2019-11-01
Handelinge 26:17 NLV
Paulus se bediening het begin toe hy vir Jesus op die Damaskuspad ontmoet het, waar Jesus vir hom gesê het: ‘Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Jode na wie Ek jou met volle mandaat stuur. Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ‘n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig…’ (verse 16-18 NLV). Voor Paulus suksesvol in sy roeping en effektief in sy bediening kon wees, moes hy eers van sy vrees vir mense bevry word. Dit het diegene wat hom goed geken het ingesluit, sowel as mense wat hy nog moes ontmoet. Hy moes van sy behoefte aan mense se goedkeuring ontslae geraak het. In wese het God vir hom gesê: ‘Jy is net die posman. Sommige dae sal mense hou van dit wat jy aflewer, ander dae nie. Jy moet in elk geval die pos aflewer. Dus bevry ek jou van die vrees vir hulle verwerping en die behoefte aan hulle aanvaarding.’ Het God jou geroep om ‘n spesifieke werk te doen? Is jy bang dat jy foute sal maak? Jy kan dit maar aanvaar – jy gaan foute maak! Is jy bekommerd dat jy gekritiseer sal word? Dit kom saam met die posisie! Mense sal jou op 101 verskillende maniere teleurstel, maar as jy vasbeslote is om die wil van God te doen, bid dan: ‘Here, bevry my van my behoefte aan menslike goedkeuring, sodat ek dit wat U my gegee het, met hulle kan deel.’ Spring dan aan die werk!
Sielskos: 1 Kro 17:1-20; Heb 11:4-12:3; Ps 18:20-29; Spr 4:18
2019-10-30
Matteus 19:5 NLV
Ouers, lees hierdie brief: ‘Liewe Pa: Dankie vir al die kere wat ek op jou skoot kon sit sodat ek die rugbywedstryd kon sien en vir al die kere wat Pa vir my worsbroodjies gekoop het. Ek sal altyd die dag onthou wat Pa my deur die sneeu gedra het omdat ek so koud gekry het. Pa was ‘n wonderlike Pa vir my en ek sal Pa nooit vergeet nie. Ek en Susan het nou die dag gesels en gewonder hoe dit met Pa gaan. Vandat ons weggetrek het sien ons mekaar nie baie nie. Een van die dae gaan ons egter kom en Pa verras. Pas Pa op. Ek is lief vir Pa. Liefde, jou seun.’ Mooi brief, nè? Mooi, indien jy jouself voorberei het vir die tyd wanneer jou kinders jou nie meer so baie gaan nodig hê nie. Indien nie, kan jy gegrief voel teenoor diegene vir wie jy so baie opgeoffer het wanneer jy voel dat jy nie meer belangrik vir hulle is nie. God het jou kinders, met ‘n vervaldatum, vir jou geleen. Die digter Kahlil Gibran het gesê: ‘They come through you but not from you… You are the bows from which your children as living arrows are sent forth’ (sien Psalm 127:4). Ouerskap gaan nie oor eienaarskap nie, maar oor rentmeesterskap. Jou eerste opdrag is om liefde te voorsien wat hulle sekuriteit gee, wette te voorsien wat hulle wys maak, lig om in te wandel en ‘n lewenstyl wat hulle kan volg. Jou volgende opdrag is om hulle voor te berei om in die wêreld uit te gaan en die dinge wat jy hulle geleer het uit te oefen. Laat hulle dus vandag gaan, vier die belegging wat jy gemaak het, bid vir hulle en vra vir God: ‘Wat is volgende?’ Dis hoe God dit beplan het.
Sielskos: 1 Kro 3-5; Joh 8:1-20; Ps 6; Spr 25:1-7
2019-10-22
Matteus 6:31-32 NLV
As God binne-in jou woon, moet dit dan nie voor die hand liggend wees nie? Hoe kan jy sê dat jy op Hom vertrou en jouself dan obsessief oor jou gesondheid, jou kinders, jou werk en jou finansies bekommer? Besorgdheid is een ding, maar bekommernis is ‘n belediging vir die God wat jou nog nooit in die steek gelaat het nie. Paulus skryf: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. As julle so bid, sal julle God se vrede beleef…’ (Filippense 4:6-7 NLV). Bid of bekommer – dit is jou opsies. Jesus het gesê: ‘Moet julle daarom nie oor môre bekommer nie…’ (Matteus 6:34 NLV). Wanneer jy jou oor môre begin bekommer, vlieg jou vrede by die venster uit! Al wat nodig is om ‘n stilstaande trein daarvan te weerhou om vorentoe te beweeg is twee klein blokkies hout, maar sodra dit stoom opbou kan dit deur ‘n ses voet muur breek. Keer dus die bekommernistrein voor dit die stasie verlaat! God sê: ‘…My genade is genoeg vir jou…’ (2 Korintiërs 12:9 NLV). God sal slegs dit wat jy vandag nodig het vir jou gee; op hierdie manier hou jy aan om Hom vir môre te vertrou. Die Bybel sê vir ons dat Jesus die Goeie Herder is. ‘Hy roep sy eie skape op hulle name… Wanneer hy al sy eie skape na buite gelei het, loop hy voor hulle uit…’ (Johannes 10:3-4 NLV). Hoe wonderlik is dit nie. Hy het klaar vooruit geloop om alles vir jou reg te kry. Hierdie wete sal jou help om môre in die gesig te staar, vol vertroue dat God vir jou sal sorg.
