Harde werk en integriteit

2019-05-30
Spreuke 12:11 NLV

In sy boek, The Finishing Touch, vertel Chuck Swindoll van ‘n man wat ‘n groot indruk op hom gemaak het: ‘Met ‘n glimlag en ‘n glinster in sy oog, het hy sy hand uitgesteek. Dit was ‘n hand waarop jy ‘n vuurhoutjie kon aansteek, deur dekades se harde werk verhard. ‘Jy lyk soos ‘n man wat die lewe geniet. Wat doen jy vir ‘n lewe?’ het ek gevra. ‘Ek? Wel, ek is ‘n boer in die Midde-Westelike deel van Amerika.’ Swindoll het vir hom gevra: ‘Wat het jy verlede week gedoen?’ Hy het geantwoord: ‘Verlede week het ek negentig duisend gerwe koring klaar geoes.’ Ek het uitgeblaker: ‘Negentig duisend! Hoe oud is jy, my vriend?’ Hy het glad nie beledig deur my vraag gelyk nie. ‘Oor ‘n paar maande word ek negentig.’ Hy het weer gelag terwyl ek my kop geskud het. Hy het deur vier oorloĆ«, die Groot Depressie, sestien presidente, negentig winters en wie weet hoeveel persoonlike swaarkry geleef en steeds ‘n groot lewenslus gehad. Ek moes hom oor die geheim tot sy lang en produktiewe lewe uitvra. ‘Harde werk en integriteit,’ was sy vinnige antwoord. Toe ons mekaar groet, het hy oor sy skouer gekyk en bygevoeg: ‘Moet dit nie stadig vat nie, jongman. Hou dit vol!’ Harde werk en integriteit! Daardie twee kwaliteite loop hand-aan-hand en is die kern van ‘n goeie lewe. Wanneer jy hulle getrou uitoefen, ervaar jy die hoogste vlak van vreugde en lewensvervulling.’ Die Bybel stel dit so: ‘Wie sy grond bewerk, het volop om te eet. Wie met nuttelose dinge besig is, het nie verstand nie.’

Sielskos: Luk 24:50-53; Hand 1:1-11; Ef 4:7-10