Vergewe jou ouers (1)

2022-03-20
Efesiërs 4:32 NLV

Daar is niks erger as die pyn wat ouers hul kinders toedien nie. Dikwels gebeur dit as gevolg van onkunde, maar dit beteken nie dat dit minder seer is wanneer jy aan die ontvangkant daarvan is nie.

‘n Christelike skrywer merk op: ‘Behoeftes waaraan daar nie in die kinderjare voldoen is nie, sal net so sterk in volwassenheid wees, maar dit sal kundig gekamoefleer wees. As jy as kind mishandel is, moenie mislei word om te dink: ‘Ek is wedergebore – dis nie veronderstel om steeds seer te maak,’ nie. Die feit dat jy steeds seer het, negeer nie jou wedergebore status of maak jou minder geestelik nie. Omdat mense geneig is om God op dieselfde manier as wat hulle hulle ouers beskou het, te sien, neem dit tyd vir genesing, verlossing en om die liefde van God te leer ken, voordat algehele vertroue plaasvind.

Om jou ouers te vergewe is ‘n groot deel van die genesing. Jy moet die vader wat jou nooit beskerm het nie, die moeder wat jou misbruik en mishandel het, die stiefpa wat nie lief was vir jou nie, die oupa of oom wat jou seksueel mishandel het, die ouer wat nooit daar was vir jou nie, die selfsugtige ouer, of die emosioneel gebrekkige ouer, vergewe. Hierdie bitter pynlike ervarings sal aanhou om jou seer te maak as jy nie al daardie pyn en bitterheid laat gaan nie en vir God vra om jou te help om te vergewe nie. Hy is die God van genesing, so Hy kan enigiets wat in jou verlede gebeur het, verlos. Hy kan die brug tussen jou en jou kinders, of ouers, of vriende, regmaak. Laat God toe om jou situasie te verlos, sodat dit omgedraai kan word en in die regte rigting kan begin beweeg.’

Sielskos: Lev 24:17-22; Deut 15:7-11; Matt 5:38-48

Vergewe ander mense (2)

2022-02-26
Jeremia 31:18 NLV

Die Bybel sê vir ons: “[Isak] het die putte wat sy pa gegrawe het… weer oopgegrawe… Maar die plaaslike skaapwagters het die fontein vir hulleself toegeëien. ‘Dis ons water,’ het hulle gesê… Hy het weer verskuif en nog ‘n put gegrawe. Hierdie keer het die plaaslike mense hom met rus gelaat. Hy noem toe die put Rehobot, ‘want,’ het hy gesê, ‘uiteindelik het die Here vir ons ruimte gemaak. Hier sal ons nou voorspoedig wees'” (Genesis 26:18-22 NLV).

Wat ‘n wonderlike voorbeeld van vergifnis wat beoefen word. Gedurende ‘n droogte het Isak putte grawe, maar sy vyande het inbeweeg en die putte vir hulself toegeëien. Dit was nie regverdig nie, maar in plaas daarvan om te baklei, het Isak aanbeweeg en nuwe putte gegrawe – en God het hom ryklik geseën.

Die waarheid is dat God die leegheid in jou lewe sal vul wanneer jy diegene wat jou seergemaak het, vergewe. So lank as wat ons hierdie planeet met ander onvolmaakte mense deel, sal hulle ons seermaak. Ons kan dit nie vermy nie. Wanneer die wond diep sny, kan dit moeilik wees om te vergewe.

Beteken dit dat jy moet rondgaan en maak asof niks verkeerd is nie en jou gevoelens moet ontken? Nee, die eerste stap na genesing is om jou gevoelens te erken. Jesus het vir ons die tweede stap gegee: ‘…Bid vir hulle wat jou seermaak’ (Lukas 6:28 NLV). Wanneer jy dit doen, gebeur daar iets onverwags. Jou hart begin sag word en jy begin om die oortreder deur God se oë, in plaas van jou eie rou emosies, te sien. ‘Maar ek wil hulle nie vergewe nie!’ sê jy. Dan is daar stap drie. Erken jou onwilligheid om te vergewe en vra God om jou gewillig te maak. Bid: ‘…Bring ons terug en herstel ons…’

Sielskos: Eks 4-6; Luk 12:1-12; Ps 58; Spr 6:12-15

Vergewe ander mense (1)

2022-02-25
Romeine 12:19 NLV

Lank nadat jy gedink het jy het iemand vergewe, mag jy steeds harde gevoelens koester. Jy dink en praat byvoorbeeld die heeltyd oor die insident. Jy neem elke geleentheid waar om hulle aan dit wat hulle gedoen het, te herinner. Jy is dan besig om ‘n onvergewensgesinde houding te regverdig! Daar is twee dinge wat God nie sal deel nie.

