God sal jou vergewe en jou herstel
2020-05-28Jesaja 42:3 NLV
Het jy al ooit van die groot melasse vloed wat in Boston plaasgevind het, gehoor? Op 15 Januarie, 1919, het ‘n staalvat wat amper nege miljoen liter melasse bevat het, gebreek. ‘n Nege meter hoë muur van warm stroop het mense en perde verdrink, geboue vernietig en karre, vragmotors en waens saamgesleur. Die enorme tenk, wat 15 meter hoog was en ‘n omtrek van 73 meter gehad het, was swak ontwerp. Besigheidsamptenare het die krake op die tenk wat aanhoudend te voorskyn gekom het, net met dieselfde kleur as die melasse geverf – hulle filosofie was uit die oog, uit die hart. Hierdie amptenare het geweet dat die vat gevaarlik was, maar niks daaraan gedoen nie. Daar het 21 mense gesterf en 150 mense is in die tragedie beseer, wat deur een skrywer as die ‘Swart Golf’ beskryf is. Daar is twee belangrike lesse uit hierdie verhaal te leer. Eerstens, gee aandag aan die krake in jou karakter; dit wat jy vandag ignoreer, kan jou dalk môre laat verdrink. Tweedens, dit maak nie saak hoe gebroke jy mag wees nie, as jy na God toe draai, sal Hy jou herstel. Jesaja sê: ‘Hy sal ‘n geknakte riet nie verder afbreek nie…’ Miskien dink jy dat jou sonde te groot is en dat daar nie vir jou omdraai kans is nie. Nee. God het gesê: ‘…Ek is ‘n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou’ (Eksodus 34:6 NLV). ‘…Dan sal Ek hulle genees van hulle ontrouheid; my liefde sal geen perke ken nie, want my woede is weg vir altyd!’ (Hosea 14:5 NLV). ‘…U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou. U sal weer medelye hê met ons. U sal ons sonde… weggooi in die diepte van die see!’ (Miga 7:18-19 NLV). God sal jou vandag vergewe en jou herstel.
Sielskos: Lev 23:15-22; Hand 2:1-18