Hoe om jouself te beskerm wanneer jy eensaam is

2021-09-26
Psalm 25:16 NLV

Dawid, wat owerspel met ‘n ander man se vrou gepleeg het, het gebid: ‘Draai u gesig na my en bewys genade aan my, want ek is alleen en in diepe nood. Die kwellinge van my gedagtes word al meer. Verlos my tog uit hierdie ellende!.. Kyk hoeveel vyande is teen my, hoe hulle my haat met venyn! Beskerm my en red my! Bewaar my van vernedering, want ek vertrou op U. Mag opregtheid en eerlikheid my beskerm, want ek wag op U’ (verse 16-21 NLV). Hoe kan jy jouself in areas waar jy weerloos is, beskerm?

1) Deur naby aan God te bly. Wanneer jy eensaam is, maak dit nie sin om jouself van God af te sonder nie. Dit verhoog net jou blootstelling aan dinge soos ontrouheid, pornografie, dwelms en alkohol.

2) Deur nie meer weg te kruip nie. Raak betrokke by ‘n aspek in die bediening. Wees gewillig om meer toeganklik te wees, deur ander mense te leer ken en hulle toe te laat om jou te leer ken. Wanneer jy tyd met mense bestee wat waarlik vir jou omgee, hou eensaamheid op om so ‘n groot kwessie te wees.

3) Deur die fokus van jouself af te neem. Winston Churchill het gesê: ‘Ons maak ‘n bestaan deur dit wat ons kry, maar ons maak ‘n lewe deur dit wat ons gee.’ Oorwinning vind plaas wanneer jy na mense in nood uitreik; jouself vir hulle gee, vir hulle bid, vir hulle lief is en hulle dien.

4) Deur diegene te vergewe wat jou seergemaak het. Wanneer jy jouself isoleer nadat jy seergekry het, lei dit net tot bitterheid. Vergewe, gee dit aan God oor, laat Hom toe om jou oortreder te hanteer – en gaan met jou lewe aan.

Sielskos: Gen 24:1-51; 2 Kor 6:14-7:1

Omskep jou verlies in wins (2)

2021-04-15
Matteus 3:8 NLV

Toe Israel se leiers na Jefta vir hulp gedraai het, was hulle in nood en wou hulle hom ‘gebruik.’. Dus het Jefta in wese gesê: ‘Kom ons verstaan mekaar mooi oor die tipe verhouding wat ons gaan hê.’ Op daardie punt het hy met hulle onderhandel en het in die hoogste leierskapsposisie geëindig.

Wanneer jou vertroue geskend word, moet jy vergewe. Deur dit te doen, maak jy jouself vry. Jy moet egter wysheid aan die dag lê om vorentoe te beweeg. God verwag nie van jou om jouself in ‘n posisie te sit waar jy weer seergemaak kan word nie.

Miskien het jy al die storie gehoor van die man wat met ‘n ernstige brandwond op sy regteroor dokter toe is. Hy het verduidelik: ‘Ek was besig om te stryk en televisie te kyk toe die foon lui en toe tel ek die strykyster in plaas van die foon op.’ Die dokter het verbaas gevra: ‘Maar hoe het jy die brandwond op jou linkeroor opgedoen?’ Die man het uitgeroep: ‘Want hy het weer gebel!’

Wanneer jy deur iemand seergemaak word, moet jy versigtig wees om jouself nie weer in ‘n situasie te plaas waar hulle jou oor en oor kan seermaak nie. Vergifnis moet onmiddellik wees, maar vertroue moet verdien word. Jou oortreder moet die vrugte van sy bekering wys – konsekwente gedrag wat bewys dat hy of sy verander het. Jesus het gesê: ‘Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.’

Jy benodig twee dinge: genade en wysheid. Genade beteken dat jy aan ander dieselfde vergifnis bewys wat God aan jou bewys het. Wysheid beteken dat jy weet watter tipe verhouding jy in die toekoms met daardie persoon kan hê.

