Die leeu en die lam

2020-07-20
Efesiërs 4:2 NLV

Een dag het ‘n leeu ‘n tier in die oerwoud raakgeloop. Hy het die tier se stert gegryp en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die tier het gedwee geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Volgende het die leeu ‘n apie gegryp en gevra: ‘En wie sê jy is die koning van die oerwoud?’ Die apie het nederig geantwoord: ‘Jy is, o magtige leeu.’ Toe het die leeu ‘n olifant raakgeloop en gevra: ‘Wie is die koning van die oerwoud?’ Die olifant het hom met sy slurp opgetel, in die lug rondgeswaai en hom teen ‘n boom vasgegooi, waar hy bloeiend en gebroke in ‘n hopie neergeval het. Die leeu het stadig opgestaan, sy wonde gelek en vir die olifant gesê: ‘Dis nie nodig om so rof te raak net omdat jy nie die antwoord ken nie.’ Die les uit hierdie verhaal is: Hoe groter jou gesag is, hoe genadiger moet jy teenoor ander mense wees. In die Skrif word daar na Jesus as die leeu en die lam verwys; Hy is die Leeu van die stam Juda en die Lam van God. Hierin wys Hy vir ons die kern van ware krag en leierskap. Wanneer jy vir die waarheid opstaan, moet jy soos ‘n leeu brul, maar wanneer jy met mense te doen kry, moet jy so sag soos ‘n lammetjie wees. Paulus spel dit duidelik in hierdie Skrifgedeelte uit: ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld, moet julle mekaar in liefde verdra.’ Weer skryf hy: ‘Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV).

Sielskos: Hand 8-9; Luk 8:26-39; Ps 146; Spr 16:4-5

Bid vir geestelike insig

2020-07-17
Spreuke 20:5 NLV

Die mense wat Simon geken het, het geweet dat hy impulsief was en geneig was om te praat voor hy dink. Jesus het egter iets anders in hom gesien; dis hoekom Hy hom Petrus hernoem het, met die implikasie dat hy ‘n rots is wat vir ‘n fondasie geskik was. Kan jy jou die kyk op die ander dissipels se gesigte indink toe Jesus gesê het: ‘…Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie’ (Matteus 16:18 NLV)? Petrus het toe ‘n steunpilaar, ‘n gerespekteerde leier en stigter van die kerk geword, as gevolg van Christus se vermoë om verby die oppervlak te kyk en te sien wat aan die binnekant is. Ons het wonderbaarlike potensiaal omdat ons volgens God se ewebeeld gemaak is, maar soms moet ‘n ‘verstandige’ persoon dit herken en na vore bring. Te veel van ons sien net wat op die oppervlak is. Ons is dus vinning om iemand as arrogant, of humeurig, of swak te etiketteer. Wanneer jy egter geestelike insig het, kyk jy verby dit, na die hoop en vrese agter die persoon se gedrag. Ons het nie nog selfaangestelde kritici nodig nie, ons het die volgende nodig: 1) Ouers wat vir hulle kinders bid, verby hulle foute kyk en hulle uniekheid na vore bring. 2) Eggenote wat na die verborge skatte in hulle huweliksmaats soek. 3) Besigheidsleiers wat hulle werkers met respek behandel en hulle verantwoordelikhede by hulle talente laat pas. 4) Gelowiges wat onvolwasse, struikelende mede-Christene vergewe en werk om hulle te ontwikkel. 5) Gelowiges wat verlore mense deur Jesus se oë sien en weet wat sy transformerende krag kan vermag. Bid dus vir geestelike insig.

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Luk 8:1-15; Ps 133; Spr 16:2

Leuens: Satan se moedertaal

2020-07-15
Johannes 8:44 NLV

Jesus het van Satan gesê: ‘…Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ‘n leuenaar en ook die vader daarvan is.’ Hy lieg op drie maniere vir ons: 1) Vertwyfelinge: Sy strategie is om jou te ontmoedig en jou te laat tou opgooi deur te sê: ‘Wat help dit? Niks het verander nie!’ Wanneer jy dit sê, teken jy die strokie en aanvaar die aflewering. Moenie dit doen nie! Die Bybel sê: ‘…Deur jou woorde en jou dade word jy gevang…’ (Spreuke 6:2 DB). Dit wat jy sê, vorm jou perspektief en skep die omgewing waarin jy lewe. Moet nooit iets sê wat Satan laat dink dat hy gewen het nie. 2) Skok. As jy nie Satan se aanval verwag nie, sal jy geskok wees en dink: ‘Ek maak seker nie vordering nie. Hoekom anders sal ek dan dieselfde gevegte oor en oor veg?’ Satan gee nie sommer tou op nie en sy aanval is bewys dat hy jou nog nie oorwin het nie. 3) Gevoelens. Satan sal jou probeer oortuig dat jy nie vergifnis verdien nie. Hy sal vir jou sê dat omdat jy nie voel dat jy vergewe is nie, is jy nie vergewe nie. Onthou egter, hy is ‘n leuenaar. Dis hier waar die oorwinning besluit word. Staan vas. Die werk is reeds in jou gedoen. God se Woord sê so; nou moet jy dit ook begin sê. Tyd sal jou posisie versterk. Sy strategie is om jou te laat voel dat niks verander het nie. Moenie dit glo nie! Jesus het gesê: ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers; en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:31-32 NLV).

