Skriftuurlike vaardighede

2023-02-01
1 Tessalonisense 5:16-18 NLV

Jy het goeie vaardighede nodig om sukses in die lewe te behaal. Die verkoopsman het ‘n kwota. Die akteur het repetisies. Die berader gesels met een depressiewe siel na die ander. Die vlieënier moet vir ure in die kajuit sit. Die pastoor is nooit gevrywaar van voorbereidng vir sy preke nie. Dan is daar die ma met klein kindertjies wat veertien uur per dag moet besluite neem, met sterk willetjies meeding en probeer om alles vir almal te wees. Hoe ontwikkel jy die vaardighede wat nodig is om die oorvloedige lewe wat Jesus belowe het, uit te leef? (sien Johannes 10:10).

Paulus sê vir ons: ‘Wees altyd vol blydskap. Moenie ophou bid nie. Wees in alle omstandighede dankbaar…’ Verbly jouself in die dinge wat nooit kan verander nie, wat nie kan misluk nie en wat jou nie in die steek sal laat nie (soos God se beloftes!). Wanneer jy voel dat alles te veel word, bid. Sê met elke asemteug: ‘Ek vertrou U, Here; Ek gee dit aan U oor, want ek weet U het alles onder beheer.’

Moenie vergeet om dankie te sê nie. Onthou die ou gesegde: ‘Ek het gekla omdat ek nie skoene het nie, totdat ek ‘n man sonder voete ontmoet het.’ In plaas daarvan om te kla, begin jou seëninge tel. Kan jy onthou hoe die lewe was voor jy Jesus ontmoet het? Was daar nie dae gewees wat jy gedink het dat jy dit nie gaan maak nie? Kyk waar is jy nou! Toe die Israeliete aan die anderkant van die Rooi See gestaan en teruggekyk het, het hulle verklaar dat die Here hulle krag, hulle lied en hulle redding is (sien Eksodus 15:2). Is dit nie ook wat Hy vir jou is nie? Loof God!

Sielskos: Gen 20-23; Luk 7:11-23; Ps 107:23-32; Spr 3:25-26

Geniet elke dag van hierdie Nuwe Jaar (2)

2023-01-02
Johannes 15:11 NLV

Jy moet ter wille van Christus elke dag van jou lewe geniet, want Hy het ‘n baie hoë prys betaal sodat jy dit kan doen. Hy het gesê: ‘…Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (Johannes 10:10 NLV). Hy het gesê: ‘Dit het Ek vir julle gesê sodat julle my blydskap mag ervaar en julle blydskap volkome kan wees’ (Johannes 15:11 NLV). Hy het gesê: ‘Hou aan bid, en julle sal ontvang sodat julle blydskap volledig kan wees’ (Johannes 16:24 NLV).

Jesus het gebid dat jy blydskap moet ervaar: ‘Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind’ (Johannes 17:13 NLV). Met Jesus self wat sulke kragtige woorde bid oor sy begeerte dat jy vreugde moet hê, hoe kan jy ooit twyfel dat God wil hê dat jy gelukkig moet wees en jou lewe geniet?

As verloste kind van God, is jy ‘n lopende advertensiebord vir Christenskap! Moenie rondgaan en ernstig, streng of suur lyk in ‘n poging om ‘geestelik’ voor te kom nie. Nee, dit sit nie-Christene af! Jy het ‘n nuwe ingesteldheid nodig; ‘n Skriftuurlike een wat jou in staat sal stel om die lewe te geniet en jou ‘n lekkerder mens te maak om by te wees.

Sielskos: Jes 1; Luk 1:1-4; Ps 1; Spr 1:1-2

Die belangrikheid van slaap

2022-12-08
Jeremia 31:26 NLV

Soms is die mees ‘geestelike’ ding wat jy kan doen om vroeg bed toe te gaan en verfris wakker te word, sodat jy gereed is om God se doelwitte vir die dag te vervul. Wanneer jou battery konstant laag is, word dit in jou houding, jou verhoudings, jou optrede en jou gesondheid, weerspieël.

Dis hoekom die Bybel oor die belangrikheid van slaap praat:
1) ‘Tevergeefs werk jy so hard, van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).
2) ‘Ek sal in vrede gaan lê en slaap, want U alleen, o Here, laat my veilig woon’ (Psalm 4:9 NLV).

Slaap is ‘n vertrouensdaad: Wanneer jy gaan slaap, erken jy dat die wêreld in God se hande, nie joune nie, is. Wanneer jy môreoggend wakker word, net soos God vir Israel vars manna gegee het, sal Hy vir jou gee wat jy vir die dag nodig het. Jeremia het gesê: ‘Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.’

