Ons het mekaar nodig
2021-01-11Romeine 1:12 ABA
Die volgende keer wat jy in ‘n woud stap, stop en dink aan wat reg onder jou voete plaasvind. Soos die wortels van die bome aan mekaar skakel, vorm hulle ‘n ondersteuningstelsel. Een het toegang tot water, ‘n ander tot voedingstowwe en nog ‘n ander tot sonlig. Nie een van die bome het alles nie, maar saam kan hulle groei, floreer en die storms van die lewe teëstaan. ‘…en so [sal ons] in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof… Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op’ (Efesiërs 4:15-16 NLV).
Sommige van ons sukkel met hierdie konsep. Ons wil alleen vlieg totdat ons neerstort en dan besef ons dat ons ‘n behoefte het aan:
1) Bemoediging. Selfs Paulus het bemoediging nodig gehad: ‘…al die Christene wat uit die provinsie Asië hier aangekom het, [het] my in die steek gelaat… Mag die Here ontferming aan Onesiforus en sy hele huishouding bewys, want hulle het my dikwels besoek en bemoedig. Hy was nooit skaam omdat ek in die tronk is nie. Toe hy na Rome toe gekom het, het hy oral gesoek totdat hy my gekry het’ (2 Timoteus 1:15-17 NLV).
2) Simpatie. ‘…Julle moet regtig jammer wees vir ander mense…’ (Kolossense 3:12 ABA). Ons almal wil verstaan word en bevestiging van ons gevoelens ontvang. Soms is ons so haastig om mense ‘reg te ruk’ dat ons nie tyd het om met hulle te simpatiseer nie.
3) Genade. ‘…Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het’ (Kolossense 3:13 NLV). Wat motiveer ons om genade aan ander te bewys? God se genade aan ons! Onthou, jy sal nooit gevra word om meer genade aan iemand te bewys, as wat God reeds aan jou bewys het nie.
Sielskos: Eks 22-24; Matt 6:1-8; Ps 71:1-16; Spr 2:1-2