‘n Gesonde middeweg
2022-10-301 Petrus 3:11 NLV
Lees die volgende Skrifgedeeltes: ‘Doen julle bes om in vrede met almal te lewe…’ (Hebreërs 12:14 NLV). ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam… Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:17-18 NLV). ‘As jy die lewe wil liefhê en goeie dae wil beleef, moet jy jou tong weghou van kwaadpraat en jou lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af, ja, doen wat goed is. Soek vrede, ja, jaag dit na!’ (1 Petrus 3:10-11 NLV).
Om ‘n gesonde middeweg te kry beteken nie dat jy dit wat jy waarlik glo of wie jy waarlik is, moet prysgee nie. Dit beteken nie dat jy kortpaaie moet neem of met tweede-beste tevrede moet wees omdat jy ongeduldig of vreesbevange is nie. Nee, ‘n gesonde middeweg gaan daaroor om ‘n wen-wen situasie vir beide partye te onderhandel. Dit beteken dat jy probeer om die situasie of probleem deur die ander persoon se oë te sien.
Om ‘n gesonde middeweg te probeer kry, is die karaktereienskap van gesonde verhoudings. Dit is aanloklik om iemand as ‘verkeerd’ of ‘selfsugtig’ af te skryf en te weier om enige ander perspektief behalwe jou eie te sien. Dis egter dan wat dit noodsaaklik is om jou trots agter te laat, uit die rol wat jy speel te tree en te probeer verstaan waar die ander persoon vandaan kom.
Was daar nie al tye wat jyself geduld, liefde en begrip nodig gehad het nie? Ja? Dan moet jy gewillig wees om dieselfde genade aan ander mense te bewys. Soms is ‘n bietjie gee-en-neem al wat nodig is om die verhouding te laat werk en dinge vir almal betrokke beter te laat uitdraai.
Sielskos: 2 Kon 6:1-7; Matt 14:22-33