Lesse van ‘n gebroke hart
2023-05-17Psalm 51:14 NLV
‘n Gebroke hart kan nie genees word deur sestien uur ‘n dag te werk, dit in die gym uit te sweet of middels wat jou gemoed verander, soos alkohol en dwelms, te gebruik nie. Hierdie dinge kan ‘n tydelike oplossing bring, maar bring nie ‘n blywende genesing mee nie. Nadat hy in sonde en skaamte verval het, het Dawid gebid: ‘Gee my tog weer die vreugde van u redding…’ Goeie nuus: God kan dit wat jy verloor het herstel en jou dinge oor jouself leer wat jy nie geweet het nie, om jou sodoende ‘n beter persoon te maak.
Een van die eerste lesse wat Hy ons leer gaan oor vergifnis. Jy kan nie die swaard van onvergifnis oor iemand anders se kop hou en verwag om self genesing te kry nie. Jou vrede en selfvertroue voor God hang van jou gewilligheid om genade aan ander te bewys, af (sien Markus 11:25).
Die tweede les wat Hy ons leer, gaan oor verhoudings. Sommige verhoudings sal vir jou meer pyn as plesier gee. Judas se verraad, so pynlik soos wat dit was, was instrumenteel om die geskiedenis se grootste gebeurtenis – die kruis – te weeg te bring. Beteken dit dat enigiemand en almal in jou lewe kan instap en doen wat hulle wil? Nee; hulle toegang tot jou word deur die skild van God se doel vir jou, beperk. Sommige mense bring vertroosting terwyl ander karakter bou en jy het beide nodig.
Die derde les wat Hy ons leer gaan oor wanneer om ‘ja’ te sê. ‘…Hy sluit en niemand kan dit weer oopmaak nie’ (Openbaring 3:7 NLV). Of God dus die deur oopmaak of dit sluit, vertrou Hom, volg Hom en sê: ‘Ja, Here,’ want Hy is lief vir jou en het net die beste vir jou in gedagte.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 10:11-20; Ps 72:1-11; Spr 11:19-21