Vertrou God en doen wat goed is

2023-08-29
Psalm 37:3 NLV

Soms wanneer ons probleme het, onttrek ons onsself van die alledaagse lewe en bestee ons al ons tyd om daaroor obsessief te wees en dit te probeer oplos. Ons praat met enigiemand wat sal luister daaroor. Dit is alles onproduktiewe aktiwiteite wat ons daarvan weerhou om te doen wat ons eintlik moet – om te doen wat goed is. As jy die voordele van God se getrouheid wil ervaar, moet jy twee dinge doen: 1) ‘Vertrou op die Here.’ 2) ‘En doen wat goed is.’

Wanneer ons probleme het, voel dit teenproduktief om daarop te fokus om ander mense te seën. Dis egter nie, dis inderwaarheid ‘n baie kragtige ding om te doen. Dit lei jou gedagtes van jouself en jou probleme af. Dis ook wanneer jy goeie sade saai wat dit vir jou ‘n goeie oes sal bring. Om in selfbejammering te verval, jouself te kwel en op ‘n negatiewe manier te praat, verhoed dat God jou help. Om Hom egter te vertrou en aan te hou om goeie dinge vir ander te doen, stel Hom vry om namens jou te werk.

Ons moet besef dat geen van God se beloftes vir ons sal werk totdat ons sy Woord gehoorsaaam nie. Kennis alleen sal nie jou probleme oplos nie; jy moet daad by die woord voeg en gehoorsaam wees, ongeag hoe jy voel. Jy mag dalk nie daarna voel om ‘n belofte na te kom of iets te doen om iemand anders te help nie, maar wanneer jy dit doen, spring God namens jou aan die werk. Een van die sleutels om dus vrees en bekommernis te oorkom, is om te doen wat God jou beveel het om te doen, ongeag hoe jy voel.

Sielskos: Gal 4-6; Mark 9:1-13; Ps 119:161-168; Spr 19:3-8

Wanneer jy aangeval word (4)

2023-07-04
Spreuke 24:10 NLV

Die laaste paar dae het ons gesels oor hoe om Satan se aanvalle te hanteer soos hulle voorkom. As jy dus vandag aangeval word, doen die volgende:

1) Wees taai. Die lewe is ‘n reeks gevegte, wat beteken dat dit ook ‘n reeks oorwinnings kan wees. ‘…omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon’ (1 Johannes 4:4 NLV). Put krag uit God se mag binne-in jou. Hy wil jou graag wys wat Hy vir jou kan doen. “…Onthou dat God die versekering gegee het: ‘Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.’ Daarom kan ons moed skep en antwoord: ‘Die Here is my hulp. Daarom sal ek nie bang wees nie. Wat kan nietige mensies my aandoen?'” (Hebreërs 13:5-6 NLV). Daar is krag in sy Woord wanneer jy dit spreek, dit glo en daarvolgens optree.

2) Maak op God se wysheid staat. Jesus het gesê: ‘Laat dit swaar op julle harte rus om nie bekommerd te wees oor julle verdediging nie, want Ek sal aan julle die regte woorde en die wysheid gee wat al julle teenstanders nie sal kan opponeer of weerlê nie’ (Lukas 21:14-15 NLV). God het vir jou twee dinge gegee wat altyd werk: jou mond en sy wysheid. Wanneer onverwagte dinge voorval, sal die Heilige Gees opstaan en deur jou praat, wees dus van Hom afhanklik.

3) Vertrou op God om die aanval te stop. Die Bybel sê: ‘Aanskou die werke van die Here wat… oorloë beëindig oor die hele aarde…’ (Psalm 46:9-10 NLV). God is in beheer, Hy is groter as jou probleem en jy is op hierdie einste oomblik in sy gedagtes. Hy het jou trane, jou vrese en jou pyn opgelet – en Hy sal namens jou beweeg.

Sielskos: Jer 22-24; Matt 23:23-39; Ps 102:1-11; Spr 14:35-15:2

Voorwaarts en opwaarts

2023-04-06
Filippense 3:14 NLV

Om God se wil vir jou lewe te vervul, moet jy die volgende doen:

1) Na ‘n hoër vlak van geloof beweeg (sien Romeine 1:17). Voor Dawid vir Goliat doodgemaak het, moet hy eers ‘n leeu en ‘n beer doodmaak. Deesdae worstel ons met kwessies wat vereis dat ons God nog meer moet vertrou.

2) God se leiding in elke situasie soek (sien Spreuke 3:6). Hy belowe: ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV).

3) Jouself geestelik belyn. God is besig om sy volk in lyn te bring en diegene saam te bring wat as een man sal staan wanneer die stryd aanbreek. Dit is noodsaaklik om te weet wie jy kan vertrou om saam met jou te veg en jy ontdek sulke mense net in tye van beproewing (sien Josua 8:1).

