Jy sal meer terugkry as wat jy gee

2018-11-22
Psalm 84:12 NLV

In ‘n sin, is dit onmoontlik om enigiets vir God ‘op te offer’. As jy meer terugkry as wat jy opoffer, het jy dan werklik enigiets opgeoffer? Die ewige beloning weeg altyd meer as die wêreldse opoffering. Op die Oordeelsdag sal ons enigste berou dit wees wat ons nie vir God teruggegee het nie. Dit mag dalk vreemd klink, maar die sleutel tot selfvervulling is selfontkenning. Die selfsugtige deel van ons het ‘n allergiese reaksie vir die woord ontkenning. Dis moeilik om dit te doen wanneer ons in luuksheid lewe. Ons verdra nie net vinnige bevrediging van behoeftes in ons kultuur nie, ons vier dit. Die fundamentele probleem met bevrediging is egter dat genoeg nooit genoeg is nie. Hoe meer ons onsself met kos of seks of die geriewe van rykdom bevredig, hoe minder sal ons dit geniet. Ons het in die verbruikersleuen ingekoop dat meer, meer is. Ons dink verkeerdelik dat hoe meer ons gee, hoe minder sal ons hê. Ons logika is egter verkeerd. Jy verloor uiteindelik dit wat jy wil behou en jy hou uiteindelik dit wat jy vir Christus se saak verloor. Mark Batterson skryf: ‘Hoe meer jy weggee, hoe meer sal jy dit wat jy het, geniet. As jy jou tiende aan God gee, sal jy die 90 persent wat jy behou, 10 persent meer geniet. Jy sal ook ontdek dat God meer met 90 persent kan doen as wat jy met 100 persent kan doen. Een van ons lewensdoelwitte as ‘n familie is om ons tiende verkeerdom te gee en van 10 persent te leef terwyl ons 90 persent weggee. Wanneer ons hierdie doel bereik, is ek seker dat ons die 10 persent, 90 persent meer sal geniet. Dis die glyskaal van vreugde.’

Sielskos: Gen 1-3; Joh 12:12-19; Ps 102:1-11; Spr 30:18-20

Moenie ‘n blameerder wees nie (1)

2018-10-10
Romeine 14:12 NLV

In plaas daarvan om verantwoordelikheid vir hulle dade en besluite te neem wanneer die lewe verkeerd gaan, plaas blameerders die skuld daarvoor op ander mense. Daar is ook nie ‘n tekort aan sondebokke nie. Byvoorbeeld: My besigheid sou suksesvol gewees het as die bank net meer geld aan my wou leen… Ek wou deel van die bedieningspan wees, maar my man hou nie van die idee nie… Die dokter het ‘n gemors van die operasie gemaak. Daar is egter nie plek vir die verskuiwing van blaam in God se Woord nie: ‘Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen.’ Die probleem met die verskuiwing van blaam is dat dit jou daarvan weerhou om konstruktiewe aksie te neem en met jou lewe aan te beweeg. Soos die sielkundige, dr Brenda Shoshanna, opmerk: ‘Elke persoon wat jy blameer hou ‘n deel van jou persoonlike krag en selfrespek vas. Om verantwoordelikheid vir dit wat in jou lewe gebeur te neem, is een van die mees bemagtigende dinge wat jy kan doen. Nuwe keuses word beskikbaar… jou woede neem af… jy sien mense en gebeurtenisse met nuwe oë. Onthou, verantwoordelikheid kan ook as ver-antwoord-elikheid gelees word: dis die vermoë om te antwoord eerder as om net te reageer.’ Ja, dit kan intimiderend wees om beheer van jou eie lewe te neem, maar jy sal verwonderd wees oor die vreugde en vryheid wat dit meebring. Sal jy langs die pad foute maak? Natuurlik! Sal jy struikel en val? Verseker! Daar is egter niks soos die gevoel om in geloof, met God se hulp, die volgende tree te neem nie.

Sielskos: Eks 10-12; Joh 1:29-42; Ps 29; Spr 26:4-6

Bewaar God se Woord (2)