Sielskos: Esra 1-2; Joh 6:25-34; Ps 98; Spr 24:15-18
2019-07-18
1 Kronieke 16:11 NLV
In Catherine Marshal se boek, A Closer Walk, skryf haar man Leonard LeSourd oor die begin van hulle huwelik. ‘Catherine het groot aanpassings gehad om te maak. Sy het haar droomhuis in Washington verkoop en na Chappaqua getrek, sodat ek kon aanhou om na my werk in New York te pendel. My kinders – Linda, tien; Chester, ses; Jeffrey, drie – is deur ‘n paar ontstellende jare waar hulle aan ‘n verskeidenheid huishoudsters gewoond moes raak. Hulle het gemengde gevoelens gehad om na ‘n nuwe huis toe te trek en veral teenoor ‘die nuwe ma wat Pappa gaan huis toe bring.’ Catherine se seun, Peter, wat negentien was, was besig om deur ‘n rebelse tyd by Yale Universiteit te gaan. Catherine en ek het so baie dinge gehad om oor te bid dat ons begin het om ‘n uur vroeër in die oggende op te staan om die Bybel te lees en saam antwoorde te soek. Haar dagboek het langs ons oop gelê in daardie tye wat ons voor sonsopkoms gebid het, waarin sy ons veranderende behoeftes en God se onveranderlike getrouheid neergeskryf het.’ Soos die lewensdruk meer word, moet jy meer bid, nie minder nie. Jesus het voor sonop opgestaan om te bid. Soms het Hy deurnag gebid. Ander kere het Hy die eise van die skare agtergelaat om te gaan bid. Hoekom? Omdat jou krag, vrede, vreugde en effektiwiteit direk aan die tyd wat jy in gebed spandeer, gekoppel is. Hoekom bid ons dan nie daagliks nie? Vir dieselfde rede wat mense by ‘n gym in Januarie aansluit en teen Februarie nie meer gaan nie. Gebed verg dissipline wat slegs jy in plek kan stel. Dit bring egter groot belonings mee.
Sielskos: Hand 20-21; Matt 10:21-31; Ps 14; Spr 16:6-7
2019-07-15
Psalm 127:3 NLV
Wanneer iemand jou lief genoeg het om aan jou ‘n geskenk of nalatenskap te gee, moet jy dit veilig bewaar en dit op ‘n manier hanteer wat hulle eer. Die Bybel sê dat jou kinders ‘n geskenk van die Here is. Dus is hier ‘n gebed vir hulle: ‘Here, ek kan nie begin om vir U te sê hoe geseënd en dankbaar ek vir my kinders is nie. Ek herken hulle as ‘n beeldskone gawe van U. U het hulle vir my gegee om lief te hê en te versorg, om te geniet en te vier, om groot te maak sodat hulle U as die grootste nalatenskap van alles sal leer ken. Dankie dat niemand, nie eens ek nie, ooit so goed vir hulle kan wees soos U nie. Omdat U vir my die voorreg en verantwoordelikheid gegee het om hulle na U toe te bring, leer my die belangrikheid daarvan om hulle elke dag voor U in gebed op te hef. Hou hulle in die middel van u liefde en die doel wat U vir hulle het. Seën hulle met die kennis van wie U is. Help hulle om hulle vertroue in U te plaas en op die lewenspad wat U vir hulle gekies het, te bly. Stel hulle in staat om die gawes en die roeping wat U in hulle geplaas het te herken en om u leiding soos U hulle ontwikkel en hulle vir u verheerliking gebruik, te volg. Laat u genade by hulle wees en u liefde hulle omring. In Jesus se Naam bid ek dit, amen.’ Dien jou kinders die Here? Indien nie, staan op hierdie Bybelse belofte: “‘Daar is hoop vir die toekoms,’ sê die Here. ‘Jou kinders sal terugkom na hulle land toe'” (Jeremia 31:17 NLV).
Sielskos: Hand 14-15; Matt 9:27-38; Ps 133; Spr 16:2