Satan is aan die werk – staan teen hom op!

2020-03-31
Matteus 13:28 NLV

Die Bybel sê: ‘Hy het ‘n ander gelykenis aan hulle voorgehou met die woorde: ‘God se koningsheerskappy kan vergelyk word met ‘n man wat goeie saad op sy land saai. Maar een nag, terwyl die mense geslaap het, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn. Toe die groen koring opskiet en in die aar begin kom, verskyn terselfdertyd ook die onkruid. Die slawe van die boer kom toe en sê vir hom: ‘Meneer, u het tog goeie saad op u land gesaai. Waar kom die onkruid dan vandaan?’ ‘Dis ‘n vyand se werk!’ het hy uitgeroep…’ (verse 24-28 NLV). Ons het almal ‘n geestelike wekroep van tyd tot tyd nodig. Soms is die probleem waarmee ons stoei nie van menslike oorsprong nie. Ja, dis dwaas om alles op die Duiwel te blameer, maar dis nog dwaser om nie agter te kom wanneer hy aan die werk is nie. Paulus skryf: ‘Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes. Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:11-13 NLV). Hy gaan voort deur te sê: ‘Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet’ (vers 16 NLV). Die woord vir jou vandag is dus: Herken wanneer Satan aan die werk is, staan teen hom op en hy sal vlug! (sien Jakobus 4:7).

Sielskos: Job 38-39; Matt 26:36-46; Ps 31; Spr 8:34-36