2018-11-06
1 Petrus 2:20 NLV
Baie van die mense wat ons in die Skrif bewonder, is sleg behandel. En God het toegelaat dat dit gebeur. Dink aan Daniël wat vir die leeus gegooi is en Josef wat in die tronk beland het. Hulle het niks gedoen om dit te verdien nie. Die Bybel sê: ‘…Om egter die houe te vat wanneer julle goeddoen, dit is iets besonders voor God. Hierdie soort swaarkry maak juis deel uit van dit waartoe God julle geroep het. Christus, wat vir julle gely het, is julle voorbeeld. Trap in sý spore’ (verse 20-21 NLV). Let op dat jy ‘geroep’ is om moeilikheid te oorkom. Daar is ‘n doel in die pyn. Niks kan jou aanraak as dit nie eers deur jou liefdevolle hemelse Vader se hande gegaan het nie. Hy het dit alles vooruit geweet en alles wat jy nou deurmaak, berei jou voor om Hom meer effektief te dien. Paulus het gesê, ‘Toe ek die eerste keer in die hof my saak moes gaan verdedig, was daar niemand by my nie. Almal het weggehardloop en my net so gelos… Maar die Here het my nie alleen gelos nie. Hy was by my en het my krag gegee. Daarom kon ek die boodskap oor Jesus vir almal vertel…’ (2 Timoteus 4:16-17 DB). Paulus het dit nie as iets gesien wat hy eenvoudig moes verduur nie, hy het dit as vooruitgang gesien! Wees dus bemoedig; jy is besig om in genade en kennis van die Here te groei (sien 2 Petrus 3:18). Jy is in die voorbereidingsfase. Of God jou nou uit die situasie of deur die situasie neem, vertrou Hom. Hy werk ten goede van jou en tot sy glorie.
Sielskos: Jes 45-48; Joh 8:21-30; Ps 86; Spr 28:21-24
2018-11-01
Psalm 25:1 NLV
Wanneer jy hulp nodig het, blaai na Psalm 25 en let op wat Dawid gedoen het. 1) Hy het geweet waarheen om te gaan. ‘Ek rig my tot U, Here.’ Onlangs het ‘n leser ons gevra om te bid vir ‘n familielid wat pas met fase vier kanker gediagnoseer is. Hoe vinnig kan ons lewens nie verander nie! Waarheen kan ons in sulke oomblikke draai? Na God toe. Hy word deur baie name in die Skrif geken waarvan een Jehovah-Rapha is – die Here wat genees. Hoe wonderlik is dit nie! Sy Woord sê, ‘Hy…genees al jou siektes’ (Psalm 103:3 NLV). By God is geen siekte ongeneeslik nie, wat beteken dat jy vandag in vertroue na Hom toe kan gaan. 2) Hy het geweet Wie om te vertrou. ‘Ek vertrou op U, my God!..’ (Psalm 25:2 NLV). ‘n Man of vrou sonder God moet self die rol van God in sy of haar lewe vervul. Dit mag dalk doenbaar in die goeie tye wees, maar wat van kwaadaardige selle, foutiewe hartkloppe, afdankings by die werk of finansiële probleme? Na wie toe draai jy dan? ‘Ek rig my tot U, Here.’ 3) Hy het geweet hoe om te bid: ‘Wys my, leer my, lei my.’ ‘Here, wys my die weg… leer my u paaie. Lei my deur u waarheid… want U, o God is my redder…’ (verse 4-5 NLV). Die teoloog, Richard Foster, sê, ‘Om te bid is om te verander. Dit is die sentrale manier wat God gebruik om ons te transformeer. As ons nie gewillig is om te verander nie, sal ons gebed gou prysgee.’ Het jy daaroor gebid? Indien nie, gaan dadelik in God se teenwoordigheid in. Dis waar jy die hulp sal kry wat jy nodig het.
