2023-02-02
Lukas 15:20 ABA
Toe die pa sy verlore seun gesien het, was hy ‘baie jammer vir hom.’ Jack Graham skryf: ‘Dis nie ‘n vader wat nie kan wag om sy sondige seun te straf en wat hom as waardeloos afgeskryf het nie. Dis ‘n liefdevolle, sorgsame vader wat nie kan wag om hom te omhels en te verwelkom nie. Hy hardloop die pad af om hom tegemoet te gaan. Wat jy sien is ‘n beeld van die Vader se liefde vir jou – gretig, buitensporig, toeganklik, oorvloedig.’ ‘…toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen’ (vers 20 NLV). Ons verwag gevoude arms, ‘n frons op die voorkop, ‘n onwillige handdruk, ‘n streng berisping. In plaas daarvan sê sy pa: ‘…Gou, bring die mooiste mantel… ‘n ring vir sy vinger, en sandale vir sy voete. En slag die kalf wat ons in die kraal vet maak…’ (verse 22-23 NVL).’
In daardie tyd het die vader se ring gedelegeerde gesag gesimboliseer. Die een wat dit gedra het, het besigheid in die naam van die een wat dit gegee het, gedoen. Sou jy hierdie verlore seun jou sake laat behartig het? Hom met jou kredietkaart vertrou het?
Toe jy na God toe gekom het, het jy die gesag om besigheid in sy Naam te doen, ontvang. Wanneer jy die waarheid praat, is jy sy ambassadeur (sien 2 Korintiërs 5:20). Jy is sy besigheidsbestuurder wanneer jy die finansies wat Hy aan jou toevertrou het, bestuur. Wanneer jy iemand vergewe, is jy sy priester. Hy het vir jou die voorreg gegee om vir ander te doen wat Hy vir jou doen. Spreek woorde wat ander mense versterk. Hoekom? Omdat jy jou Vader verteenwoordig.
Sielskos: GEN.24:1-25:18; Luk 7:24-35; Ps 107:33-43; Spr 3:27-28
2023-01-06
Genesis 50:21 NLV
Wanneer jy die verhaal van Josef lees, besef jy dat hy alle rede gehad het om woedend, bitter en wraaksugtig te wees oor die veragtelike manier waarop sy broers hom behandel het. Wat doen hy egter? Hy raak nie kwaad nie en neem nie eens wraak nie. Hy help die hele Egipte, die land wat hom ‘n slaaf gemaak het en hom onskuldig in die tronk gestop het, om hongersnood te oorleef. Hy help sy familie wanneer hulle kos kom bedel. Hy vergewe en sodoende word hy van sy negatiewe emosies bevry.
Hy het die kwessies van die verlede agtergelaat, nie toegelaat dat dit hom van sy lotsbestemming weerhou nie en in God se guns gebly. As tweede-in-bevel van die hele Egipte, het Josef die mag van lewe en dood oor diegene wat hom seergemaak het, gehad. Tog het hy vir hulle gesê: “‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red. Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.’ So het hy vriendelik met hulle gepraat en hulle gerusgestel” (verse 20-21 NLV).
Die probleem is nie die woede of teleurstelling nie – behalwe wanneer jy deur jou emosies beheer word. Elke keer wat woede veroorsaak dat jy die dinge wat God in jou sorg geplaas het verniel, word jou emosies wanbestuur. Jy staan grond aan die duiwel af wanneer jy nie jou woede beheer nie. ‘Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ‘n houvas gee nie’ (Efesiërs 4:26-27 NLV).
Die woord vir jou vandag is dus – leer om jou emosies te beheer.
Sielskos: Jes 12-16; Luk 1:39-56; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19
2022-12-15
Johannes 13:1 NLV
Ons hanteer ons verhoudingsprobleme op een van drie maniere: vlug, veg, of vergewe. Sommige kies om te vlug. Hulle verlaat die verhouding en begin êrens anders oor, alhoewel hulle dikwels verras is wanneer dieselfde kwessies weer kop uitsteek. Ander mense veg. Gevolglik word hulle verhoudings gevegsones en stres word ‘n lewenswyse.
As jy wys is, sal jy Christus se manier kies: ‘…Jesus was lief vir sy eie mense… Hy het hulle enduit liefgehad.’ Vir meer as drie jaar het Jesus dieselfde span gehad. Hy het dieselfde twaalf of so gesigte rondom die tafel gesien. Hoe het Hy dus so toegewyd aan sy dissipels gebly? Was dit moeilik vir Jesus om Petrus lief te hê, met die wete dat hy Hom eendag sou verraai? Was dit moeilik om Tomas te vertrou, met die wete dat hy eendag sy opstanding sou bevraagteken? Hoe het Jesus die drang weerstaan om ‘n nuwe groep volgelinge te werf?
