Verheerlik dit God?
2023-05-161 Korintiërs 10:31 NLV
Wanneer jy op die punt staan om iets te doen waaroor jy nie seker is nie, vra jouself af: ‘Sal dit God verheerlik as ek dit doen?’ As jy hierdie reël volg, sal jy nie verkeerd gaan in die lewe nie. Kom ons wees meer spesifiek. Wanneer jy jou geld op ‘n eerlike manier verdien, is dit joune om te spandeer soos jy wil. Nadat jy God sy deel, wat by 10 persent begin, gegee het, kan jy kies wat om met die res te doen.
Jou finansiële besluite het egter nagevolge wat nie net jou nie, maar ook jou familie affekteer. Wanneer jy skuld aangaan wat jy nie kan terugbetaal nie, ly hulle saam met jou. Jou reputasie ly ook daaronder. Die vraag is nie of jy dit kan bekostig nie, maar of God daardeur verheerlik sal word? Sal Hy tevrede wees?
Wat van jou verhoudings? Jy is enkellopend, eensaam en smag na geselskap. Jy ontmoet iemand waarvan jy regtig hou. Wanneer ongekontroleerde passie deesdae tot seks voor die huwelik lei, knip die samelewing nie eers ‘n oog nie. As verloste kind van God is jy egter anders. Jesus sê dat ons in die wêreld, maar nie van die wêreld is nie. Dit beteken dat ons volgens ‘n ander stel reëls leef: Skriftuurlike reëls. Miskien sal jou maat jou weiering van seksuele intimiteit as verwerping sien en mag dalk selfs besluit om jou te verlaat. Wat staan jou te doen?
Vra jouself af: ‘Word God hierdeur verheerlik? Sal Hy tevrede wees?’ Jy sê: ‘Dis nie maklik om God tevrede te stel nie.’ Dit was nog nooit nie. As jy egter met vreugde, selfrespek, selfvertroue en integriteit wil lewe, moet jy die regte pad kies. Dis die pad wat God altyd verheerlik.
Sielskos: Num 30:1-32:24; Matt 10:1-10; Ps 67; Spr 11:16-18