Ons het mekaar nodig

2021-01-11
Romeine 1:12 ABA

Die volgende keer wat jy in ‘n woud stap, stop en dink aan wat reg onder jou voete plaasvind. Soos die wortels van die bome aan mekaar skakel, vorm hulle ‘n ondersteuningstelsel. Een het toegang tot water, ‘n ander tot voedingstowwe en nog ‘n ander tot sonlig. Nie een van die bome het alles nie, maar saam kan hulle groei, floreer en die storms van die lewe teëstaan. ‘…en so [sal ons] in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof… Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op’ (Efesiërs 4:15-16 NLV).

Sommige van ons sukkel met hierdie konsep. Ons wil alleen vlieg totdat ons neerstort en dan besef ons dat ons ‘n behoefte het aan:

1) Bemoediging. Selfs Paulus het bemoediging nodig gehad: ‘…al die Christene wat uit die provinsie Asië hier aangekom het, [het] my in die steek gelaat… Mag die Here ontferming aan Onesiforus en sy hele huishouding bewys, want hulle het my dikwels besoek en bemoedig. Hy was nooit skaam omdat ek in die tronk is nie. Toe hy na Rome toe gekom het, het hy oral gesoek totdat hy my gekry het’ (2 Timoteus 1:15-17 NLV).

2) Simpatie. ‘…Julle moet regtig jammer wees vir ander mense…’ (Kolossense 3:12 ABA). Ons almal wil verstaan word en bevestiging van ons gevoelens ontvang. Soms is ons so haastig om mense ‘reg te ruk’ dat ons nie tyd het om met hulle te simpatiseer nie.

3) Genade. ‘…Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV). Wat motiveer ons om genade aan ander te bewys? God se genade aan ons! Onthou, jy sal nooit gevra word om meer genade aan iemand te bewys, as wat God reeds aan jou bewys het nie.

Sielskos: Eks 22-24; Matt 6:1-8; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2

Vermy ‘n ongesonde fokus op jouself (3)

2020-11-25
Efesiërs 4:22 NLV

Verwag God van ons om aan groei en self-verbetering te werk? Ja! Dis egter vergeefs as dit jou op jouself gefokus en oorwonne hou. Die Bybelse pad na verandering is om weg te draai van jouself en op God te fokus. Paulus sê: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).

God stel nie in ‘verbeterde vlees’ belang nie. In sy oë is ‘verbeterde vlees’ steeds vlees. Hy wil jou karakter transformeer. Al jou self-verbetering strategieë kan nie jou ou sondige natuur transformeer nie. Net God, deur die Gees, kan jou meer soos Christus maak. Dit gebeur nie as gevolg van jou harde werk nie, maar deur sy genade.

‘Wat gaan dus met my vlees gebeur?’ vra jy. God se uiteindelike plan is om dit te vervang en vir jou ‘n nuwe geestelike liggaam te gee. Dis hoekom Paulus skryf: ‘naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan.’ Jy moet dit nie regmaak of verander nie – jy moet dit uittrek!

Soos ‘n kreef groei en die gevangenis van sy ou skulp afskud, so sal jy die dominansie van jou ou natuur afskud en in jou nuwe een ingroei, soos jy op Christus fokus en in gemeenskap met Hom lewe. Jy word getransformeer – van die binnekant af buitentoe.

Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 27:20-22

Hou op om die ergste te sien

2020-10-16
Matteus 6:31 NLV

Maak nie saak wat in die lewe gebeur nie, probeer om dinge in perspektief te hou. Doen jou bes om dinge te sien soos hulle waarlik is en moenie hulle uit proporsie blaas nie. Ontwikkel die gewoonte om na die groter prentjie te kyk, in plaas daarvan om op die een kwessie wat jou ontstel, vas te haak. Deur aanhoudend aan jou probleme te dink, lyk hulle groter as wat hulle regtig is.

Wanneer jy voor ‘n situasie te staan kom wat jou ontstel, moet jy eers die paniek hanteer voor jy die probleem kan hanteer. Gaan sit stil, kalmeer jouself en neem die tyd om spesifiek aan die goeie dinge wat jy geniet, te dink.

Die waarheid is dat bekommernis nooit weggaan nie. Wanneer jy een kwessie oplos, wag ‘n ander een om sy plek in te neem. Wat moet jy dus doen? Verander jou perspektief! In plaas daarvan om op jou bekommernisse te fokus, moet jy God in die situasie inbring. Het Hy jou al ooit gefaal? Nee, en Hy sal ook nooit! Die genade van God wat jou onderhou het en jou deur die vorige moeilike situasie gebring het, sal met jou in hierdie een – en die volgende een! – wees.

