Weier om in vrees te leef (1)
2023-05-271 Johannes 4:18 NLV
Die rubriekskrywer Ann Landers het ongeveer tienduisend briewe elke maand van lesers wat haar raad gevra het, ontvang. Toe sy gevra is wat die algemeenste probleem in haar lesers se lewens is, het sy gesê: ‘Vrees! Mense is bang hulle verloor hulle gesondheid, hulle geld en hulle geliefdes. Mense is bang vir die lewe self.’
Indien jy dit toelaat, sal vrees jou beheer. ‘…vrees [is] nog met straf behep…’ en totdat die krag van vrees nie verbreek is nie, sal dit aanhou om jou te straf. Wanneer vrees jou lewe regeer, kan jy niks wat jy doen geniet nie. Jy kan ook nie God se seën geniet nie.
Dr Caroline Leaf sê dat vrees meer as 1400 bekende fisiese en chemiese reaksies veroorsaak en meer as dertig verskillende hormone en neuro-oordragstowwe aktiveer. Dis die wortel van al ons stres. Wanneer vrees ‘n stresreaksie in ons veroorsaak, ‘marineer’ dit as’t ware ons liggame in giftige chemikalieë. Dit is natuurlik baie ongesond en bedreig ons fisiese welstand.
Die vrees om nie deur ander mense aanvaar te word nie, kan veroorsaak dat jy ‘n vals persoonlikheid ontwikkel, wat jou ware self versmoor en dit wat God jou geskep het om te wees, wegsteek. Die vrees vir mislukking sal jou daarvan weerhou om nuwe dinge uit te probeer en jouself uit te daag om meer te doen as waarmee jy gemaklik is. Die vrees vir die toekoms kan veroorsaak dat jy nie jou lewe tans geniet nie.
Vrees kom nie van God af nie. ‘Want God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Verwerp die gees van vrees. Gebruik God se krag, glo dat Hy jou onvoorwaardelik liefhet en begin vandag weier om in vrees te leef.
Sielskos: 1 Kon 3-5; Matt 13:1-9; Ps 128; Spr 12:10-11