Sielskos: Fil 1-4; Mark 2:1-12; Ps 43; Spr 10:10

Vergewe omdat jy vergewe is

2021-02-05
Matteus 18:33 NLV

Jesus het gesê: ‘Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld. Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld. Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’ Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf. Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ‘n paar rand geskuld het. Hy… sê: ‘Betaal jou skuld!’ Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’ Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi… Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld. Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel. Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek vir jou jammer gekry het nie?’ Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het. So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe’ (verse 23-35 NLV).

As jy vandag wraak in jou hart koester en weier om iemand te vergewe, lees weer hierdie verhaal. Dis die woord vir jou vandag!

Sielskos: Jes 63-66; Matt 12:38-50; Ps 120; Spr 3:33-35

Krag deur mededeling

2021-02-02
Handelinge 19:18 NLV

Met betrekking tot die kerk in Efese, skryf Paulus: ‘Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely… So het die Woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword’ (verse 18-20 NLV). Geestelike genesing vind in kerke soos dié plaas. Wanneer jy dus in dieselfde patroon van sonde en mislukking vasgevang is, moet jy volwasse, toegewyde Christene soek wat nie deur jou probleem geskok sal word nie, wat nie jou vertroue sal skend nie en wat weet hoe om vir jou en saam met jou te bid.

Jesus het sy volgelinge die outoriteit gegee om belydenisse aan te hoor en genade uit te spreek. ‘Wie se sondes julle ook al vergewe, dit word hulle vergewe; wie s’n julle ook al handhaaf, word gehandhaaf’ (Johannes 20:23 NLV). ‘n Geestelike katarsis vind plaas wanneer iemand jou in die oë kyk en sê: ‘God vergewe jou, ek vergewe jou, vergewe nou jouself en wandel in God se vergifnis!’ Vergifnis is so ‘n sterk krag dat dit genesing kan fasiliteer.

Jakobus skryf: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige uitwerking’ (Jakobus 5:14-16 NLV). Indien jy nie seker is met wie jy moet praat, of wie jy kan vertrou nie, begin by jou pastoor.

Sielskos: Jes 49-52; Matt 12:1-14; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28

Raak ontslae daarvan

2020-12-16
Efesiërs 4:31 NLV

Die woorde: ‘Raak ontslae van alle bitterheid,’ roep die beeld op van ‘n sjirurg wat ‘n kwaadaardige groeisel uitsny om die persoon se lewe te red. ‘n Ander vers: ‘…Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV), beveel ons om waaksaam te wees, omdat ‘n klein saadjie bitterheid wortel kan skiet en probleme veroorsaak.

Bitterheid het baie oorspronge: ‘n afwesige of skellende ouer wie ons nie kan vergewe nie; ‘n aaklige skeisaak wat ons aanhou herleef; die sorgelose fluistering van ‘n vriend wat nie eers bewus is van die effek daarvan op jou nie; ‘n baas wat ons vir bevordering oorgesien het.

Wat is die antwoord? Paulus skryf: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het’ (Efesiërs 4:32 NLV). Hoe gouer jy dit doen, hoe beter! Die swaarste ding wat jy ooit sal ronddra, is ‘n wrok. Jou primêre begeerte sal dan wees om die skuldige party aan die pen te laat ry, veral wanneer jy of jou geliefde die slagoffer is.

Satan kom dan die situasie binne en oortuig jou dat dit reg is dat jy ‘n wrok koester. Jy beskerm mos net jouself sodat jy nie weer seerkry nie, nie waar nie? Wanneer dit gebeur, skop jy vas, jy probeer jou posisie regverdig en jy raak gemaklik daarmee om met bitterheid saam te lewe. Totdat dit jou vernietig.

Dit hoef egter nie met jou te gebeur nie, omdat daar geen emosie is wat so diep wortel geskiet het dat God se genade dit nie kan bereik en verwyder nie. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Raak ontslae van alle bitterheid.’

Sielskos: Neh 8-10; Joh 20:1-9; Ps 105:37-45; Spr 30:20-23