Let op wat Jesus oor die dinge wat ons die meeste bekommer, gesê het: ‘Moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat sal ons tog eet?’ of: ‘Wat sal ons drink?’ of: ‘Wat sal ons aantrek?’ nie… Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg’ (verse 31-33 NLV).

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Joh 4:13-26; Ps 32; Spr 23:29-35

Deel God se genade uit (2)

2020-10-13
Galasiërs 2:21 DB

Chuck Swindoll sê dat ons as gelowiges dikwels onverdraagsaam is ‘teenoor diegene wat nie by ons idee van ‘n gelowige pas nie – ‘n houding wat deur ‘n kwaai kyk of ‘n bytende opmerking geopenbaar word. Sulke reaksies sal die kerkgeledere vinniger as ‘n vuur in die konsistorie of ‘n griep in die kerkbanke uitdun.

Paulus het die Galasiërs tereggewys omdat hulle hulle rug op God gedraai het (sien Galasiërs 1:6), die onverdiende goedheid van Christus verwerp het (sien Galasiërs 2:21), en die kluts kwyt geraak het deur net op die wet te fokus (sien Galasiërs 3:1). Ja, daar is grense aan vryheid. Genade beteken nie dat jy net kan doen wat jy wil nie. Die grense is egter breër as wat ons besef. Ek kan byvoorbeeld nie dink dat die enigste musiek wat God behaag hoogdrawende en dralerige gesange is nie. Ook dink ek nie dat Hy van ons verwag om slegs met ‘n pak klere en ‘n das sy heiligdom binne te gaan nie. Dis nie God wat oor uiterlike voorkomste opgewerk raak nie! Hy ‘…kyk na gedagtes en bedoelings’ (1 Samuel 16:7 NLV).

Jesus het sy kragtigste en langste preek vir die Fariseërs gehou – mense wat die wet tot op die letter aangehang het. Hy het nie houe teruggehou toe hy met diegene wat by die tempels rondgehang het en ander geminag het, gepraat het nie.

Twee opmerkings: 1) As jy geneig is om soos die Fariseërs ander mense te boelie en op hulle neer te kyk – hou onmiddellik daarmee op! 2) Wanneer ‘n hedendaagse Fariseër jou lewe probeer beheer, stop hulle. Herinner daardie gelowige nabootsers dat die splinter in jou oog tussen jou en God is en dat hulle eerder aandag aan die balk in hulle eie oog moet gee.’

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Joh 3:1-21; Ps 89:15-37; Spr 23:15-18

Deel God se genade uit (1)

2020-10-12
Johannes 4:10 NLV

Toe die vrou by die put vir Jesus water aangebied het, het Hy geantwoord: ‘…As jy maar net hierdie gawe van God vir jou geken het, en geweet het wie dit is wat vir jou vra: ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hóm gevra het en Hy sou vir jou water gegee het wat tot die ewige lewe lei.’ Jesus het gereeld genade aan die mense wat dit die minste verdien het, bewys, en hierdie vrou was geen uitsondering nie.

Hoe goed is jy daarmee om God se genade aan ander mense uit te deel? Is jy vrygewig, of deel jy dit spaarsamig uit? John Walker het gesê: ‘Genade laat mense toe om keuses te maak. Dis vry, vloeibaar en vry van skuld en skande. Dit sê: ‘Ek weet alles van jou en is steeds lief vir jou.’

Die meeste van ons, as ons eerlik is, funksioneer asof God suinig met sy genade is. Ons vrees sy straf. God weet egter reeds wie wat gedoen het en is steeds lief vir ons, ten spyte daarvan. Hy wil ons verlos, nie aanhou om ons aan ons sonde te herinner nie.

Ongelukkig lewe baie Christene asof ons steeds vir ons sonde gaan boet en hou almal saam verantwoordelik daarvoor. Ons gebruik die wapens van die vlees – die sarkastiese opmerking, die kwaai kyk – om mense sover te kry om reg te lewe.

In teenstelling daarmee, het die vrou by die put teruggegaan na haar dorp toe en vir hulle gesê: ‘…Kom gou!… Ek het ‘n vreemde man raakgeloop wat my hele lewensverhaal vir my vertel het…’ (Johannes 4:28 DB). Niks is vir Jesus weggesteek nie en tog het Hy op so ‘n manier met haar gekommunikeer dat sy geliefd en aanvaarbaar gevoel het. Dít is God se genade!’

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Joh 2:12-25; Ps 89:1-14; Spr 23:10-14