Praat met ‘goeie smaak’
2020-05-31Kolossense 4:6 NLV
John Grisham, die skrywer van topverkoper boeke wat topverkoper films geword het, is al ‘n ‘reguit pyl op ‘n skewe pad,’ genoem. Sy boeke beeld dikwels gewetenlose prokureurs, korrupte politici en bose polisiemanne uit – die onderwêreld van ‘n lewe van rykdom en ordentlikheid. Sy helde, aan die ander kant, is gewoonlik die onskuldiges of kinders, soos die elfjarige seun in sy boek The Client. Grisham het gesê dat hy eerder ‘n goeie mens wil wees as om sy boeke met seks en bloed te vul. Hy weier om enigiets te skryf wat sy ma of sy kinders in die verleentheid sal stel. Baie in die uitgewerswêreld het gedink dat hy sou misluk, maar sy benadering het dividende behaal. The Firm het nou al oor die twintig miljoen kopieë in druk. Tot op datum is die oudste aanhanger wat aan hom geskryf het ses-en-negentig jaar oud, en die jongste tien jaar oud. Die meeste van sy lesers prys hom omdat hy grafiese geweld, obsene tonele en vloektaal vermy. Die Bybel sê: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Jou woorde moet in goeie smaak wees. Jesus het gesê: ‘…Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. As jy luister na wat iemand sê, sal jy agterkom of sy gesindheid reg is en hy van ‘binne’ skoon is. Juis daarom sê Ek vir julle: mense wat sommer allerhande lelike dinge van ander sê, sal met die finale oordeel hulle woorde voor God moet gaan verduidelik. Wat jy sê, is dus verskriklik belangrik. Immers, op grond van wat jy sê, sal God besluit of jou saak met Hom reg is of nie’ (Matteus 12:34-37 NLV). Praat dus met goeie smaak.
Sielskos: Joh 7:37-41; Eks 17:1-7; Jes 35:1-7