Laat die vrede van God jou maatstaf wees

2022-07-27
Filippense 4:7 NLV

Jy kan vandag, ongeag jou omstandighede, vrede hê: ‘Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee…’ (2 Tessalonisense 3:16 NLV). Dink daaroor: God het geen bekommernisse of probleme nie, omdat Hy in beheer van alles is. Soos jy leer om Hom te vertrou, ‘…sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.’

Een Christelike skrywer stel dit so: ‘As jy in ‘n dorp woon wat voortdurend deur vyandelike strooptogte geteister word, sal een opsie wees dat die weermag troepe stuur om langs jou te woon. Hulle sal nie net beskerming bied tydens ‘n aanval nie, maar ook die vyand daarvan weerhou om toekomstige aanvalle te loods. Dis wat Filippense 4:7 impliseer. Die Heilige Gees het ‘n besettingsmag of weermag binne-in ons opgerig. God se besettingsmag van vrede sal in jou hart en gedagtes bly, jou beskerm en die wonde van vrees en bekommernis wat dreig om jou lewe in te val, genees. Dis die tipe vrede wat menslike begrip te bowe gaan, omdat dit Godgedrewe en Geesverbonde is.

‘…daar [is] nou vrede tussen God en ons op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons… toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind…’ (Romeine 5:1-2 NLV). Is daar areas in jou lewe waar jy ‘n tekort aan vrede het? Gee dit aan God oor. Die Psalmdigter het gesê: ‘…Hy belowe vrede aan sy volk en aan hulle wat getrou is…’ (Psalm 85:9 NLV).

Diane Eble merk op: ‘Wanneer God praat, is vrede die boodskap. Moet nooit tevrede wees met enige koers wat nie deur vrede gekenmerk word nie. Dit kom nie van God af nie.’

Sielskos: Hand 18-19; Matt 27:57-66; Ps 42:1-5; Spr 16:16