Bevry van menslike goedkeuring

2019-11-01
Handelinge 26:17 NLV

Paulus se bediening het begin toe hy vir Jesus op die Damaskuspad ontmoet het, waar Jesus vir hom gesê het: ‘Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Jode na wie Ek jou met volle mandaat stuur. Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ‘n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig…’ (verse 16-18 NLV). Voor Paulus suksesvol in sy roeping en effektief in sy bediening kon wees, moes hy eers van sy vrees vir mense bevry word. Dit het diegene wat hom goed geken het ingesluit, sowel as mense wat hy nog moes ontmoet. Hy moes van sy behoefte aan mense se goedkeuring ontslae geraak het. In wese het God vir hom gesê: ‘Jy is net die posman. Sommige dae sal mense hou van dit wat jy aflewer, ander dae nie. Jy moet in elk geval die pos aflewer. Dus bevry ek jou van die vrees vir hulle verwerping en die behoefte aan hulle aanvaarding.’ Het God jou geroep om ‘n spesifieke werk te doen? Is jy bang dat jy foute sal maak? Jy kan dit maar aanvaar – jy gaan foute maak! Is jy bekommerd dat jy gekritiseer sal word? Dit kom saam met die posisie! Mense sal jou op 101 verskillende maniere teleurstel, maar as jy vasbeslote is om die wil van God te doen, bid dan: ‘Here, bevry my van my behoefte aan menslike goedkeuring, sodat ek dit wat U my gegee het, met hulle kan deel.’ Spring dan aan die werk!

Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18

Maak gebed ‘n prioriteit

2018-03-10
Handelinge 6:4 NLV

In Disciplines of a Godly man, sê die pastoor en skrywer R. Kent Hughes: ‘Jay Sidlow Baxter het een maal ‘n bladsy uit sy eie persoonlike dagboek met ‘n groep pastore gedeel wat hom oor die dissipline van gebed uitgevra het. Hy het begin vertel hoe hy die bediening betree het, vasbeslote om ‘n ware man van gebed te wees. Dit was egter nie lank voor sy toenemende verantwoordelikhede, administratiewe pligte en die subtiele voorwendsels van die pastorale lewe begin het om gebed eenkant toe te druk nie. Verder het hy begin gewoond raak daaraan en het verskonings vir homself gemaak. Een oggend het alles egter tot ‘n punt gekom toe hy voor sy lessenaar wat met werk bestrooi was gestaan het en op sy horlosie gekyk het. Die stem van die Gees het hom geroep om te bid. Terselftertyd het ‘n fluweelsagte stem hom aangesê om prakties te wees en sy korrespondensie te beantwoord, en dat hy moet besef dat hy nie die ‘geestelike tipe’ is nie. ‘Daardie laaste opmerking,’ sê Baxter, ‘was soos ‘n dolk in die hart. Ek kon my nie indink dat dit kan waar wees nie.’ Hy was met afgryse vervul oor sy vermoë om die grondslag van sy pastorale krag weg te rasionaliseer.’ Verstaan mooi: Minute wat jy in gebed belê, sal vir jou meer beteken as ure wat jy aan eindelose aktiwiteite spandeer. Die apostels in die Nuwe Testament het dit verstaan. Soos die kerk groter geword het en hulle besiger geword het, het hulle ‘n lewensveranderende besluit gemaak: ‘óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.’ As gevolg daarvan het die kerk gegroei en vermenigvuldig. Maak dus gebed ‘n prioriteit!

Sielskos: 2 Kon 1:1-4:17; Matt 22:15-33; Ps 106:24-48; Spr 7:3-5