Oordraagbare vryspraak

2020-07-28
Romeine 4:23-24 ABA

Dink aan fondse wat van een rekening na ‘n ander oorgedra word. Banke doen dit elke dag. Verbeel jouself jy is haweloos en kan nie jou skuld betaal nie. Dan, in ‘n wonderbaarlike daad van genade, neem iemand al jou skuld oor en dra terselftertyd ‘n massiewe bedrag geld na jou rekening oor sodat jy nooit weer hoef te werk nie. Dis wat by die kruis gebeur het toe God al jou sondes na Christus se rekening oorgedra het; en al sy regverdigheid na jou rekening oorgedra het. Verbysterend, is dit nie? Sal jy sê: ‘Ek kan nie toelaat dat U al hierdie skuld alleen afbetaal nie, dus sal ek werk om te bewys dat ek u genade waardig is’? Dis wat ons doen wanneer ons ons goeie werke by Christus se voltooide werk ‘aanlas.’ Paulus skryf: ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (2 Korintiërs 5:21 NLV). ‘Maar ek voel so skuldig wanneer ek sondig.’ Jy is veronderstel om skuldig te voel! Toe Christus egter jou sonde weggeneem het, het Hy ook jou skuld weggeneem. Wat voel jy dus? Innerlike konflik! Jou nuwe gees sê vir jou dat jy nie aan sonde kan toegee nie; dis nie meer wie jy is nie! Hoekom het God dit op hierdie manier gedoen? Omdat enige geregtigheid wat ons op ons eie houtjie kon verdien, ver tekort skiet van wat Hy vereis. Verbly jouself – vandag sien God jou as geklee in die geregtigheid van Christus, daarom sal jy altyd deur Hom aanvaar en liefgehê word.

Sielskos: Hand 22-23; Luk 9:57-62; Ps 78:1-8; Spr 16:23-24

Vergewe hulle en bevry jouself

2020-04-26
Markus 11:25 NLV

Wanneer iemand ons seermaak, is ons natuurlike reaksie om hulle óf terug seer te maak, óf om te hoop dat hulle sal ly vir dit wat hulle ons aangedoen het. As verloste kinders van God is dit egter die verkeerde reaksie. Dis dan wanneer ons besef dat vergifnis nie maklik of natuurlik kom nie; dit verg bonatuurlike genade van ons kant af. Waar kry ons dit? Deur gebed! Jesus het gesê: ‘Maar wanneer julle besig is om te bid, vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe.’ Wanneer jy God se genade teenoor jou onthou, het jy geen keuse as om dieselfde genade aan die persoon wat jou seergemaak het, te bewys nie. Iemand het een keer gesê: ‘Vergifnis is ‘n besluit om ‘n gevangene vry te laat en dan agter te kom dat die gevangene jy is.’ As jy dus die begeerte het om iemand te vergewe, raak opgewonde; die Heilige Gees het alreeds die helfte van die werk gedoen. Om die ander helfte te doen, moet jy nederig word en bid: ‘Vader, ek staan elke begeerte wat ek het om wraak te neem, teë. U het die situasie gesien voor dit gebeur het en in u oneindige wysheid het U toegelaat dat dit gebeur. U Woord sê dat U ‘…alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat [U] liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV), dus, met die hulp van die Heilige Gees, vergewe ek hulle van hierdie oomblik af vorentoe. Ek sal nie oor die situasie tob nie, maar eerder u Woord daaroor spreek.’ Dit word ‘n ‘gebed van bevryding’ genoem. Jy bevry nie net jou oortreder nie; jy bevry en herposisioneer ook jouself om in God se seën te stap. Dis hoekom jy hulle moet vergewe!

