2017-11-17
Lukas 12:2-3 DB
Die inspirerende spreker en skrywer, Julie Ann Barnhill, skryf: ‘Ek neig om ‘n slinkse sondaar te wees. Die grootste tyd van my lewe het ek dit reggekry om onder die radar te vlieg – om 99.9 persent van sulke dinge weg te steek. As iemand wat kerk toe gegaan het en gelyk het of sy ‘n gelukkige familie bestuur, het ek die aandag op die skadukant van my lewe vermy – teen ‘n groot koste. Leuens oor my bestedingsgewoonte het tot finansiële probleme in my huwelik gelei. Hebsug het vriendskappe en tevredenheid by my gesteel. Die tienerwoede wat my myself laat skend het, het later jare oorgespoel in ontploffings van skellende woede teenoor my kinders. Wanneer alkohol my gedurende periodes van eensaamheid en depressie nadergewink het, het ek gegaan. Miskien dink jy, ‘So, jy het nou ‘n paar geheime van jou lewe vir ons vertel – hulle is niks in vergelyking met myne nie.’ Om te probeer wedywer oor wie die aakligste geheime het, is nie die punt nie; ons moet die waarheid aanneem dat ons nie alleen in ons geheime plekke is nie. Dis nie genoeg om net die waarheid uit te blaker nie. Opregte belydenis lei tot radikale vergifnis wat net deur Christus beskikbaar is. Dit bedek dit wat ons gedoen het, maak nie saak hoe erg dit is nie. Jesus ken ons geheime en dit sal Hom nooit daarvan weerhou om ons lief te hê nie. Dit kan egter ‘n hindernis tussen ons en die lewe sonder skaamte wees wat Hy vir ons begeer. Ons bely ons sondes sodat ons verlossing, redding en die ewige lewe kan ontvang. Ons deel ons geheime met vriende wat ons vertrou, sodat ons die realiteit van goddelike genesing deur vlees-en-bloed verhoudings met diegene wat ons liefhet, mag ken.’
Sielskos: Pred 1-3; Joh 10:1-10; Ps 81; Spr 30:11-14
2017-10-04
1 Petrus 5:7 NLV
John Mason skryf: ‘Ek kon nie vrede kry nie. Indien alles nie op sy plek was en ek alles verstaan het nie, het ek angstig, rusteloos, senuweeagtig, bekommerd en iesegrimmig geword, soos ‘n dwelmverslaafde op soek na sy volgende ontvlugting. Die hewigheid daarvan was nie dieselfde nie, maar die simptome was. Ek as Christen was veronderstel om in geloof te wandel. Ek het Jesus vir my redding vertrou, maar in ander areas het ek op myself staat gemaak.’ Lewe jy op hierdie manier? Die inspirerende skrywer William Ward het geskryf: ‘Bekommernis is geloof in die negatiewe, vertroue in die onaangename, versekering van rampspoed en oortuiging van mislukking. Dis ‘n magneet wat negatiewe omstandighede aantrek. Geloof is ‘n sterker krag wat positiewe omstandighede skep. Jy mors vandag se tyd deur jou te bekommer en vermors môre se geleenthede met gister se moeilikhede.’ Toe ‘n ou man gevra is wat die vreugde in sy lewe gesteel het, het hy geantwoord, ‘Dinge wat nooit gebeur het nie.’ Onthou jy die dinge waaroor jy ‘n jaar gelede bekommerd was? Het jy nie baie energie daarop gemors nie? Het die meeste daarvan nie goed uitgewerk nie? Amper 99 persent van die dinge waaroor ons ons bekommer, gebeur nie. Het jy geweet dat ‘n digte mis wat sewe stedelike blokke honderd voet diep bedek, uit minder as een glas water bestaan? Net een glas! Dit kan egter amper alle visie belemmer. ‘n Koppie vol bekommernis kan dieselfde doen. Die Bybel sê, ‘…Niemand het beheer oor wat met hulle gaan gebeur nie’ (Jeremia 10:23 NLV). Hou op om elke moontlike uitkoms te probeer beheer. Die lewe word beter wanneer jy besluit om op God se Woord te staan en Hom te vertrou om vir jou te sorg.