4) God se wil vir jou lewe ken. God speel nie wegkruipertjie met sy wil nie. Wanneer jy tyd met Hom bestee, sal jy dit ontdek (sien Psalm 143:10) Wanneer jy dit doen, sal jy floreer.

5) God se Woord in die stryd te gebruik. Die Godgegewe woorde wat in die Skrif gevind word, is jou krag in tye van moeilikheid en toetse. Jesus het die Woord gebruik om Satan die aftog te laat blaas (sien Matteus 4). Die wapen van God se Woord werk steeds vandag.

6). Moenie oormatig introspektief wees nie. Net die Heilige Gees het die vermoë om ons harte en gedagtes te ondersoek en te ken (sien Johannes 16:8-15). God sal areas wat korreksie nodig het volgens sy tyd openbaar. Totdat dit gebeur, beweeg in geloof vorentoe.

7) Pas jou gedagtes op. Maak dit ‘n ommuurde stad wat toegang tot negatiewe gedagtes en skadelike invloede weier (sien Spreuke 4:23 NLV).

Sielskos: Lev 8-10; Luk 23:13-25; Ps 26; Spr 9:10-12

In plaas van bekommer, vertrou God

2023-02-15
Filippense 4:6 NLV

Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef. Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink. Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (verse 6-7 NLV).

Bekommernis is soos ‘n wiegstoel. Dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. As jy dit inderwaarheid te lank doen, maak dit jou net moeg! Een mediese kundige sê dat ons ongeveer dertigduisend gedagtes per dag het en deur ons ongekontroleerde gedagtegang, skep ons ‘n gunstige omgewing vir siekte; ons maak onsself siek! ‘n Ander mediese navorser skat dat 87 persent van siektes met verkeerde gedagtepatrone verbind kan word.

Die bron van bekommernis is eenvoudig; dis die versuim om God te vertrou om vir die verskillende situasies in jou lewe te sorg. Die meeste van ons probeer al ons hele lewe lank om vir onsself te sorg, dus neem dit tyd – en baie daarvan – om te leer om eerder op God te vertrou. Die enigste manier wat jy leer om dit te doen, is om dit eenvoudig te doen. Elke keer wat jy bid en die probleem aan God oorgee, ervaar jy sy getrouheid. Dit maak dit makliker om Hom volgende keer te vertrou.

Wanneer dit by probleme kom, sal daar altyd ‘n volgende een wees! Wanneer jy dus begin angstig voel, sê: ‘Ek vertrou God volkome; daar is geen rede om my te bekommer nie!’ Hoe meer jy oor hierdie waarheid dink, hoe meer sal jy vind dat jy vertroue bo bekommernis kies.

Sielskos: Gen 47-49; Luk 9:46-56; Ps 145:14-21; Spr 4:23-24

Wanneer jy in die donker is (1)

2022-08-06
Psalm 112:4 NLV

Geloof is soos film; dit word in die donker ontwikkel. Donker dae laat jou op God leun. Die waarheid is dat indien jou geloof nooit getoets word nie, jy nie gemotiveerd sal wees om nader aan God te beweeg nie. Die gesangeskrywer Edward Mote het geskryf: ‘When darkness veils His lovely face, I rest on His unchanging grace… When all around my soul gives way, He then is all my hope and stay. On Christ, the solid Rock, I stand; all other ground is sinking sand.’

Dis maklik om God te prys wanneer jy gesond is en jou rekeninge betaal is. Dis egter gedurende die donker dae wat jy ontdek waarvan jou geloof gemaak is en waar jou vertroue waarlik lê: in jouself, in ander mense, of in God. Wanneer jou dae so donker soos jou nag voel, is hier ‘n Skrifgedeelte waarop jy kan staan: ‘…Hy wat sonder enige lig in die donker loop, moet vertrou op die Naam van die Here, en staatmaak op sy God!’ (Jesaja 50:10 NLV).

Job het ‘n voorbeeldige lewe gelei, maar tog alles verloor. Ontsteld en verward het hy uitgeroep: ‘God het my pad versper. Hy het dit donker voor my gemaak’ (Job 19:8 NLV). Job kon nie ‘n weg uit die situasie sien nie. Toe het hy ontdek dat wanneer jy nie die rede kan vind nie, jy die verhouding kan vertrou. ‘Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:5 NLV). Toe hy hierdie ontdekking gemaak het, het alles verander: ‘Die Here het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste…’ (Job 42:12 NLV). Wat God vir Job gedoen het – sal Hy ook vir jou doen.

Sielskos: Deut 11-13; Mark 2:23-3:6; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2