Sielskos: Matt 5:8; Ps 24:3-6; 2 Pet 3:3-14; Ps 51:10

‘n Woord vir enkelouers

2020-04-06
Psalm 113:9 NLV

Dink jouself in aan die angs waardeur ‘n enkelouer gaan wanneer hulle deur ‘n hofbevel gedwing word om hulle kinders, alleen, op ‘n vliegtuig te sit vir ‘n uitgebreide besoek aan die ander ouer. Ja, dis nodig en dis regverdig, maar dit kan pynlik wees. Een enkelma beskryf haar gevoelens as volg: ‘Ek staan in die lughawe en kyk hoe die kinders se vliegtuig in die wolke verdwyn. Ek voel ‘n verskriklike gevoel van verlies. Die eensaamheid skop dadelik in, ek bekommer my oor hulle veiligheid, maar ek weerstaan die versoeking om hulle elke uur te bel om te hoor hoe dit met hulle gaan. Wanneer hulle my bel om my te vertel hoeveel pret hulle het, rou ek oor die feit dat hulle ‘n lewe heeltemal apart van my eie het. My enigste troos is die wete dat hulle binnekort weer huis toe kom. Die vrees dat hulle nie na my toe sal wil huis toe kom nie, spook egter gedurig by my.’ Vir die enkelouer wat met hierdie enkelma identifiseer, is daar ‘n manier om deur die pynlike dae wat jy moet wag, te kom. In plaas daarvan om hierdie tyd alleen as ‘n periode van isolasie en ontneming te sien, sien dit as ‘n geleentheid om jou batterye te herlaai en jou gees te vernuwe. Spandeer tyd saam met vriende. Lees jou Bybel en bid. Begin weer met die stokperdjie wat jy eenkant gesit het. Vul jou dae met die dinge wat onmoontlik is om te midde van die verantwoordelikheid van kinders grootmaak te doen en besef dat dit tot voordeel van jou kinders is. Hulle sal na ‘n energieke ouer, in plaas van ene wat weke lank depressief was, huis toe kom. God sê: ‘My genade is vir jou genoeg.’ Put vandag krag uit sy genade.

Sielskos: Lev 1-4; Matt 27:11-26; Ps 25:1-7; Spr 9:17

Jou vergifnis is gewaarborg

2020-01-31
1 Johannes 1:9 NLV

Ten spyte van ons beste bedoelings en pogings, skiet ons te kort aan God se vereistes (sien Romeine 3:23). Wat is dus die antwoord? ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede. As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar. Dit beteken ook dat sy woord nie in ons lewe plek gekry het nie’ (1 Johannes 1:8-10 NLV). Wanneer dit by God se vergifnis kom, is dit beter om te weet as om te voel. God se vergifnis werk as volg: Bewustheid van sonde lei tot oortuiging van sonde. Oortuiging van sonde lei tot belydenis van sonde. Belydenis van sonde lei tot reiniging van sonde en reiniging van sonde lei tot vrymoedigheid voor God (sien 1 Johannes 3:21-22). Jy sê: ‘Ek voel nie waardig om God se vergifnis te ontvang nie.’ Jy sal nooit waardig daarvoor wees nie! God se vergifnis is nie op jou waardigheid gebaseer nie, maar op Christus s’n! God is ook nie soos jou ouers nie; Hy dring nie daarop aan om jou vir ‘n tydperk te straf sodat jy jou les kan leer voor Hy jou vergewe nie. Dit sou beteken dat jy deel daaraan gehad het om sy vergifnis te verdien. Jy ontvang dit deur genade en slegs deur genade (sien Efesiërs 2:8-9). ‘Genade’ beteken ‘onverdiende guns.’ Wanneer God jou dus vergewe, eer Hom deur jouself te vergewe en aan te beweeg.

Sielskos: Jes 26-29; Matt 11:10-19; Ps 107:17-22; Spr 3:21-24

Vertrou op God se tydsberekening (1)

2019-12-25
Galasiërs 4:4 NLV

God raadpleeg ons nie om seker te maak dat sy planne in lyn met ons tydsberekening is nie. Maria was van plan om met Josef te trou en dan ‘n kind te kry, maar God het ‘n ander plan gehad. Die kind moes sonder sonde gebore word, dus het Hy die perfekte vader nodig gehad en dis hoekom die Heilige Gees ingeroep is om die werk te doen. Menslik gesproke, kon die tydsberekening nie slegter gewees het nie. Maria het voor haar troue swanger geword en Josef was nie die vader nie. Behalwe dat sy verstoot sou word, het die wet gesê dat sy gestenig kon word. Hoe het sy gereageer? Verstommend: ‘Maria het geantwoord: ‘Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word’…’ (Lukas 1:38 NLV). God het ‘n vasgestelde plan en Hy werk altyd daartoe. Die probleem is dat ons met beperkte inligting werk, dus word ons ongeduldig en ontsteld wanneer Hy nie ons gebede volgens ons tyd of op die manier wat ons wil hê, beantwoord nie. Daar word gesê dat George Muller, ‘n evangelis en stigter van die Ashley Down Kinderhuis in Bristol, Engeland, op ‘n keer op die hawe gestaan en wag het vir ‘n spesiale stoel om afgelewer te word. Hy het ‘n slegte rug gehad en het die stoel vir sy seereis nodig gehad. Toe die vertrektyd aanbreek en dit nog steeds nie afgelewer is nie, het sy vriende aangebied om vir hom een te koop. Muller het egter gesê: ‘God sal voorsien, of Hy sal vir my die genade gee om daarsonder klaar te kom.’ Toe, net soos die einde van ‘n sprokie, het sy stoel net betyds daar aangekom. Vertrou op God – Hy weet wat Hy doen!

Sielskos: Jes 9:1-7; Matt 1:18-25; Miga 5:2-5a