2020-06-25
1 Petrus 2:2 DB
Dis noodsaaklik vir jou geestelike groei om daagliks Bybelstudie te doen. Professor Howard Hendricks skryf: “Toe ons kinders klein was, het ons hulle groei met ‘n potlood agterop die kasdeur gemerk. Soos hulle groter geword het, het hulle ons gesmeek om te meet hoe lank hulle geword het en dit op die kasdeur te merk. Dit maak nie saak hoe klein die inkrimente was nie, hulle het in opwinding op en af gespring om hulle vordering te sien. Een dag nadat ek een van my dogters gemeet het, het sy my die tipe vraag gevra wat jy wens kinders nie wil vra nie: ‘Pappa, hoekom hou grootmense op groei?’ Hoe kon ek verduidelik dat grootmense nie ophou groei nie – ons groei net in ‘n ander rigting in? Ek weet nie wat ek vir haar gesê het nie, maar tot vandag toe vra die Here nog vir my: ‘Hendricks, word jy oud, of word jy groot?'” Wat van jou? Hoe lank is jy al ‘n Christen? Nege maande? Nege-en-dertig jaar? Die groot kwessie is hoe baie jy al gegroei het. Hoe vorder jy op God se maatstok? Dis wat die apostel Paulus bedoel het toe hy geskryf het: “‘n Babatjie wat pas gebore is, is dors vir ‘n bietjie melk. Net so moet julle altyd die skoon, geestelike melk wil hê. Dit sal julle geestelik groot en sterk laat word as mense wat God s’n is.” Net soos ‘n baba sy bottel gryp, gryp jy die Bybel. Die baba het melk nodig om sy fisiese lewe te onderhou, jy het die Bybel nodig om jou geestelike lewe te onderhou. Die belangrikste rede om dus die Skrif te bestudeer, is dat dit geestelike groei aanwakker. Dis God se primêre manier om jou as individu te ontwikkel.
Sielskos: Hosea 11-14; Luk 2:34-40; Ps 21; Spr 14:17-20
2020-06-06
Spreuke 9:9 NLV
Kom ons kyk na vertraagde intellektuele ontwikkeling. Soms gebruik ons verse soos: ‘Daar is dinge wat dom lyk vir die mense van die wêreld, maar God het daardie dinge gekies om die slim mense te laat verstaan dat hulle niks weet nie…’ (1 Korintiërs 1:27 ABA), as verskoning om nie ons gedagtes te ontwikkel en intellektueel te groei nie. God het gesê: ‘My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…’ (Hosea 4:6 AFR53). Jou sin van vervulling gaan met intellektuele groei gepaard – iets wat jy nie op ‘n ander manier kan kry nie. Wanneer jy weet dat jy in kennis en begrip groei, word jy minder ontvanklik vir kritiek, verwaarlosing en afjakke. Jou sin van waarde hang nie meer van ander mense se goedkeuring af nie, omdat jy jouself aan jou persoonlike groei meet. Die Bybel sê: “‘n Mens met insig kry steeds meer kennis. Wyse mense hou altyd hulle ore oop vir nog meer kennis” (Spreuke 18:15 NLV). ‘Die oor wat wel hoor, die oog wat reg sien – die Here het al twee gemaak’ (Spreuke 20:12 NLV). Let wel, jy leer deur te luister en te observeer! Ons praat nou nie hier van ure voor die televisie spandeeer wat jou brein dof maak en jou die kuns van gesprekvoering afleer nie. Die Bybel sê: ‘Yster slyp yster en so vorm vriende mekaar’ (Spreuke 27:17 NLV). Om te groei en skerp te word, het jy vriende in jou lewe nodig wat jou sal opskerp. Daar is drie sleutelaktiwiteite wat jou toekoms bepaal: a) die tyd wat jy met God bestee; b) die verhoudings wat jy aanknoop; en c) die boeke wat jy lees. Die boek waaraan jy die meeste tyd moet bestee, is die Bybel. Nog ‘n gedagte: Enige tyd wanneer jy lees en ‘n goeie gedagte kry of ‘n ‘aha!’ oomblik ervaar, skryf dit neer – anders sal jy dit verloor.