2018-06-20
Johannes 8:31 NLV

Johannes skryf, ‘…ek hou aan bid dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan en dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes vers 2 NLV). Om God se Woord te lees moet een van jou eerste prioriteite wees, sodat dit ‘in alle opsigte goed mag gaan’ met jou. Jesus het gesê, ‘…As julle in ‘n noue verbintenis aan my boodskap leef, is julle my egte navolgers.’ Om in noue verbintenis met God se Woord saam te leef, beteken dat jy vreugde, aanvaarding, aanmoediging, ondersteuning, beskerming, doelwitte, identiteit en rus daarin vind. Om God se Woord te ‘bewaar’ beteken dat jy dit as jou hoogste outoriteit, jou kompas vir rigting, jou berader wanneer jy besluite maak en jou maatstaf wanneer jy elke verhouding en aksie evalueer, aanvaar. Met ander woorde, die eerste en laaste woord in jou lewe. Baie van ons moeilikhede ontstaan omdat ons ons keuses op onbetroubare outoriteite baseer, soos: Kultuur – ‘Almal doen dit.’ Tradisie – ‘Ons het dit nog altyd so gedoen.’ Rede – ‘Dit lyk logies.’ Emosie – ‘Dit voel net reg.’ Al hierdie outoriteite is foutief omdat hulle vanuit onsself kom, nie van God af nie. Wat ons nodig het is ‘n perfekte standaard wat ons nooit in die verkeerde rigting sal lei nie, en net God se Woord voldoen aan daardie kriteria. Salomo het geskryf, ‘Elke woord van God is getoets…’ (Spreuke 30:5 NLV). Dit beteken dat wanneer sy Woord vir jou sê om iets te doen, moet jy dit doen, of dit nou vir jou sin maak of nie en of jy lus is om dit te doen of nie. Jy moet soos Paulus sê, ‘…Ek handhaaf alles… wat geskryf staan’ (Handelinge 24:14 NLV).

Sielskos: Eseg 43-45; Luk 1:39-56; Ps 139:1-6; Spr 15:25-27

Verlang huis toe

2018-06-15
Filippense 3:20 NLV

Elke jaar kry die Stille Oseaan-salm, wat vyf tot ses jaar in die oseaan geleef het, skielik die drang om na die water van hul geboorte-rivier terug te keer. Met vissermanne, bere en enorme hidro-elektriese damme wat in hulle pad staan, veg hulle hul weg stroom-op om by hulle tuiste uit te kom. Wetenskaplikes weet nie hoe die salm dit regkry om na die presiese rivier waar hulle gebore is, terug te keer nie. Sommige wetenskaplikes dink hulle doen dit omdat hulle die vars water van hulle rivier kan proe of ruik. Ander wetenskaplikes dink dat hulle dalk die sterre gebruik om te navigeer. Ongeag hoe hulle dit doen, weet ons dat hulle nie kaarte en kompasse gebruik nie; hulle reis is instinktief. Hulle het ‘n verlange na ‘n spesifieke rivier en hulle sal nie rus totdat hulle die rivier vind nie. Dis presies hoe dit met ons is. God het ons vir die hemel geskep en niks in ons lewe sal daardie verlange stil nie (sien Prediker 3:11). Net soos daardie salm, is ons in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie. Ja, ons vind vreugde daarin om die lewenstaak wat God vir ons gegee het te vervul, maar dit is niks teenoor die vreugde wat in die hemel vir ons wag nie. Paulus stel dit so: ‘Ons daarteenoor het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Redder. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring’ (Filippense 3:20-21 NLV). Soos jou geredde geliefdes die aarde verlaat om hemel toe te gaan, sal jou verlange om by hulle aan te sluit, net groter word.

Sielskos: Eseg 31-33; Mark 16:1-20; Ps 80:1-11; Spr 15:11-14

Vier kategorieë van begeerte (2)

2018-06-06
Psalm 37:4 NLV

Die begeerte om te presteer: Die eerste ding wat God vir Adam gesê het was: ‘…Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde… en heers oor… die aarde’ (Genesis 1:28 NLV). Die rede hoekom jy so ‘n sterk begeerte het om iets in die lewe te bereik, is omdat God jou so geskep het. Min mense is meer as Paulus deur prestasie gemotiveer: ‘Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie…’ (Handelinge 20:24 NLV). God het nie Paulus se begeerte om te presteer weggeneem nie; Hy het dit ingespan sodat Paulus God se wil kon vervul. ‘n Sterk beroepsgeoriënteerde dryfkrag, tesame met die begeerte om te leer en te presteer, kan ‘n goeie ding wees, tensy dit tot werkverslawing, statusafhanklikheid of die manipulering van ander mense lei. Wanneer dit gebeur, moet jy jou motivering herevalueer. As dit egter nie die geval is nie en jy bevind jouself waar jy met ‘n vuur binne-in jou in God groei om iets te bereik – gaan voort en presteer. Oefen heerskappy uit! Gebruik jou vaardighede om goeie dinge vir ander te bereik. Op daardie punt, of jy nou tot ‘n vergadering bydra, waarde tot jou span voeg of idees formuleer, sal jy weet dat dit meer as net jou eie vaardighede is. Wanneer jy rasionele vaardighede ontwikkel wat jou in staat stel om ‘n band met kliënte en kollegas te vorm, kan jy gelyktydig vir hulle bid en hulle seën. Soos jy vreugde in jou prestasies kry, is jou lewe vir God behaaglik. ‘n Woord van advies: Elke nou en dan, onthou om te stop en Hom te bedank dat jy iets waarvoor jy lief is, kan doen!

Sielskos: Eseg 5-9; Mark 14:12-26; Ps 4; Spr 14:17-20