Jy het ander mense nodig

2023-05-19
Prediker 4:12 NLV

Ken Blanchard het gesê: ‘Niemand van ons is so slim soos almal van ons nie.’ Ons wil graag dink dat ons alles weet, maar as ons eerlik is, is elkeen van ons pynlik bewus van die feit dat ons blinde kolle en areas waarin ons onervare is, het. Jy het ervarings gehad wat ander mense nog nie gehad het nie; hulle het ervarings gehad wat jy nog nie gehad het nie; en wanneer julle byeenkom, kan julle julle gesamentlike ervarins en kennis inspan.

Jesus het sewentig dissipels in groepe van twee uitgestuur. Hoekom? 1) Vir ondersteuning. ‘En as iemand die een aanval, sal die twee weerstand bied…’ 2) Vir ontwikkeling. Die dramaturg Ben Jonson het gesê: ‘Hy wat slegs deur homself onderrig word, het ‘n dwaas vir ‘n meester.’ 3) Vir verantwoording. Die pastoor van ‘n groot kerk het die man wat saam met hom reis as volg aan sy gehoor voorgestel: ‘Ek is weerloos teen versoeking en hy beskerm my daarteen.’ Jy kon ‘n speld in die gehoor hoor val!

Soms het jy vertroosting nodig, ander kere het jy korreksie nodig. Dit verg nederigheid om dit te erken en emosionele sekuriteit om dit in plek te stel. Totdat jy besef dat ander mense jou kan help om ‘n voller en beter lewe te lei, bind jy jou eie hande vas en beperk jy jou potensiaal. Solank as wat jou doel is om bo ander uit te styg, eerder as om saam met hulle te werk, sal jou toekoms gekortwiek word.

Goeie denkers verstaan die krag van gedeelde denke. Hulle verstaan dat wanneer hulle die gedagtes en idees van ander mense waardeer, hulle die saamgestelde resultate van gedeelde denke ontvang en meer bereik as wat hulle ooit op hul eie sou kon. Die waarheid is dat jy ander mense nodig het.

Sielskos: Titus 1-3; Matt 10:32-42; Ps 75; Spr 11:23