Dis hoe God dit beplan het

2019-10-30
Matteus 19:5 NLV

Ouers, lees hierdie brief: ‘Liewe Pa: Dankie vir al die kere wat ek op jou skoot kon sit sodat ek die rugbywedstryd kon sien en vir al die kere wat Pa vir my worsbroodjies gekoop het. Ek sal altyd die dag onthou wat Pa my deur die sneeu gedra het omdat ek so koud gekry het. Pa was ‘n wonderlike Pa vir my en ek sal Pa nooit vergeet nie. Ek en Susan het nou die dag gesels en gewonder hoe dit met Pa gaan. Vandat ons weggetrek het sien ons mekaar nie baie nie. Een van die dae gaan ons egter kom en Pa verras. Pas Pa op. Ek is lief vir Pa. Liefde, jou seun.’ Mooi brief, nè? Mooi, indien jy jouself voorberei het vir die tyd wanneer jou kinders jou nie meer so baie gaan nodig hê nie. Indien nie, kan jy gegrief voel teenoor diegene vir wie jy so baie opgeoffer het wanneer jy voel dat jy nie meer belangrik vir hulle is nie. God het jou kinders, met ‘n vervaldatum, vir jou geleen. Die digter Kahlil Gibran het gesê: ‘They come through you but not from you… You are the bows from which your children as living arrows are sent forth’ (sien Psalm 127:4). Ouerskap gaan nie oor eienaarskap nie, maar oor rentmeesterskap. Jou eerste opdrag is om liefde te voorsien wat hulle sekuriteit gee, wette te voorsien wat hulle wys maak, lig om in te wandel en ‘n lewenstyl wat hulle kan volg. Jou volgende opdrag is om hulle voor te berei om in die wêreld uit te gaan en die dinge wat jy hulle geleer het uit te oefen. Laat hulle dus vandag gaan, vier die belegging wat jy gemaak het, bid vir hulle en vra vir God: ‘Wat is volgende?’ Dis hoe God dit beplan het.

Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 8:1-20; Ps 6; Spr 25:1-7

Verstaan ons Hemelse Vader (2)

2019-10-25
Psalm 103:13 DB

As jy steeds die letsels van ‘n slegte kindertyd saam met jou dra, kan dit moeilik wees om God as jou liefdevolle Vader te sien. So baie behoeftes waaraan nie in jou kindertyd voldoen is nie – liefde, sekuriteit, vertroue, vertroosting, koestering en materiële benodighede – kan dit moeilik maak om te glo dat God nou in jou behoeftes sal voorsien. Wat staan jou dus te doen? Erken dat jou interne beeld van ‘n vader verwronge is en op geen manier van toepassing op jou hemelse Vader is nie. Selfs die beste pa is net ‘n vae afbeelding van jou hemelse Vader. God wil hê dat jy Hom as ‘n sorgsame, sensitiewe, vrygewige en standvastige Vader moet sien. Dis hoekom Jesus ons geleer het om Hom ‘Ons Vader’ in plaas van ‘Almagtige God en Here’ te noem. Dit is ook hoekom Hy God ‘jou Vader’ en nie net ‘My Vader’ genoem het nie. Soos ‘n goeie vader, het God jou elke behoefte voorsien en daaraan voldoen (sien Matteus 6:25-34). Net soos ‘n goeie ouer die individuele eienskappe van sy kinders verstaan, so ken jou hemelse Vader jou unieke behoeftes, gedagtes en gevoelens. ‘Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is’ (Psalm 103:13-14 DB). Sy versorging is nommerpas gemaak vir jou spesifieke behoeftes en beperkinge. Net soos ‘n goeie aardse vader die verantwoordelikheid aanvaar om vir sy kinders te sorg, hou jou hemelse Vader Homself verantwoordelik om aan jou behoeftes te voldoen; en Hy wil hê dat jy daarvolgens moet optree deur Hom te vertrou. Met ander woorde, jou rol is om soos die kind van ‘n betroubare, vrygewige, liefdevolle Vader op te tree.

Sielskos: Esra 9-10; Joh 7:1-13; Ps 104:1-18; Spr 24:26-27

Oorwinnaars van reuse (3)

