Help my om nie negatiewe dinge van myself te sê nie. Help my om onmiddellik op te hou wanneer ek ‘n kritiese woord begin sê. U woord sê, ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Laat my woorde U vandag eer en verheerlik. In Jesus se naam bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 15:33-47; Ps 143; Spr 15:8-10

Barabbas – en jy

2018-05-15
Lukas 23:18 NLV

Die Bybel sê: ‘Hulle het dit egter saam met die menigte uitgekreet: ‘Weg met hom! Laat Barabbas vir ons los!’ (Barabbas was in die tronk gegooi oor ‘n oproer in die stad en oor ‘n moord)’ (verse 18-19 NLV). Net soos Barabbas, verdien ons om vir ons sondes te sterf. Vier tronkmure, deur vrees, seer en haat gebou, omring ons. Ons word deur ons verlede, ons verkeerde keuses en ons trots gevange gehou. Ons is skuldig bevind. Ons sit op die vloer van ‘n stowwerige sel en wag vir die finale oomblik. Ons laksman se voetstappe eggo teen die klipmure. Kop tussen die knieë, kyk ons nie op as hy die deur oopmaak nie; ons lig nie ons oë as hy begin praat nie. Ons weet wat hy gaan sê: ‘Tyd om vir jou sondes te betaal.’ Dan hoor ons egter iets anders: ‘Jy is vry om te gaan. Hulle het Jesus in jou plek geneem.’ Die deur swaai oop en die wag skel, ‘Loop!’ en ons bevind onsself in die oggendson, ons boeie is weg, ons misdade is vergewe en ons wonder, ‘Wat het nou net gebeur?’ Genade het gebeur! God het jou sondes weggeneem. Almal van hulle. Waarheen het Hy hulle geneem? Na die bopunt van ‘n heuwel genaamd Golgota. ‘Maar nou spreek God ons in sy onverdiende goedheid vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ‘n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo…’ (Romeine 3:24-26 NLV). Jesus het jou lief en vergewe jou, en Hy het ‘n wonderlike plan vir jou lewe. Kom dus vandag na Hom toe.

Sielskos: Deut 30:1-32:28; Mark 8:27-38; Ps 57; Spr 12:15-17