Wees gereed. Wees wys. Wees duidelik.

2019-02-09
Handelinge 8:35 NLV

In Handelinge 8, lees ons die verhaal van ‘n hoë-profiel leier wat vir Christus gewen is. Hierdie man het ‘n posisie soortgelyk aan die staatsekretaris van Amerika beklee. Hy is egter deur ‘n persoon met ‘n lae profiel, genaamd Filippus, ‘n ouderling, na Christus toe gelei (sien verse 26-40). Kom ons kyk hoe dit gebeur het en wat ons daaruit kan leer: 1) Filippus was gereed. Toe hierdie man iemand nodig gehad het om die evangelie aan hom te verduidelik, was Filippus gereed om dit te doen. Sou jy dit kon doen? Wanneer God ‘n taak het om gedoen te word, kan Hy jou roep? Sal jy voorbereid en gewillig wees? ‘…As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan’ (1 Petrus 3:15 DB). 2) Filippus was wys. Hy het nie sommer met die deur in die huis geval en begin preek nie. Let twee dinge van Filippus op: a) Hy is deur God se gees gelei (sien Handelinge 8:29) b) Hy het die regte oomblik herken (sien verse 34-35). Mense wat siele vir Christus wen, is sensitief en strategies. 3) Filippus was duidelik. Hy het nie ‘n vae gesprek oor godsdiens met die man gehad nie, hy het direk oor Jesus gepraat. Dis wat mense nodig het – ‘n verhouding met die Here Jesus Christus! Hulle moet weet dat Hy lewe en dat Hy lief is vir hulle. Dat Hy magtig genoeg is om oor die heelal te heers, maar steeds persoonlik genoeg is om hulle sondes te vergewe en hulle twyfel op te los. Jou werk is om die uitnodiging uit te reik. Het jy ‘n strategie nodig om siele te wen? Probeer hierdie een – dit werk!

Sielskos: Gen 25:19-27:46; Luk 9:18-27; Ps 138; Spr 4:14-17