Jy kan te veel slaap
2022-10-29Spreuke 20:13 NLV
Zig Ziegler het gesê: ‘Wanneer jy doen wat jy moet doen wanneer jy dit moet doen, dan kan jy doen wat jy wil doen wanneer jy dit wil doen.’ Jy sal egter nooit doen wat jy moet doen as jy nie jou alarm stel, opstaan, en gaan werk nie. Salomo waarsku ons oor die tipe slaap wat die grens tussen rus en luiheid oorsteek.
1) Te veel slaap veroorsaak dofheid. “‘n Luiaard draai om en om op sy bed, soos ‘n deur heen en weer swaai op sy skarnier” (Spreuke 26:14 NLV).
2) Te veel slaap vernietig ambisie. ‘Luiheid laat jou diep slaap. ‘n Lui mens ly honger’ (Spreuke 19:15 NLV).
3) Te veel slaap veroorsaak armoede. ‘Moenie lief wees vir slaap nie; jy kan in armoede verval…’ (Spreuke 20:13 NLV).
4) Te veel slaap stel God teleur. ‘Jou luiaard, hoe lank gaan jy nog lê en slaap? Wanneer gaan jy eendag opstaan, jou luiaard?’ (Spreuke 6:9 NLV).
5) Te veel slaap verkwis gulde geleenthede. ‘Die verstandige mens samel sy oes in wanneer dit ryp is. Hy wat in die oestyd slaap, bring skande oor homself’ (Spreuke 10:5 NLV).
Een ou is deur ‘n potensiële werkgewer gevra: ‘Pla harde werk jou?’ Hy het geantwoord: ‘Nee, harde werk pla my nie die minste nie. Ek kan langsaan gaan lê en dadelik aan die slaap raak.’ Die Bybel noem so ‘n persoon “‘n luiaard.” Sy god is sluimer, sy bed is sy altaar en sy liggaam is die offer wat hy geredelik bring. Tensy jy bereid is om hard te werk, sal jou gebede vir sukses nie hoër as die dak styg nie.
Sielskos: 1 Tim 1-3; Joh 6:52-59; Ps 114; Spr 24:23-25