Wees meer afhanklik van God
2023-05-252 Korintiërs 12:9 NLV
Die geheim om te kan doen wat jy moet doen, is om te besef dat jy dit nie alleen kan doen nie; jy kan dit net deur God se bemagtigende genade doen. God het vir Paulus gesê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ en die woord ‘genade’ sluit alles in wat jy nodig het om enigiets in die lewe te hanteer. Wat ‘n belofte!
Soms dink ons dat ons alles moet doen. Ons vergeet dat die krag van Christus deur ons werk, dus verloor ons nog voor ons begin het. ‘Ons is Gód se werkspan…’ (1 Korintiërs 3:9 NLV). Ons kan nie God se deel doen nie en Hy sal nie ons deel doen nie. Hy wil hê dat ons sy leiding moet volg, maar Hy dring daarop aan dat ons elke tree van die pad van Hom afhanklik moet wees. Dis nogal hard op ons ego wat sê: ‘Ek kan dit self doen!’
Soms moet ons heeltemal verslaan word voor ons hierdie tipe denke laat vaar. Met die wete dat ons sekere gawes en talente het, maak ons die fout deur aan te neem dat ons deur ons eie krag sukses kan behaal. Nee, tensy God se genade deur jou gawe werk, sal dit nie voldoende vir die uitdaging wees nie. Die Bybel sê: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het…’ (Romeine 12:6 NLV).
Genade is soos elektrisiteit; om effektief te funksioneer, moet dit ingeprop bly. Jesus het gesê: ‘Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:5 NLV). Wees dus meer afhanklik van God.
Sielskos: Heb 11:17-13:25; Matt 12:22-37; Ps 47; Spr 12:4-6