Hou jou geestelike bril skoon
2017-10-28Jesaja 52:11 NLV
Eendag het ‘n man gegaan om sy windskerm by ‘n vulstasie te laat was. Toe die petroljoggie klaar is, het die man gesê, ‘Jy het slegte werk gedoen. Doen dit oor – dis so vuil soos dit was toe jy begin het.’ Die joggie het dit weer afgevee. Die man het daarna gekyk en in frustrasie gesê, ‘Die venster het glad nie verander nie.’ Die man se vrou klim toe uit die kar, haal sy bril af, maak dit skoon en gee dit vir hom terug. Die petroljoggie het sy werk reg gedoen. Die man was al die tyd self die probleem. Geestelik gesproke, bepaal die bril waar deur jy kyk wat jy sien en hoe jy dit sien. Wanneer jy deur die lens van jaloesie en afguns kyk, raak jy gegrief oor ander mense se seëninge. As jy deur die lens van veroordeling kyk, praat en tree jy sonder genade en medelye op. Wanneer jy deur die lens van vrees en ongeloof kyk, beperk jy God en verbeur jy dit wat Hy vir jou kan doen. Wanneer jy deur die lens van selfsug kyk, plaas jy jouself eerste en ly jou geliefdes daaronder. Wanneer jy deur die lens van negatiwiteit en sinisme kyk, begin mense jou vermy omdat dit nie lekker is om by jou te wees nie. ‘…sorg dat julle rein is, julle wat die tempelgereedskap van die Here dra.’ Net soos jy jou bril moet skoonmaak van die onsuiwerhede rondom jou, so moet jy dieselfde met jou hart en gedagtes doen. Hoe gebeur dit? Jesus het gesê, ‘Julle is klaar skoon. Wat Ek vir julle gesê het, het julle skoongemaak’ (Johannes 15:3 ABA). Deur gebed en daaglikse Bybelstudie, behou jy die regte perspektief op die lewe.
Sielskos: Jes 30-33; Joh 6:35-51; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12