Het jy al ooit probeer bid as jy nie genoeg geslaap het nie? Dis moeilik. Voor Elia in staat was om langdurige tye in gebed deur te bring, het die engel van die Here hom gedwing om nie net een nie, maar twee lang slapies te vat. Kontrasteer dit met die dissipels in Getsemane wat nie kon bid nie, omdat hulle aanhoudend aan die slaap geraak het. Dis moeilik om soos Jesus te dink, te voel en op te tree wanneer jy slaap kort. Dis hoekom die Bybel sê: ‘…vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV).

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5

Hoe om ‘n goeie gesindheid te behou

2022-09-25
Psalm 119:164 NLV

‘n Slegte gesindheid is soos ‘n pap wiel; jy sal nêrens kom as jy dit nie vir ‘n ander een verruil nie. Min dinge in die lewe is so belangrik soos jou gesindheid en hier is vier maniere hoe jy ‘n goeie gesindheid kan behou:

1) Besef dat jou gesindheid aanhoudend aangepas moet word. Enigiets wat jy nie in stand hou nie, versleg uiteindelik. Hoe sterker jou natuurlike neiging tot twyfel en negatiwiteit is, hoe harder sal jy daaraan moet werk. Begin dus elke dag deur jou gesindheid te ondersoek en kyk deurlopend deur die dag vir rooi vlae uit dat jy nie so goed vaar nie.

2) Bid, omdat jy God se hulp nodig sal hê om ‘n goeie gesindheid te handhaaf. Die Bybel sê: ‘Vertrou op die Here en doen wat goed is. Woon in die land en geniet veilige weiding. Wees bly in die Here en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here… Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:3-5 NLV).

3) Kyk uit vir dit wat goed is en jy sal dit vind. Moeder Teresa het twee dinge van diegene wat saam met haar in die Kalkutta-krotbuurte gewerk het, vereis: ‘n begeerte om te werk en ‘n vreugdevolle gesindheid. As sy vrolik onder die sterwendes en behoeftiges kon wees, kan jy sekerlik ook!

4) Kyk uit vir mense met geloof en bestee tyd saam met hulle. Waar is hulle? Jy sal hulle vind waar hulle bo die twyfelaars soos arende sweef. As jy ‘n slegte dag het, beweeg agter hulle in en sweef saam in hulle lugstrome. As hulle sukkel, moet jy die een wees wat voor vlieg en dinge makliker maak. Dawid het sewe keer per dag vir God geloof. Kan jy dink wat dit vir jou gesindheid kan doen?

Sielskos: Ef 5:21-33; Hoog 2:1-7; Ps 45; Spr 5:15-19

Wanneer jy teleurgesteld is

2022-09-14
Psalm 42:7 DB

Max Lucado sê: ‘Wanneer God nie doen wat ons wil hê Hy moet doen nie, is dit nie maklik nie. Geloof is die oortuiging dat God meer as ons weet en dat Hy ons deur die moeilike situasie sal bring. Moenie paniekerig raak nie, moenie tou opgooi nie, wees geduldig – God is in beheer.’

Wanneer jy dus teleurgesteld is: 1) Kyk binnetoe. Dawid het gevra: ‘Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld?..’ (vers 6 NLV). Erken hoe jy voel. Vra God om vir jou die wortel van die probleem te wys. Is dit opgekropte woede? Jaloesie? Onvergifnis? Trots? Fisiese en geestelike moegheid? Wees ontvanklik vir dit wat Hy aan jou openbaar.

2) Kyk boontoe. Dawid het gesê: ‘…Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys…’ (vers 6 NLV). In plaas daarvan om op jou teleurstelling te fokus, fokus op die Een wat die uitweg ken.

3) Onthou God se getrouheid in die verlede. Dawid het gesê: ‘My God, ek is heeltemal moedeloos… Hier ver weg van almal dink ek aan U…’ Deur elke toets het Josef aan die versekering dat God steeds in beheer van sy lot was, vasgeklou. Deur God se getrouheid weer op te roep, verhoog jou vertroue dat Hy sal aanhou om te voorsien.

4) Onthou, jy hoef nie te verstaan nie. Net omdat jy nie kan uitpluis wat God tans doen nie, beteken nie dat dit nie later sal sin maak nie. ‘En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet…’ (Romeine 8:28 NLV).

5) Moenie aan bitterheid toegee nie. Wanneer jou hoop beskaam word, kan wrokkigheid intree. ‘…As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ (Romeine 8:31 NLV). Maak nie saak hoe diep die put dalk mag lyk nie – God is aan jou kant!

Sielskos: Eseg 27:25-30:26; Mark 12:28-44; Ps 78:32-39; Spr 20:20-21