Staan op God se Woord (5)

2020-01-25
Psalm 34:19 NLV

Wanneer iemand jou hart gebreek het. Wanneer iemand vir wie jy lief is jou hart breek en jou vertroue verraai, is jy op ‘n weerlose plek. Die Vyand sal die ervaring gebruik om jou sover te kry om vier dinge te doen wat jou seerder sal maak, jou geestelik sal ontspoor en God se seën van jou sal steel: 1) Jy isoleer jouself en vervreem en vermy ander mense. 2) Jy verloor jou sin van vertroue en verdink die beweegredes van almal wat jy ontmoet. 3) Jy laat bitterheid toe om ‘n impak op jou verhouding met jou familie en diegene in jou sirkel van invloed te hê (sien Hebreërs 12:15). 4) Jy slaan terug en vergeld kwaad met kwaad (sien 1 Tessalonisense 5:15). Moenie dit doen nie! Staan eerder op God se Woord: ‘Die Here is naby dié wat hartseer is. Hy help hulle wat geestelik stukkend is.’ ‘…Ek sal hulle gehuil in blydskap verander. Ek sal hulle troos. Ek sal hulle vreugde gee in die plek van hartseer’ (Jeremia 31:13 NLV). ‘Die Gees van die Here is op My omdat Hy My aangestel het om die Goeie Nuus vir die armes aan te kondig… dat gevangenes vrygelaat sal word, die blindes sal sien, die onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (Lukas 4:18 NLV). ‘Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:31-32 NLV). Het iemand verkeerd teen jou opgetree? Vergewe hulle – en hou aan om hulle te vergewe totdat jy vryheid in jou gedagtes ervaar. Dis ‘n daaglikse gewoonte wat soms soos drie treë vorentoe en twee treë terug voel. As jy egter jou oë op Jesus hou, sal jy daar kom.

Sielskos: Jes 4-7; Matt 10:1-10; Ps 100; Spr 3:7-8