1) Die eer en lof wat Hom toekom. ‘…My eer deel Ek met niemand anders nie. Die lof wat My toekom, deel Ek nie met afgode nie’ (Jesaja 42:8 NLV).

2) Die reg om te vergeld. Paulus skryf: ‘Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.’ Doen eerder wat die Skrif sê: ‘As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.’ Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte hokslaan’ (Romeine 12:19-21 NLV).

Vergewe dus, gee die situasie aan God oor en vertrou Hom om dit uit te werk. ‘Toe [Jesus] beledig is, het Hy nie terugbeledig nie…Hy het alles oorgelaat aan God wat altyd regverdig oordeel’ (1 Petrus 2:23 NLV). Wrokkigheid ketting jou aan die oortreder vas en jy eindig as ‘n gyselaar op. As jy aanhou dink aan iets wat jou ouers of eggenoot gedoen het, of hoe ‘n kollega krediet vir jou werk geneem het, of dit wat iemand dalk oor jou gesê het, laat dit jou – nie hulle nie – ellendig voel. Moenie enigiemand daardie tipe beheer oor jou lewe gee nie. Vergewe – en beweeg dan aan!

Sielskos: Eks 1-3; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11

Gaan terug en maak dinge reg

2022-01-13
Psalm 78:4 NLV

‘n Nalatenskap, goed of sleg, is iets wat een persoon aan ‘n ander persoon agterlaat. Ek hoop dat God, met tyd, jou seerkry genees het en dat jy aanbeweeg het, maar wat laat jy na? Die harde woorde wat jy gespreek het was dalk toe van pas, maar nou sien jy dinge duideliker. Dis wonderlik wanneer jy van wrokkigheid tot vergifnis kan beweeg – maar het jy wonde wat nog nie gesond geword het nie, agtergelaat?

Jakobus skryf: ‘…wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie. As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie’ (Jakobus 1:19-20 NLV). Jou woorde kan blywende skade aanrig en jy behoort daaroor besorg te wees. Paulus skryf: ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV).

Het jy sade geplant wat veroorsaak het dat ‘n giftige loot in iemand anders se hart opskiet? Indien moontlik, moet jy vrede maak deur vergifnis te vra en die saak te probeer regstel. Jesus het gesê: ‘As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester, los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede met daardie persoon. Kom dan terug en bring jou offer’ (Matteus 5:23-24 NLV). Dr Dale Turner skryf: ‘Dis die hoogste vorm van selfrespek wanneer ons ons foute erken en dit regstel. ‘n Fout is net ‘n oordeelsfout, maar om daarby vas te staan wanneer dit as ‘n fout ontbloot word, toon ‘n swakheid van karakter.’

Sielskos: Gen 28:1-30:24; Luk 2:34-40; Ps 74:1-11; Spr 2:6

Die redes vir jou ontevredenheid

2021-12-01
Jeremia 2:13 NLV

Kom ons neem ‘n oomblik en probeer om die redes vir ons ontevredenheid te verstaan: 1) Ons soek geluk op die verkeerde plekke. God het gesê: ‘My volk het twee sondes gedoen: Hulle het My verlaat, die fontein wat lewe gee, en hulle het vir hulle bakke uitgekap, bakke wat nie water hou nie’ (vers 13 NLV). Daar is ‘n leegheid binne jou wat slegs God kan vul. Hy sal dit doen, mits jy Hom innooi.

2) Ons staan nie in diens van ander nie. Hoe ons ander mense behandel, is dikwels ‘n refleksie van hoe ons oor onsself voel. Die filosoof en digter Eric Hoffer het gesê: ‘Die merkwaardige ding is dat ons werklik ons naaste liefhet soos onsself; ons doen aan ander soos ons aan onsself doen. Ons haat ander wanneer ons onsself haat. Ons is verdraagsaam teenoor ander wanneer ons onsself verdra. Ons vergewe ander wanneer ons onsself vergewe. Ons is geneig om ander mense op te offer, wanneer ons gereed is om onsself op te offer. Dis nie net self-liefde nie, maar ook self-haat wat die wortel is van die probleme wat ons wêreld teister.’

3) Ons vergelyk onsself met ander. Paulus het geskryf: ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle…’ (Romeine 12:15 NLV). Wanneer jy oor iemand anders se prestasies of seëninge wrokkig is, sypel vreugde soos deur ‘n sif uit jou lewe uit. Die Bybel sê: ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam… Ons het gawes wat van mekaar verskil… Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:4-6 NLV).

Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16