Sielskos: Joël 1-3; Luk 7:24-35; Ps 118:19-29; Spr 15:33

God sal jou vergewe en jou herstel

2020-05-28
Jesaja 42:3 NLV

Het jy al ooit van die groot melasse vloed wat in Boston plaasgevind het, gehoor? Op 15 Januarie, 1919, het ‘n staalvat wat amper nege miljoen liter melasse bevat het, gebreek. ‘n Nege meter hoë muur van warm stroop het mense en perde verdrink, geboue vernietig en karre, vragmotors en waens saamgesleur. Die enorme tenk, wat 15 meter hoog was en ‘n omtrek van 73 meter gehad het, was swak ontwerp. Besigheidsamptenare het die krake op die tenk wat aanhoudend te voorskyn gekom het, net met dieselfde kleur as die melasse geverf – hulle filosofie was uit die oog, uit die hart. Hierdie amptenare het geweet dat die vat gevaarlik was, maar niks daaraan gedoen nie. Daar het 21 mense gesterf en 150 mense is in die tragedie beseer, wat deur een skrywer as die ‘Swart Golf’ beskryf is. Daar is twee belangrike lesse uit hierdie verhaal te leer. Eerstens, gee aandag aan die krake in jou karakter; dit wat jy vandag ignoreer, kan jou dalk môre laat verdrink. Tweedens, dit maak nie saak hoe gebroke jy mag wees nie, as jy na God toe draai, sal Hy jou herstel. Jesaja sê: ‘Hy sal ‘n geknakte riet nie verder afbreek nie…’ Miskien dink jy dat jou sonde te groot is en dat daar nie vir jou omdraai kans is nie. Nee. God het gesê: ‘…Ek is ‘n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou’ (Eksodus 34:6 NLV). ‘…Dan sal Ek hulle genees van hulle ontrouheid; my liefde sal geen perke ken nie, want my woede is weg vir altyd!’ (Hosea 14:5 NLV). ‘…U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou. U sal weer medelye hê met ons. U sal ons sonde… weggooi in die diepte van die see!’ (Miga 7:18-19 NLV). God sal jou vandag vergewe en jou herstel.

Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18

Vergewe hulle en bevry jouself

2020-04-26
Markus 11:25 NLV

Wanneer iemand ons seermaak, is ons natuurlike reaksie om hulle óf terug seer te maak, óf om te hoop dat hulle sal ly vir dit wat hulle ons aangedoen het. As verloste kinders van God is dit egter die verkeerde reaksie. Dis dan wanneer ons besef dat vergifnis nie maklik of natuurlik kom nie; dit verg bonatuurlike genade van ons kant af. Waar kry ons dit? Deur gebed! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.’ Wanneer jy God se genade teenoor jou onthou, het jy geen keuse as om dieselfde genade aan die persoon wat jou seergemaak het, te bewys nie. Iemand het een keer gesê: ‘Vergifnis is ‘n besluit om ‘n gevangene vry te laat en dan agter te kom dat die gevangene jy is.’ As jy dus die begeerte het om iemand te vergewe, raak opgewonde; die Heilige Gees het alreeds die helfte van die werk gedoen. Om die ander helfte te doen, moet jy nederig word en bid: ‘Vader, ek staan elke begeerte wat ek het om wraak te neem, teë. U het die situasie gesien voor dit gebeur het en in u oneindige wysheid het U toegelaat dat dit gebeur. U Woord sê dat U ‘…alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat [U] liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV), dus, met die hulp van die Heilige Gees, vergewe ek hulle van hierdie oomblik af vorentoe. Ek sal nie oor die situasie tob nie, maar eerder u Woord daaroor spreek.’ Dit word ‘n ‘gebed van bevryding’ genoem. Jy bevry nie net jou oortreder nie; jy bevry en herposisioneer ook jouself om in God se seën te stap. Dis hoekom jy hulle moet vergewe!

Sielskos: Matt 5:8; Ps 24:3-6; 2 Pet 3:3-14; Ps 51:10