Is jy sleg behandel?

2019-05-31
Lukas 6:23 DB

Wanneer jy sleg behandel word, vra jouself altyd af: ‘Wat kan ek uit hierdie ervaring leer? Hoe reageer ek op ‘n Christelike manier? Is ek gewillig om my foute te erken? Hoe kan ek wyser word en soortgelyke ervarings in die toekoms beter hanteer?’ Wanneer alles gedoen en gesê is, is die sleutel tot ‘n misverstand vergifnis. Vergifnis beteken nie noodwending dat jy met die persoon wat jou mishandel het saamstem of ‘n nabye verhouding met hom wil hê nie. Dit beteken egter dat jy dit laat gaan. Moenie die handvatsel laat uitsteek wanneer jy die strydbyl begrawe nie! Met ander woorde, moenie net vergewe nie – kies om te vergeet! Paulus sê: ‘Soos ‘n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry… So behoort volwasse Christene oor dinge te dink… laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly’ (Filippense 3:14-16 DB). Hoe lyk die Christelike pad wat ons moet stap? Jesus sê vir ons: ‘Julle is gelukkig as ander mense julle haat, julle verstoot en julle sleg behandel. As hulle julle beledig en julle goeie naam onder hulle voete vertrap omdat julle my volgelinge is, moet julle baie bly wees. Spring dan op en dans rond van vreugde, want daar wag ‘n groot beloning op julle in God se nuwe wêreld. Wanneer mense julle slegsê, is julle in baie goeie geselskap: God se boodskappers is nog altyd so behandel’ (Lukas 6:22-23 DB). As jy op hierdie manier lewe, neem jy ook jou mag terug deur te weier dat die ander persoon jou bui en jou lewensuitkyk dikteer, en jy behou jou vreugde.

Sielskos: Op 10-14; Mark 10:35-52; Ps 4; Pro 12:25