‘n Formule vir ‘n suksesvolle lewe

2019-09-28
1 Petrus 5:5-7 NLV

Iemand het geskerts: ‘Die probleem met sukses is dat die formule daarvoor dieselfde formule is as vir ‘n senu-ineenstorting.’ Die Bybel gee ons die regte formule vir ‘n suksesvolle lewe. Dit sluit drie areas in: outoriteit, houding en versekering. ‘…erken die gesag van die ouderlinge… Word daarom klein onder die kragtige hand van God… Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om.’ Kom ons kyk na elk van hierdie drie areas: 1) Onderwerp jouself aan diegene wat wys is. Luister na hulle raad, word aanspreeklik, aanvaar teregwysing, aanvaar voorstelle, respekteer ervaring en volg ‘n waardige voorbeeld. Eers wanneer jy raad kan aanvaar, sal jy gekwalifiseerd wees om dit te kan gee. Eers wanneer jy leierskap respekteer en jouself daaraan onderwerp, sal jy gekwalifiseerd wees om ander te kan lei. 2) Word nederig. In die Skrif simboliseer die ‘hand’ van God twee dinge: sy dissipline en sy verlossing. Wanneer jy nederig voor Hom word, aanvaar jy dat sy dissipline goed is vir jou. Jy erken ook sy gewilligheid om op jou hulpkreet te antwoord en jou te red op enige manier wat Hy kies om dit te doen. 3) Werp jouself op God se genade en sorg. Moeilikheid en teleurstelling sal vir seker kom en wanneer dit gebeur, moet jy jouself in God se arms werp. Die situasie mag dalk vir jou te groot wees, maar dit is nooit te groot vir Hom nie. Beteken dit dat daar nie ‘n plek vir beplanning, doelwitte en harde werk is nie? Nee, dit beteken net dat jy gewillig is om dinge op God se manier te doen, wat altyd die beste is.

Sielskos: 1 Sam 27-31; Matt 28:11-20; Ps 63; Spr 22:17-23