Sielskos: Jes 30-33; Joh 7:14-24; Ps 104:1-23; Spr 28:5-8
2018-09-12
Galasiërs 6:4 NLV
Niks sal jou sin van vrede so vinnig soos vergelyking vernietig nie. Dit wys ‘n gebrek aan begrip en laat jou onverstandig optree (sien 2 Korintiërs 10:12). Toe die dissipels notas vergelyk het om te sien wie van hulle sou ly en wie van hulle sou gespaar bly, het Jesus vir hulle gesê, ‘…wat gaan dit jou aan?’ (Johannes 21:23 NLV). Let op: 1) Vergelykings kan jou meerderwaardig laat voel, wat tot trots lei. Onthou die Fariseër wat ‘n groot gedoente daarvan gemaak het om God te bedank dat hy beter as almal anders is? (sien Lukas 18:11). Trots was Satan se ondergang, daarom hou hy daarvan wanneer jy in dieselfde strik trap. 2) Vergelykings kan jou minderwaardig laat voel, wat tot lae self-waarde lei en jou op jouself gefokus hou. Jy vergeet dat ‘…God nie sekere mense bo ander voortrek nie’ (Handelinge 10:34 NLV), en begin glo dat Hy dinge weerhou waarop jy geregtig is. Die samelewing skep ‘n sin van geregtigheid; dan herinner Satan jou aan al die mense wat dit wat jy wil hê, al gekry het, wat jou verder op die pad van onvergenoegdheid afstuur. 3) Ons probeer om God af te bring na ons vlak toe deur te vergelyk hoe Hy in die verlede te werk gegaan het, met hoe Hy nou werk. Hou op om God te probeer uitpluis en vertrou Hom net! ‘Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Hoe Ek dink, is ook baie ver van die manier waarop julle dink’ (Jesaja 55:9 DB). In plaas daarvan om vergelykings te tref, begin om dit waarmee God jou geseën het, te gebruik en te waardeer.
Sielskos: Kol 1-2; Luk 20:41-47; Ps 78:1-8; Spr 23:19-21
2018-09-06
Rigters 6:16, 23 NLV
Die naam Jehova Salom: Die Here is ons vrede, is deur Gideon ontdek toe die Here hom beveel het om Israel teen die Midianiete te lei – ‘n posisie wat hy gevoel het ver bo sy vuurmaakplek is. ‘…hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes… Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (vers 15 NLV). Hier is hoe die Here gereageer het: ‘Ek is dan saam met jou!… Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.’ ‘n Bang Gideon het God geglo en voor die geveg plaasgevind of gewen is, het hy deur geloof reeds die vrede gesien wat die Here verseker het. Dus het hy ‘n altaar vir Jehova Salom gebou: ‘…Die Here is Vrede…’ (vers 24 NLV). Ons aanvaar dikwels dat ons eers vrede sal hê wanneer ons omstandighede verander. Dan leer ons soos Gideon dat innerlike vrede nie van die verandering van ons uiterlike omstandighede afhang nie; dit hang van ons geloof af dat God met ons is en dat ons sy innerlike vrede ervaar. Jesus belowe: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Hoe onbeholpe jy vandag dalk mag voel om jou uitdagings te trotseer, onthou Christus se woorde: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV). Let op, jou werk is om moed te skep en Jehova Salom te vertrou om die res te hanteer!
Sielskos: Jos 14-15; Luk 20:1-8; Ps 142; Spr 23:7-9
2018-09-05
Eksodus 14:13 NLV
Kom ons gaan voort met Jehova Nissi: Die Here is my banier. Net omdat God jou gevegte veg, beteken nie dat jy nie betrokke is nie. Dis nie maklik om beheer aan die Here oor te gee en Hom toe te laat om namens jou te veg nie. Jy mag dalk voel dat jy opgee en onverantwoordelik is. Jy is geprogrammeer om te dink, ‘Moenie net daar sit nie – doen iets!’ Jy is soos ‘n drenkeling wat nie kan ophou om na die persoon wat jou red te gryp nie en sodoende sy taak amper onmoontlik maak. In wese het jy jou redder se ergste nagmerrie geword. Die moeilikste deel van die bevel om net daar te staan waar jy is en te kyk hoe die Here jou red, is dat die meeste van ons stilstaan met niksdoen verwar. Vrees sê vir ons, ‘Doen iets – enigiets!’ Geloof sê, ‘Staan in geloof. Laat God dit doen!’ ‘Hoekom het ek gevegstoerusting nodig as ek nie veg nie? Paulus sê, ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied…’ (Efesiërs 6:11 NLV). Jy moet God se gevegstoerusting aantrek – nie jou eie nie. Jy moet staan – nie veg nie. ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Ons menslike metodes is in God se pad. Natuurlike kragte is nutteloos teenoor bonatuurlike kragte. Die larwe van die naaldekoker wat op die bodem van die dammetjie bly, mag dalk ‘n lewenskragtige larwe wees. Wanneer dit egter ‘n naaldekoker word, sal al die krag en vaardighede van sy lewe as larwe hom nie help om ‘n lewe in die lug te leef nie. Eens op ‘n tyd het jy deur jou eie inspanning geleef, nou lewe jy deur op Jehova Nissi te vertrou en staat te maak!
Sielskos: Jos 11-13; Luk 19:41-48; Ps 111; Spr 23:4-6