Sielskos: Op 1-4; Mark 14:43-52; Ps 1; Spr 13:1
2020-02-04
Prediker 9:9 NLV
Drie dinge gebeur in ‘n goeie huwelik: 1) Jy leer jouself ken. Om te groei, moet jy in staat wees om realisties na jouself te kyk en die beste plek om dit te doen, is in ‘n huis gevul met liefde. Dit laat jou toe om eerlik oor jou foute en jou tekortkominge te wees. Dis ‘n veilige plek om te faal. Dit skep ‘n omgewing gevul met begrip en ondersteuning. Die mense die naaste aan ons, vorm ons. Toe Moeder Teresa die Nobelprys vir vrede gewen het, is sy gevra: ‘Wat kan ons doen om wêreldvrede te bevorder?’ Sy het geantwoord: ‘Gaan huis toe en wees lief vir jou familie.’ As jy die wêreld wil verander, moet jy by die huis begin. 2) Jy begin jou karakter ken. ‘n Huis wat om Christus gesentreerd is, help nie net om jou kinders se karakters te vorm nie, maar dit versterk ook joune. Karakter word op die keuses wat jy maak en die gewoontes wat jy kweek, gebou. Omdat jou familie jou primêre omgewing skep, beïnvloed dit daardie keuses en gewoontes. Sterk families moedig ons aan om goeie keuses te maak en die regte dissiplines te ontwikkel. 3) Jy het ‘n veilige hawe. Dit voel of die pas van die lewe daagliks hewiger raak. Om op oorvol paaie te bestuur is stresvol. Die werkplek is veeleisend. Die skoolterrein is ‘n toenemend vyandige omgewing. Waar kan jy skuiling vind? Theodore Roosevelt het gesê: ‘Ek sal eerder met my familie tyd spandeer as met enige van die wêreld se belangrikes.’ Sy huis was ‘n veilige hawe te midde van die lewe se storms – en joune kan ook wees. Die vraag is: Wat doen jy om dit so te maak?
Sielskos: Jes 38-41; Matt 12:15-21; Ps 111; Spr 3:29-30
2019-11-25
Psalm 37:34 DB
Boere het ‘n tyd om te saai, ‘n tyd om te groei en ‘n tyd om te oes. Dis dieselfde in God se koninkryk. Een sendeling vertel hoe hy gehoor het hoe ‘n groep gesoute leiers hulle gedeelde ervarings bespreek het, waaruit ‘n fassinerende vyf-fase proses te voorskyn gekom het: Fase 1: Die geboorte van die visie. Elkeen het aanvanklik ‘n visie van die Heilige Gees ontvang, wat gepaardgegaan het met opgewondenheid en blywende bewustheid dat dit van God af kom. Fase 2: Die voorbereiding. Dis die fase waar drome dikwels vernietig word, omdat ons nie die nodige voorbereiding wil doen nie. Wanneer God jou ‘n visie gee, moet daar ook aksie van jou kant af geneem word, anders sal dit nooit meer as ‘n vlietende dagdroom wees nie. Fase 3: Die wildernis en die stryd. Een van ons grootste wanopvattings is dat wanneer iets van God af kom, daar geen stryd betrokke sal wees nie. Dis ‘n mite! Jy kan amper gewaarborg wees dat daar ‘n aansienlike stryd vereis sal word. Dis in hierdie fase waar ons getrouheid bewys word en daar is geen plaasvervanger daarvoor nie. 4) Die realisering van die visie. Dis hier waar ons uiteindelik die vrugte van ons ywerige voorbereiding en God se getrouheid kan begin smaak. Fase 5: ‘n Nuwe begin en visie. Hierdie leiers het almal agtergekom dat hulle weer deur ‘n vars visie van die Heilige Gees uitgedaag is. Hulle het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat hulle lewens ‘n aanhoudende siklus van al groter wordende visies is en soos God hulle met meer vertrou het, het dit hulle meer voorbereiding gekos en het die intensiteit van die stryd verhoog. Nou verstaan jy die fases van jou visie!
Sielskos: 3 Joh; Judas; Joh 13:31-38; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27
2019-10-10
Filippense 3:14 NLV
Die tydskrif Life het in 1972 ‘n storie oor die wonderbaarlike avonture van John Goddard gepubliseer. Toe hy vyftien jaar oud was, het Goddard se ouma gesê: ‘As ek dit maar net gedoen het toe ek jonk was.’ John was vasbeslote om nie dieselfde stelling aan die einde van sy lewe te maak nie en het toe 127 doelwitte vir sy lewe neergeskryf. Hy het tien riviere genoem wat hy wou verken en sewentien berge wat hy wou uitklim. Hy wou ‘n wêreldreisiger en ‘n vlieënier word. Ook op sy lys was om ‘n perd in die Rose Bowl parade te ry, in ‘n duikboot te duik, Marco Polo se spoor na te loop, die Bybel van voor tot agter deur te lees en die hele Encyclopedia Britannica te lees. Hy het ook beplan om die werke van Shakespeare, Plato, Dickens, Socrates, Aristotel en verskeie ander klassieke skrywers te lees. Hy wou graag die fluit en viool leer speel, trou, kinders kry (hy het vyf kinders gehad), ‘n dokter word en as sendeling vir sy kerk dien. Klink dit onmoontlik? Op die ouderdom van sewe-en-veertig het hy 103 van sy 127 doelwitte bereik! Jou lys van doelwitte mag dalk nie so uitgebrei soos syne wees nie, maar as jy nie ten minste ‘n paar doelwitte vir jou lewe het nie, sal jy min motivering hê om in die oggend op te staan en min bevrediging hê wanneer jy in die aand jou kop op jou kussing neerlê. Tensy jy iets probeer wat jy nog nie voorheen bemeester het nie, sal jy nie groei nie. Stel dus jou doelwitte in gebed saam en werk elke dag, met God se hulp, daarnatoe.
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Joh 3:22-36; Ps 89:38-52; Spr 23:19-21