Wanneer God vir jou ‘n engel stuur (2)

2023-05-07
Psalm 91:11 NLV

In watter situasie kan God ‘n engel stuur om jou te help? 1) Wanneer diegene wat jy liefhet en vertrou jou teleurstel. Dink jou in hoe Hagar gevoel het. In ‘n gesamentlike besluit met sy vrou, Sara, het Abraham vir Hagar swanger gemaak in ‘n poging om God se belofte te probeer vervul. Toe Isak egter ‘n jaar later gebore is, het Abraham haar weggestuur. Huilend het Hagar baba Ismael onder ‘n boom gelos en weggeloop. God het egter ‘n engel gestuur om haar te sê dat haar seun bestem is om die vader van ‘n groot nasie te wees (sien Genesis 21:18).

2) Wanneer jy verneder word en nie jouself kan verdedig nie. Maria het beplan om eers te trou en daarna ‘n baba te kry. God het egter ‘n ander plan gehad. Nie net het sy voor openbare vernedering te staan gekom nie, maar volgens die wet moes sy doodgemaak geword het. God het egter ‘n engel gestuur om haar te verdedig en vir haar te sê dat sy in die middel van God se wil was (sien Lukas 1:34-38).

3) Wanneer jy oor die dood van ‘n geliefde rou en bang is vir die toekoms. Maria Magdalena het Jesus liewer as die lewe self gehad, toe Hy dus sterf en begrawe is, was sy verbyster en haar hart was gebroke. Toe het God ‘n engel gestuur om aan te kondig: ‘Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood…’ (Matteus 28:6 NLV). Die Bybel sê: ‘…Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!’ (Hebreërs 13:2 NLV).

‘n Siniese wêreld kan jou daaraan laat twyfel dat God jou waarlik so lief het dat Hy ‘n engel sal stuur om jou te help. Dis egter die waarheid.

Sielskos: Ps 34; Hand 12:1-17