2018-11-18
1 Samuel 17:40 NLV

In Dawid se tyd het hulle deur middel van ‘verteenwoordiging’ geveg. Een man sou die nasie as ‘n geheel beveg en die land van die soldaat wat verloor, sou onderdanig aan die land van die wenner word. Dus was die geveg tussen Dawid en Goliat inderwaarheid ‘n geveg tussen Israel en die Filistyne. Ons is bekend met Dawid se oorwinning oor die reus met geloof, ‘n klippie en ‘n slingervel. Tog sê die Skrif vir ons dat hy nie net een klip opgetel het nie, maar ‘…vyf gladde klippies…’ Hoekom? Dit was nie ‘n gebrek aan geloof nie – hy het geweet dat Goliat vier broers het. Let op: 1) Oorwinnaars van reuse besef dat hulle reus groter kwessies verteenwoordig. ‘n Reus staan nooit alleen nie, agter hom lê sy redes. Verslawing, mishandeling en woede word almal deur ander kwessies voortgedryf en ondersteun. Iewers agter die ooglopende reus is sy ondersteunende broers – pyn, skuldgevoelens, verlies en skaamte. Dawid was voorbereid met vyf klippies – een vir Goliat en een vir elk van sy vier broers. Wat lê agter jou reus? Met God se hulp kan jy beide jou reus en sy ondersteuningspan oorwin. 2) Oorwinnaars van reuse word nie deur die uitdagings oorweldig nie. Moet nooit toelaat dat jou vrese jou geloof oorweldig nie. Die Bybel sê dat ‘…God het ons nie ‘n gees van skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing’ (2 Timoteus 1:7 NLV). Vrees sal op die mislukkings in die verlede voed, maar jy kan nie toelaat dat gister se vrees vandag se geloof oorweldig nie. Neem dus vandag jou mislukkings; maak ‘n lys daarvan op ‘n stuk papier en skryf in groot letters bo-aan die bladsy: ‘Dinge wat ek nie weer hoef te probeer nie! Ek het die les geleer.’

Sielskos: Dan 1:3-21; Dan 3:7-30; Dan 5:10-12; Dan 9:1-19

Jou sondepatroon (2)

2018-10-22
Efesiërs 4:32 NLV

As gevolg van die manier wat ons aanmekaar gesit is, vind ons onsself tot sekere sondes aangetrokke. Gevolglik is ons areas van swakheid dikwels konsekwent en voorspelbaar. Dis soos om ‘n ‘sondeprofiel’ te hê. In sy boek, Signature Sin: Taming Our Wayward Hearts, identifiseer dr Michael W. Mangis nege van hierdie patrone, deur ‘n antieke sisteem genaamd die Enneagram te gebruik. Dis ietwat kontroversieel omdat dit deur baie geestelike tradisies gebruik word. Daar word egter geglo dat dit uit die sewe dodelike sondes en die vrug van die Gees sy oorsprong het, dus kan dit ook binne ‘n Christelike raamwerk toegepas word. Kom ons kyk vir die volgende paar dae na hierdie nege sondepatrone en die mense wat heel waarskynlik daarmee sal sukkel, om jou sodoende te help om meer bewustelik te word en ‘n skans teen jou spesifieke area van weerloosheid op te bou. 1) Hervormers. Hervormers word deur perfeksie aangetrek. Hulle het ‘n hoë standaard van uitnemendheid en hulle grootste vrees is om swakplekke te hê. (Hulle maak goeie chirurge – en uitstekende gholfspelers). Op hulle beste is hulle kruisvaarders, waghonde en profete. Omdat hulle egter met perfeksionisme en self-regverdiging sukkel, is hulle geneig om ander wie se standaarde nie heeltemal so hoog is nie, te oordeel. Die profeet Amos is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy praat van ‘n ‘skietlood’ wat wys hoe ver mense van God se standaarde te kort skiet (sien Amos 7:7-8). Paulus het die hervormers aangespreek deur te sê, ‘Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.’ As ‘n hervormer, is jou grootste uitdaging om liefde, geduld en genade aan diegene met wie jy omgaan, te demonstreer. Met God se hulp kan jy dit doen.

Sielskos: Eks 39-40; Joh 5:1-15; Ps 41; Spr 27:7-9

‘n Vader se seën (1)

2018-10-06
Hebreërs 11:20 NLV

Elke kind benodig sy/haar vader se seën en elke pa moet woorde van seën oor hulle spreek. Toe Isak sy seuns geseën het, het hy met Godgegewe outoriteit gepraat, nie uit sentiment of voortrekking nie. Volgens die Hebreeuse gebruik het ‘n pa se seën die volgende bestanddele bevat: 1) ‘n Betekenisvolle aanraking. “Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom… Toe sê Isak: ‘Kom nader en soen my, my seun'” (Genesis 27:22, 26 NLV). ‘n Vader se seën het ingesluit dat die pa sy hande op die kind lê, ‘n soen en ‘n omhelsing van liefde en aanvaarding. Jesus het ook die belangrikheid hiervan besef: ‘Toe het Hy sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën’ (Markus 10:16 NLV). Sulke uitdrukkings van liefde seën steeds jou kinders se harte wanneer hulle dit van jou ontvang, Pa! 2) Woorde van liefde. Voordat Isak vir Jakob geseën het, het hy vir hom gesê, ‘…Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het’ (Genesis 27:27 NLV). Vir die stadsbewoner mag hierdie woorde dalk vreemd klink, maar nie vir Isak se seuns nie. Isak, wat lief was vir die natuur, het inderwaarheid gesê, ‘Dis my seun – ‘n seun van die veld, ‘n jagter, ‘n man soos sy pa!’ Hy kon nie beter woorde wat sy liefde bevestig het, vir sy seuns gesê het nie. Pa, maak seker dat jou woorde nie afbrekend of onsensitief is nie; spreek woorde wat sê, ‘Ek is lief vir jou, ek glo in jou, ek is trots op jou en ek sal altyd daar wees vir jou.’

Sielskos: Eks 1-3; Luk 24:45-53; Ps 51; Spr 25:23-25