Die redes vir jou ontevredenheid
2021-12-01Jeremia 2:13 NLV
Kom ons neem ‘n oomblik en probeer om die redes vir ons ontevredenheid te verstaan: 1) Ons soek geluk op die verkeerde plekke. God het gesê: ‘My volk het twee sondes gedoen: Hulle het My verlaat, die fontein wat lewe gee, en hulle het vir hulle bakke uitgekap, bakke wat nie water hou nie’ (vers 13 NLV). Daar is ‘n leegheid binne jou wat slegs God kan vul. Hy sal dit doen, mits jy Hom innooi.
2) Ons staan nie in diens van ander nie. Hoe ons ander mense behandel, is dikwels ‘n refleksie van hoe ons oor onsself voel. Die filosoof en digter Eric Hoffer het gesê: ‘Die merkwaardige ding is dat ons werklik ons naaste liefhet soos onsself; ons doen aan ander soos ons aan onsself doen. Ons haat ander wanneer ons onsself haat. Ons is verdraagsaam teenoor ander wanneer ons onsself verdra. Ons vergewe ander wanneer ons onsself vergewe. Ons is geneig om ander mense op te offer, wanneer ons gereed is om onsself op te offer. Dis nie net self-liefde nie, maar ook self-haat wat die wortel is van die probleme wat ons wêreld teister.’
3) Ons vergelyk onsself met ander. Paulus het geskryf: ‘As ander blydskap ervaar, juig saam met hulle…’ (Romeine 12:15 NLV). Wanneer jy oor iemand anders se prestasies of seëninge wrokkig is, sypel vreugde soos deur ‘n sif uit jou lewe uit. Die Bybel sê: ‘Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam… Ons het gawes wat van mekaar verskil… Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:4-6 NLV).
Sielskos: Jos 11-13; Joh 15:5-17; Ps 14; Spr 28:13-16