Jou vlak van groei en jou posisie

2022-10-28
1 Johannes 2:12 NLV

Johannes sê: ‘Ek skryf aan julle, kinders: Julle sondes is vergewe op grond van wat Jesus vir ons gedoen het’ (vers 12 NLV). Wanneer jy wedergebore word, is jou enigste wete dat jou sondes vergewe is en dat jy in die regte posisie voor God is. Jy het egter nog baie om te leer. Die Griekse term vir ‘kinders’ verwys na kleuters. Kleuters hou aan struikel en val. Totdat hulle leer loop, het hulle iemand nodig om hulle op te tel en gerus te stel dat om te val nie beteken dat hulle nooit sal loop of dat hulle nie deel van die familie is nie.

Dis belangrik dat jy twee dinge in jou geestelike kindertyd verstaan: die verskil tussen jou vlak van groei en jou posisie voor God. Moet hulle nie met mekaar verwar nie! Jou vertroue in die voltooide werk van Christus plaas jou in die regte posisie voor God as sy aanvaarde, verloste kind. As jy dit vergeet, sal die duiwel jou elke keer wat jy val aan jou verlossing laat twyfel.

Wanneer jy sondig, beteken dit nie dat jou posisie voor God verander nie; dit beteken dat jou geestelike groei werk nodig het. Die vergifnis wat jy by die wedergeboorte ontvang, is ‘n geregtelike handeling, wat jou ‘n lid van God se familie maak. Die vergifnis wat jy egter daagliks ontvang, is ‘n verhoudingsdaad. Wanneer jy byvoorbeeld die verkeerde syfers op jou sakrekenaar druk, wat doen jy? Jy wis jou fout uit en begin die som weer maak. Dis wat die bloed van Jesus doen. Bekering laat jou toe om sonde te oorkom deur God se vergifnis te aktiveer, sodat die vloei van sy genade kan voortduur. Wanneer genade vloei, volg groei.

Sielskos: Habakuk 1-3; Joh 6:35-51; Ps 49; Spr 24:19-22