Johannes wou een vyand vernietig en Petrus het die oor van ‘n ander een afgesny. Net dae voor Jesus se dood, het sy dissipels baklei oor wie van hulle die beste was! Hoe was Hy in staat om mense lief te hê, as dit moeilik was om van hulle te hou?
Hier is die antwoord: Jesus het hulle nie aan hulle voorkoms, IK, talente, besittings of persoonlikhede gemeet nie; nee, Hy het hulle aan hul potensiaal gemeet. Op die ou einde het hulle verander en aan sy verwagtinge voldoen. Nie in alle dinge of die hele tyd nie. Jesus het hulle egter vergewe en hulle geleer dat liefde ‘n verbintenis is wat ons eers met onsself, en dan met ander mense sluit.
Sielskos: Kol 1-2; Joh 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9
2022-06-27
Johannes 10:10 NLV
Het die ervarings wat jy deurgemaak het van jou ‘n ander mens gemaak as wat God jou bedoel het om te wees? Het die mense, doelwitte en plesier wat jy gekies het, gelei tot ‘n gevoel van hopeloosheid oor jou toekoms? Wanneer jy jou sin van waarde verloor, is dit moeilik om te glo dat God vir jou kan lief wees – maar Hy is. Hy weet dat daar binne jou die mens is wat groot dinge vir Hom kan doen. Dis hoekom Hy jou hart roer en jou laat weet dat Hy in jou lewe beweeg. Reageer dus op Hom in geloof. Waag dit om te glo dat Hy jou “‘n nuwe skepping” (2 Korintiërs 5:17 NLV), kan maak.
Vertrou eerder op Hom as op jouself. Of jou wonde nou self toegedien is of deur ander veroorsaak is, Jesus sal jou genees en jou weer ophef. Jy sê: ‘Jy weet nie watter dinge ek al gedoen het nie en hoeveel mense ek seergemaak het nie.’ Jesus doen egter. Hy wil die krom plekke in jou hart reguit maak. Jy moet Hom egter toegang tot elke area van jou lewe gee. Wanneer Hy jou hart binnekom, sal jy nooit weer dieselfde gebroke persoon wees nie.
Dawid se sondes het in ‘n nasionale skandaal ontaard. Toe God hom egter vergewe en herstel het, het hy geskryf: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ‘n arend s’n’ (Psalm 103:2-5 NLV). Let die voordele op wanneer jy jou lewe aan Christus toevertrou: vergifnis, genesing, verlossing van verwoestende gewoontes, liefde, medelye en vernuwing.
Sielskos: Hosea 11-14; Matt 21:33-46; Ps 17; Spr 14:13-16
2022-03-21
Lukas 6:37 NLV
Sodra jy verstaan dat ouers nie altyd in staat is om dit vir hulle kinders te gee wat hulle self nie ontvang het nie – naamlik liefde, versorging, aanvaarding en fisiese geneentheid – word dit makliker om hulle te vergewe.
Die skrywer Stormie Omartian sê: ‘Soms maak dit wat een ouer nie gedoen het nie, net so seer as die een wat mishandel het. ‘n Ouer se onbetrokkenheid en onwilligheid om in te tree en jou te red, voel soos verraad. Onvergifnis vir ‘n onbetrokke ouer is moeiliker om te herken, maar meer algemeen as wat ons dink. Vra God om vir jou te wys of jy enige onvergifnis het teenoor ‘n ouer wat nie tot jou redding gekom het nie. As dit daar is, moet jy daardie gevoelens eerlik hanteer.
Die eerste stap is om God se vergifnis te ontvang en toe te laat dat die realiteit daarvan ons diepste binneste binnedring. Wanneer ons besef hoeveel ons al vergewe is, het ons geen reg om iemand anders te veroordeel nie. Om vergewe en vrygestel te word van alles wat ons ooit gedoen het is so ‘n wonderbaarlike gawe, hoe kan ons dus weier om gehoorsaam te wees wanneer God ons vra om ander te vergewe?
Vergifnis is ‘n tweerigting straat. God vergewe jou en jy vergewe ander mense. Ons baseer ons besluit nie op dit wat ons voel ons wil doen nie, maar op dit wat ons weet reg is.’
Jesus het gesê: ‘Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie… As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (vers 37 NLV). Deur te kies om te vergewe en nie toe te laat dat iemand anders se sonde dit wat jy voel en doen voorskryf nie, word jy vry om in vrede te leef.
Sielskos: Job 11-14; Luk 18:31-43; Ps 116:12-19; Spr 8:10-13