Sielskos: Eks 4-6; Mark 16:9-20; Ps 92; Spr 26:1-3
2017-09-27
Jesaja 26:3 NLV
Hier is ‘n gebed vir vrede: ‘Here, u Woord sê, ‘U bewaar elkeen wat op U vertrou in vrede, die mense wie se gedagtes op U gerig is.’ U Woord sê, ‘Die Here gee krag aan sy volk. Die Here seën sy volk met vrede’ (Psalm 29:11 NLV). U Woord sê, ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle… Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). U Woord sê, ‘…Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:7 NLV). Ek het vandag hierdie vrede wat rede te bowe gaan nodig om my senuwees en gedagtes te kalmeer. In plaas van om aan my vrese en bekommernisse te dink, help my om op u goedheid, u getrouheid, u helende krag, u oorvloedige bronne en u vergewende hart te fokus. Kom bly binne my en vul my met u vrede. Wys my wat dit is wat my vrede steel. Ek wil regtig weet, Vader, sodat ek spesifiek kan wees in dit wat ek bely, dit waaraan ek my moet toewy, en dit wat ek moet verander. Ek maak myself nou oop vir U. Leer my die geheim van oneindige vrede. Ek dank U reeds vir dit wat my sal help om die vrede wat U so mildelik aangebied het, te ontvang. U Woord sê, ‘Verder, laat die vrede wat Christus bewerk het, in julle lewe skeidsregter wees…’ (Kolossense 3:15 NLV). Vandag wil ek deur u vrede, in plaas van my vrese en bekommernisse, regeer word. Ek gee al my sorge dus aan U oor en vertrou dat U dit vir die goeie sal laat uitwerk tot u glorie. In Jesus se naam bid ek dit: Amen.’
Sielskos: 1 Kor 7-9; Mark 15:1-11; Ps 68:1-18; Spr 25:13-16
2017-09-05
Jesaja 44:3 NLV
Ouer, hier is ‘n Bybelse belofte waarop jy kan staan: ‘Ek sal my Gees op jou kinders uitstort, en my seëninge op jou nakomelinge.’ Jou kinders moet kan aangaan waar jy ophou! Hulle moet jou nie net opvolg nie, maar die fondasie gebruik wat jy gelê het en iets groters bou. Moenie die gemak van die status quo as ‘n verskoning gebruik om nie ou denkwyses uit te daag nie. Om verby die grense van jou denke te beweeg, moet jy ophou om dinge soos: ‘Dis maar net soos ek is,’ of ‘My familie het nooit iets bereik nie, ek sal dus ook nie,’ te sê. Wanneer jy dit sê, weerspreek jy God! Toe God die Israeliete uit slawerny gered het, het hulle na die Beloofde Land begin reis. Hulle reis was veronderstel om net elf dae te neem, maar het op die ou einde veertig jaar geneem. Wat het gebeur? Hulle het aanhoudend gekla en as ‘n resultaat oor en oor om dieselfde berg beweeg. Hoekom? Omdat hulle vir vierhonderd jaar slawe was en nog steeds soos slawe gedink en gepraat het! Hulle kon nie dit wat God aan hulle beloof het, begryp nie. Uiteindelik het Hy vir hulle gesê, ‘Julle het nou lank genoeg by hierdie berg gebly. Gaan nou en neem die land wat Ek aan julle nageslag beloof het, in’ (sien Deuteronomium 2:3). As jou verlede een van mislukking is, trek vandag ‘n streep in die sand en verklaar, ‘Genoeg is genoeg. Ek gaan op God vir groter en beter dinge vertrou!’ Dit is in sulke oomblikke wat lewens verander word. Die besluite wat jy vandag maak affekteer nie net jou nie, maar ook jou kinders – vra God dus om jou te help om die regte besluite te neem.
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Mark 10:13-22; Ps 112; Spr 23:13-15
2017-07-22
Hebreërs 6:12 NLV
Hier is drie lesse uit die lewe van Dawid: 1) God maak die keuse. Toe Samuel, die profeet, na Dawid se huis gekom het om die volgende koning van Israel te kies, is Dawid nie eers oorweeg nie. God het hom egter in elk geval gekies. Hou op om God te probeer verstaan! En hou op om jouself met ander te vergelyk! Ons sou baie van die mense wat God gebruik het, verwerp het – wat net bewys hoe min ons eintlik weet. 2) God ontwerp die plan. ‘Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi…’ (Filippense 1:6 NLV). Wie ontwerp die plan? Wie voer dit uit? Op wie moet jy vertrou? God! Sy plan vir Dawid het jare van wegkruip vir Saul se spies, lewe in grotte as voortvlugtende en ‘n span van seshonderd disfunsksionele uitvaagsels, ingesluit. God lei jou op deur die moeilike tye wat jy ervaar, sodat jy die taak wat Hy in gedagte vir jou het, kan hanteer. 3) God bepaal die skedule. ‘…julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.’ Geduld beteken dat jy stewig onder druk bly staan. Die prys behoort aan die een wat deurentyd getrou bly. Dawid is as tiener reeds as koning gesalf, maar hy het eers die troon toe hy dertig was, bestyg. Wees dus geduldig. God berei jou dwarsdeur jou lewe voor, sodat jy gereed kan wees wanneer die tyd reg is. Ja, dis moeilik om te wag. As jy egter wegspring voor die skoot klap, sal jy uit die resies gediskwalifiseer word. Hou dus jou oë op die prys en moenie tou opgooi nie.
Sielskos: Hab 1-3; Mat 27:11-26; Ps 1; Spr 19:9-11