‘n Gebed van toewyding aan God
2023-05-11Johannes 17:4 NLV
As dit die begeerte van jou hart is om God te behaag en sy wil vir jou lewe te vervul, is hier ‘n gebed vir jou: ‘Here, ek dank U dat U my steeds liefhet, selfs al weet U alles van my. U ken my gedagtes, my foute, my sondes en tog noem U my u kind. U genade teenoor my gaan alle verstand te bowe. Meer as enigiets anders, wil ek U intiem ken en u teenwoordigheid daagliks in my lewe aanvoel. As daar enige deel van my is wat ek van U weerhou, wys dit uit vir my sodat ek U kan uitnooi om daar te heers. Gaan my binne, Heilige Gees, en verkwik my siel met riviere van lewende water. Vloei dan uit my uit na ‘n droë en dors wêreld (sien Johannes 7:38-39).
Help my om my oë op U, in plaas van ander, gerig te hou (sien Hebreërs 12:1-2). Here, wees altyd my rykste skat. Help my om nooit ‘n afgod van enigiets of enigiemand anders te maak nie of om toe te laat dat besittings of afleidings van hierdie wêreld op enige manier voor U te staan kom nie. U is my geneser, my hoop en my krag.
Wanneer ek vryheid nodig het, is U my Redder. U is my skild teen die Vyand, my berader wanneer ek leiding nodig het en my skuilplek in dae van teëspoed (sien Psalm 32:7). U is waarlik die God van wonderwerke. Doen u wonderwerke van genade in my lewe en hou aan om my dag vir dag te verander om meer soos U te wees (sien 2 Korintiërs 3:18). In Jesus se Naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Num 19-21; Matt 8:18-34; Ps 44:9-16; Spr 11:10-11